Michael plant ’n saadjie van hoop Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 18 September 2026 12:00
Untitled Document

Daar is mense wie se lewens deur een oomblik verander word. Vir Michael Joubert, stigter en hoof uitvoerende beampte van Seed of Life Collective, was dit ’n stil oomblik op die strand van Plettenbergbaai ná 26 jaar van verslawing en haweloosheid.

Drie uur daardie oggend het hy ’n belofte gemaak: as God hom sou bevry, sou hy sy lewe gebruik om ander uit dieselfde put te help. Daardie belofte is vandag ’n werklikheid met ’n adres: Seed of Life Huis Cullinan.

Seed of Life Collective is met een doel gestig: om vir mense wat deur verslawing, haweloosheid en gebrokenheid gaan, ’n plek te bied waar hulle waardigheid, struktuur en geestelike herstel kan vind.


Michael Joubert
Foto’s: Verskaf

“Ons inwoners kom uit alle lewenswandele. Mense in die greep van dwelm- en alkoholverslawing. Mense wat trauma dra wat te swaar is om alleen te dra. Mense wat finansiële nood beleef so erg dat hulle nêrens meer kon draai nie,” sê Michael.

Huis Cullinan is nie ’n kliniese instelling nie; dit is ’n huis, gebou deur iemand wat self elke treë van die pad geloop het en presies weet hoe dit voel om as verlore gesien te word. Ook hoeveel dit beteken wanneer iemand jou steeds as waardevol beskou.

Die huis is op ’n 8,5 hektaar eiendom geleë en was in ’n toestand toe Michael daar aangekom het. Elke vensterhandvatsel is uitgeruk. Elke kraan, wasbak en stortkop was weg. Loodgieterswerk is uit die mure geskeur. Elektriese bedrading is uitgetrek. Ligte, skakelaars, muurproppe is alles gesteel. Die koperdraad is weg en die transformator gesteel. Die boorgatpype is van die grond af tot by die geboue uitgehaal. Die watertenks was stukkend, die heinings afgebreek en elke slot en deur is oopgebreek. In elke gebou was daar kniediep hope vuilgoed.


Huis Cullinan

Vandag word 18 inwoners daar gehuisves wat deur die program van rehabilitasie, geestelike begeleiding en herstel van waardigheid gaan. Elke inwoner kry ’n bed, gereelde maaltye, geestelike leiding en, wat vir baie van hulle die eerste keer in jare is, iemand wat in hulle glo.

Die dag begin met gebed, gevolg deur werksverantwoordelikhede: van die versorging van diere tot tuinmaak en algemene onderhoud. Inwoners neem ook aan gemeenskapsdiens deel, soos die werk wat onlangs by Vollies Kerk gedoen is, en dra tot kleinskaalse inkomste-genererende projekte by. Dit vorm deel van ’n filosofie waar herstel nie net oor onttrekking gaan nie, maar oor die herbou van ’n lewe met ’n doel.

Die aanvraag om plek by Huis Cullinan oorskry reeds wat die fasiliteite kan huisves. ’n Fondsinsamelingsveldtog, Projek Mosterdsaad, is geloods om die nodige kapitaal in te samel om die projek uit te brei, sodat meer mense van die strate af gebring kan word na ’n plek van veiligheid, struktuur en hoop. “Ons wil graag ’n plaas van ons eie aanskaf,” sê Michael.


Kniediep hope vuilgoed moes aanvanklik opgeruim word

Lesers wat ’n bydrae wil lewer, kan die veldtog besoek by:
www.backabuddy.co.za/campaign/project-mustard-seed-cullinan. Nog ’n dringende uitdaging is dat Suzi, die huis se enigste voertuig, se enjin vervang moet word. Suzi is die skakel tussen inwoners en mediese afsprake, werksgeleenthede, kerkdienste en noodsaaklike voorraadaankope. Jy kan ’n bydrae lewer by: www.backabuddy.co.za/campaign/help-ons-om-suzi-weer-op-die-pad-te-kry.

Om betrokke te raak, kontak Michael by 063-905-4665 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Besoek www.seedoflifenpc.co.za of facebook.com/SeedOfLifeCullinan.

 

© 2025 Die/The Bronberger