|
In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.
Die meeste van ons kennis oor geregte wat in die laat 1700’s aan die Kaapse binneland voorgesit is, kom uit die pen van ’n spitsvondige vrou wat haar man op ’n ossewatrek vergesel het. Omdat hulle aankoms op plase meestal onbeplan was, is haar beskrywings van die disse wat voorgesit is van onskatbare waarde.
 Tradisionele Kaapse styl van visbraai Bron: oscar.ofm.co.za
Lady Anne Barnard se dagboeke, briewe, aantekeninge en die sketse wat sy gemaak het, is in 1901 deur Dorothea Fairbridge onder die titel ‘South Africa a century ago’, uitgegee. Lady Anne het ook olieverfskilderye geskilder en kort voor haar dood op 6 Mei 1825 het dit bekend geword dat sy die skryfster van die bekende ballade, ‘Auld Robin Gray’, was.
Die Van Riebeeck Genootskap het ‘The Cape journals of lady Anne Barnard, 1797–1798’ in 1994 in drie volumes gepubliseer. Dit werp lig op die interessante huishoudelike besonderhede wat manlike skrywers geïgnoreer het.
 Die sous voor die geurmiddels bygevoeg word Bron: wikimedia.org
Anne Barnard is op 12 Desember 1750 in Skotland gebore as die oudste dogter van James Lindsay, die vyfde graaf van Balcarres, en Anne Dalrymple. Verskeie vryers het om die jong Anne se hand meegeding, maar sy het eers in 1793, op die ouderdom van 43 jaar, getrou. Haar man, Andrew Barnard, was 12 jaar jonger as sy. Hy was die verarmde seun van die biskop van Limerick en lady Anne het haar politieke kontakte gebruik om vir hom ’n werk te kry.
Andrew is ná die Britse besetting van die Kaap as die nuwe goewerneur, lord George Macartney, se koloniale sekretaris aangestel. Lord Macartney se vrou het in Engeland agtergebly, en lady Anne het as sy amptelike gasvrou opgetree. So het sy en Andrew die grootste blyplek in die Kasteel gekry.
 Lady Anne Barnard Bron: Wikipedia
Hester Claassens skryf in ‘Die geskiedenis van Boerekos’ dat lady Anne se eerste kennismaking met smoorsnoek was nadat hulle Tafelberg in 1797 uitgeklim het. Die snoek is saam met kruie en koljander in ’n pan met skaapstertvet gesmoor.
Lady Ann en Andrew se ossewatrek die binneland in het hulle in 1778 eers van die Kaap na Stellenbosch geneem, waar sy ’n ete aan huis van Benjamin Weigt op Stellenbosch beskryf en vertel van die lekker plaaslik gekweekte rys, wat nie die muwwe smaak van ingevoerde rys gehad het nie.
 Andrew Barnard Bron: Wikipedia (’n portret deur T Lawrence)
Toe hulle oor die steil bergpasse deur die Hottentots Hollandberge is, het sy ’n liriese beskrywing van die rugstringpastei, wat hulle op die plaas van Jacob Joubert geëet het, gegee. Hulle is deur die gebiede wat ons vandag ken as Hermanus, De Kelders, Stanford, Caledon, Genadendal, Swellendam en daarvandaan deur die Breederiviervallei en Vier-en-twintig-riviere (Porterville) na Saldanha voor hulle terug is Kaapstad toe.
Lady Anne het met entoesiasme vertel van die spitgebraaide vis wat die Van Reenens in die Breederiviervallei vir hulle voorgesit het. Die vis is met ’n sous wat van botter, suurlemoensap, sojasous en cayennepeper gemaak is, bedien.
 Visbraai by die mond van die Breederivier: ‘The Cape journals of lady Anne Barnard, 1797–1798’ Bron: https://hipsa.org.za
Hester Claassens skryf dat dit een van die min gevalle is waar die gebruik van sojasous in ’n resep uit dié tydperk voorkom. Sy sê dat kookboekskrywer, Hildagonda Duckitt, ’n soortgelyke resep in ‘Hilda’s where is it of recipes’ van 1891 gehad het. Dit het egter bestaan uit room wat met ’n teelepel meel gekook is. Daarby is ansjovissmeer, ’n bietjie rissie-asyn, ’n knippie cayennepeper en ’n bietjie sojasous gevoeg.
Ons bied ’n resep vir ’n klassieke tradisionele Kaapse sous uit Hildagonda Duckitt se bekende resepte-erfenis.
 Die ossewa vertrek: ‘The Cape journals of lady Anne Barnard, 1797–1798’ Bron: https://hipsa.org.za
Bestanddele: ½ koppie room / 1 teelepel meel / 1 teelepel ansjovissmeer / ’n bietjie rissie-asyn (na smaak) / ’n knippie cayennepeper / ’n bietjie sojasous (na smaak).
Metode: Meng die halwe koppie room en die teelepel meel deeglik in ’n klein kastrolletjie sodat daar geen klonte is nie. Bring dit tot kookpunt en laat dit vir 3 tot 4 minute liggies prut sodat die meel gaar word en die sous verdik.
Geur: Haal die sous van die hitte af en roer die ansjovissmeer, rissie-asyn, cayennepeper en sojasous by tot dit goed gemeng en glad is.
Braai: Vir spitbraai of roosterbraai word die vis van die rugkant af oopgevlek. Die binnegoed word verwyder, maar die kop en stert word dikwels aangelaat om die vis op die spit te balanseer.
Hildagonda Duckitt het geglo vars seevis moet nooit in te veel water gewas word nie, aangesien dit die natuurlike geur wegspoel. Dit moes slegs met ’n skoon, growwe soutdoek afgevee word om bloed of skubbe te verwyder.
Die oopgevlekte vis word mildelik met growwe sout ingevryf en vir minstens 20 tot 30 minute laat staan voor dit hoog bo matige, konstante kole geplaas word.
 ‘The letters of lady Anne Barnard’ Bron: quaggabooks.co.za
|