Skuil daar dalk iets onheilspellend in die water? Print E-mail
News - Artikels
Saturday, 17 October 2026 09:00
Untitled Document

Deesdae loop legendes weer in ons kontrei oor die waterslang – geen gewone slang nie, maar ’n mitologiese wese met besondere magte.

In April 2003 het die 84-jarige Francois Annandale vir ons die verhaal van Nkwe-plesieroord vertel. Hy het onder andere gesê dat daar al eeue lank ’n storie onder die Ndebeles loop – een van ’n reuse naamlose slang wat diep onder die water in Nkwe se swemgat gebly het. En volgens hedendaagse afstammeling van dié Ndebeles skuil hy vandag nog in dié “bykans bodemlose” swemgat.

Oor die jare was daar by dié swemgat, soos by talle ander swemplekke, verdrinkings. ’n Opspraakwekkende geval was die eerstejaar verpleegstudent van Garsfontein wat op 27 Februarie 2019 by Nkwe verdrink het. Sy het foto’s naby die rotspoel geneem toe haar selfoon uit haar hande geglip het. Sy het probeer om die foon in die hande te kry toe sy in die water geval het.

Haar vriendin kon haar nie uit die water trek nie en het gesê dit was asof iets haar van onder af die water ingetrek het. Haar suster het gesê dat die toestand van die oorledene se liggaam ’n skok was. Iets moes haar, volgens hulle, ernstig beseer het.


Francois Annandale van Nkwe in 2003

Op ‘Bekkie van Bronkhorstspruit’ se Facebook-blad was daar onlangs ’n lewendige bespreking oor dié dorp se ‘waterslang’. Daar is glo ’n spesifieke draai in die Bronkhorstspruitrivier, plaaslike bekend as die draai, wat al generasies lank ’n aardige reputasie het.

Mense uit plaaslike gemeenskappe moes deur dié draai in die rivier loop om in die dorp uit te kom en hulle sê dat daar ’n waterslang bly. Ander praat van ’n vreemde gevoel wat op ’n mens neerdaal op dié spesifieke plek, van flikkerende ligte in die rivier ná donker en van pragtige blomme wat daar dryf. Die oomblik as jy nader gaan, dryf die blomme glo weg, so asof hulle jou dieper die water in wil lok. Verskeie verdrinkings is oor die jare in dié rivier aangemeld.

Kan die spookagtigheid iets te doen het met die mense wat op 20 Desember 1880 in die Eerste Vryheidsoorlog se Slag van Bronkhorstspruit daar naby gesneuwel het? Hang hulle teenwoordigheid nog daar rond?


Grootslang
Bron: Myth & Folklore Wiki

Iselle Vermaak sê op ‘Bekkie van Bronkhorstspruit’ se Facebook-blad dat sy ’n vriendin in Zithobeni het wat een keer op pad terug van die werk af die rivier moes oorsteek. Sy het ’n aardige gevoel gekry en toe sy omkyk het daar ’n wit vrou agter haar gestaan. Toe sy weer omkyk, het die vrou verdwyn. Dit was die laaste keer wat haar vriendin daardie pad gestap het.

Die meeste mense sê dat die rivier grootliks mans ‘vat’ en dat niemand nog gehoor het van ’n vrou wat skielik sink en dan met ’n bloeiende neus en ’n gat in die kop weer opkom nie.

Zan Rose het gesê hy sal nooit vergeet hoe drie seuns op 16 Desember 2009 daar verdrink het nie. Hulle het dié seuns eers na ’n vier-ure-lange soektog gevind. Boz Ngawe het gesê dat sy tannie in 2012 ’n lid van hulle gemeente begrawe het en dat hy ‘gevat’ is deur ’n Indiaan wat in die water gestaan het waar die mense van Zithobeni die rivier moet oorsteek.


Die draai in die Bronkhorstspruitrivier
Bron: Bekkie van Bronkhorstspruit

Marius Britz het vertel dat hy al die jare van die rotse afgespring het en “dan is jy bang, want jy hoor onder die water: ga-haha”. Mapule Nkosi sê dat sy as jong meisie daar geswem het en ’n huilende baba langs haar in die rivier gesien het.

Waterslang-stories is nie tot ons kontrei beperk nie. Die Grootslang, ’n kruising tussen ’n olifant en ’n luislang, is ’n mitiese wese wat in ’n grot genaamd Wondergat in die Richtersveld woon. Volgens legende is dié grot vol diamante.

Dan is daar ook Inkanyamba, ’n reuseslang met ’n perd se kop, wat in die diep poel onder die Howick-waterval in KwaZulu-Natal woon en Mamlambo, ’n waterslang-wese wat in donderstorms uitkom en ’n groen lig uitstraal.


’n Waterpoel by Nkwe 

 

© 2025 Die/The Bronberger