As ons ?hulle? tog net kan leer ... PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 20 February 2008 00:00

“Produktiwiteit,” sê ou Vaatjie,“is die antwoord op die land se probleme. Al die land se probleme.” Hy kreun sy aansienlike lyf terug in die leunstoel en trek behaaglik aan ’n diep teug uit die beker vatbier in sy hand.

“As ons tog net die mense kan leer hoe om meer produktief te wees,” sê Vaatjie en hy beduie met sy een piesangvinger so hemelwaarts gerig vir Albert om vir hom nog enetjie nader te bring. Dit laat hom dink, sê Gert Mossie, aan die regering se jongste poging om die staatsdiens meer produktief te kry. Hulle het mos ‘n produktiwiteitsooreenkoms uitgestuur wat elke departementshoof in die staatsdiens moet onderteken.

Die ou of ou-in wat die ooreenkoms teken, onderneem dan om ’n hengse klomp goed te doen en te laat doen sodat die staatsdiens meer produktief kan word, sê Gert Mossie.

Ja, hy het gehoor van dié ding, sê oom Oupa. Anderdag toe hy in sy bakkie terugry van die viswaters af, toe praat hulle daarvan oor die draadloos. Dit was terloops nie ’n baie produktiewe visvangtrippie nie, sê oom Oupa, net ’n klein babertjie en ’n babelaas gevang. Maar hy hoor toe op die draadloos hoe iemand met die minister vir die staatsdiens oor dié produktiewe briefgedoente praat. Hy dink haar naam is Lazer Kettie of iets, sê die oom.

Ewenwel, sê oom Oupa, hulle vra toe vir die minister hoe dinge vorder met die brief wat almal moet teken en sy sê nee, dit gaan glad nie te goed nie. Sy sê die brief is nou al meer as drie maande uit en 57 persent van die staatsdiensbase het dit nog nie geteken nie. Glo meer as 7 000 van hulle wat nog nie geteken het nie.

Toe wil die draadloosmannetjie weet of staatsdiensbase dan ’n probleem het met die produktiwiteitsooreenkoms- dinges en sy sê nee, glad nie, sê oom Oupa. Sy sê, hulle sê, hulle het nog net nie daarby uitgekom nie.

“Go figure,” sê ou Vaatjie, wat heeltemal te veel TV kyk. Hy kan ook mos so vreeslik dink, sê Vinnige Fanie van daar anderkant in die hoek af en almal in die kuiergat weet hulle sal nou geduldig moet wees as hulle ou Vinnige Fanie wil uitluister. Nie dat hy so baie praat nie. Hy praat net so stadig.

Ja, sê Vinnige Fanie, hy dink ook so oor alles. Oor produktiwiteit en oor allerhande ander goed ook. Dan kan hy net so in sy stoel gaan sit en dan dink hy sommer vir ’n uur of meer net oor goed. Maar partykeer is hy moeg. En as hy so moeg is wil hy sommer net so in sy stoel gaan sit en sit. Dan dink hy aan niks nie, sê Fanie, dan sit hy net.

En weet julle hoe snaaks is dit, noudat ek daaraan dink? Vinnige Fanie wag geduldig dat die ander ouens in die kuiergat sê hulle weet nie hoe snaaks dit is nie en wat dit is wat so snaaks is nie, voor hy aangaan:

“Elke keer as ek nou so moeg is, nè, en ek gaan sit om te sit en nie om te dink nie, nè? Dan elke keer as ek net so rukkie gesit het, dan kom my vrou en dan vra sy: Waaraan dink jy nou?”

“Jaaa,” sug ou Vaatjie weer, “as ons hulle tog net kan leer hoe om produktief te wees . . .”

 

© 2019 Die/The Bronberger