Dirk se moord ruk polisieman PDF Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 24 June 2010 18:10
Untitled Document

Wynand van der Merwe, adjudant offisier, SAPD Boschkop skryf:
Ek het nou net die Mei-uitgawe van Die Bronberger gelees en is briesend kwaad waar ek hier sit. “Die gemeenskap is nie tevrede met die ondersoek nie” en “hulle was verbaas toe die polisie teen een uur vir hulle sê dat hulle maar kan skoonmaak’. En dat die polisie eers na 08:20 opgedaag het. Eerstens wil ek sê ek is gatvol vir al ons “kenners”. Kom doen dan my werk as jy sê ons kan nie, anders hou jou bek. Ek was aan diens die dag en het die oggend ’n oproep van adjudant offisier Nolte ontvang oor die voorval, waarop ek gereageer het. Hy het die inligting ook telefonies gekry.

Die trio taakspan is dadelik laat weet, asook die klagte-voertuig wat uit Rietfontein deurgekom het. Dit is alles per telefoon en SAPD radio gedoen. Geen klagte is volgens my kennis by radiobeheer aangegee nie. Ek was op die toneel saam met die lede van die trio taakspan. Die toneel is afgesper om leidrade te bewaar. Fotograwe, forensiese- en vingerafdruk- spesialiste is ontbied. Met my ondersoek in die erf is daar sekere ander leidrade gevind en die hondemeester is ontbied. Na ek met die buite-erf klaar was het ek die trio taakspan binne in die huis bygestaan, aangesien ek vroeër ’n speurder was en dus vertroud is met die tipe ondersoeke. Daar is oral vingerafdrukke geneem waar die verdagtes moontlik kon gevat het. DNA monsters is van alle bloed geneem. Foto’s is geneem van alles.

Ek het ’n projektielgat in een kas opgemerk en die trajek gevolg. Nou kom ons terug na die toneel: Dirk het vreeslik terug geveg. Die kamer was soos ’n plek wat ’n orkaan getref het, net soos in die artikel genoem is. Ek persoonlik het op my hande en knieë vir ’n uur en ’n half na doppies en projektielpunte gesoek. Ek moes met my hande deur sy nog warm bloed vryf. My uniform was besmeer van Dirk se bloed toe ek klaar was. Ek het niks gevind nie. So as dit slegte werk is dan is dit seker. Maar ek weet in my hart ek het my beste gedoen wat ek kon. Die berig sê self twee doppies is eers ’n paar dae later gevind.

Wanneer ons as die Suid-Afrikaanse polisie daai blou uniform aantrek word ons nie Superman nie, het nie x-straal visie of super reuk nie en is nie alwetend nie. O ja, ook nie “bullet proof” nie en nog minder sielloos. Hoekom die forensiese spesialis nie die skoenveters gevat het nie, kan ek nie sê nie. Wat ek wel kan sê is dat ek en die twee lede van die trio taakspan wat daar was ons beste gedoen het.

Na die toneel verlaat was, het ek met een van die vriende of familie gepraat en aangebied om ’n nommer te gee van ’n maatskappy wat skoonmaakdienste doen vir sulke gevalle (Biohazard). Ek het dit slegs gedoen om die familie en vriende die smart te spaar. Die aanbod is in elk geval nie aanvaar nie.

En nou kan ek ook maar vir julle sê, die moord het my net so geruk en seergemaak. Vra my vrou. Sy het my die aand gesien met Dirk se bloed op my.

So, aan al ons klagatte en vreeslike rusbank-ondersoek en misdaadtoneel- kenners, kom wys my hoe word dit nou eindelik gedoen, asseblief, of soos ek gesê het, hou jou bek as jy nie weet waarvan jy praat nie.

Julle kan die brief net so plaas as julle kans sien. Dankie.

 

© 2019 Die/The Bronberger