Motorfietse ry nie brulpaddas dood nie PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 18 March 2008 00:00
Untitled Document

Gerrit de Lange skryf:

Ek was baie teleurgestel om te lees hoe daar beskuldigings rond gegooi word van “motorfietsryers” wat verwoesting saai deur “wederregtelik” by die sandgate te ry en die bedreigde brulpaddas doodry.

Ons motorfietsryers geniet ons sport en deel van die genot is die vermoë om vrylik in die natuur te ry. Die meeste van ons voel ook sterk oor ons omgewing. In so ’n mate dat ek nie eers kommersiële gif in my huis toelaat nie. Die sandgate wat so verwoes word deur die ryers: Eerstens, volgens my kennis behoort dit aan Delf Sand en ons ry nie wederregtelik daar nie.

Tweedens moes daar ook toestemming verkry word deur die eienaar van die sandgate om te myn in die gebied wat gepaard moes gaan met ’n omgewingsimpakstudie. Die “verwoesting” wat deur ’n myn gesaai word is heelwat meer as wat ’n twee-duim rubberwiel kan doen. In die twee jaar wat ek al daar ry het die toestand van die sandgate presies dieselfde gebly.

Daar is nie eers groter erosie-slote wat oor die tydperk gevorm het nie. Ek faal om te sien waar die verwoesting gesaai is deur motorfietsryers. In dié tyd het ek nog nooit afgekom op enige diertjies wat deur motorfietsryers dood gery is nie, maar ek het wel al heelwat paddas en krimpvarkies dood gesien in elektriese heinings.

Die brulpaddas, soos tereg opgemerk word deur die skrywer, maak ook net sy verskyning twee keer per jaar. Hy verkies klam grond en verskyn gewoonlik in die aand. Ek ken nie motorfietsryers wat in die aand ry nie en die sandgate is definitief nie die ideale habitat vir die brulpaddas nie.

Dan het die motorfietsryers al heelwat kere hulle nut gewys by die beheer en voorkoming van misdaad in die omgewing. Ek kan die skrywer verseker daar is heelwat meer motorfietsryers wat al die skelm paadjies in die omgewing ken as inwoners wat al jare hier woon.

Net al die strikke wat ek al opgetel en verwyder het, gesteelde goedere wat in die veld gekry is en aan polisie oorhandig is, onder andere naby die skrywer se gevreesde sandgate. Om nie te praat van die inspuiting in die plaaslike ekonomie nie, byvoorbeeld die Blikbord wat gereeld ons geldjies inruil vir ’n koue een.

Die skrywer of inwoners van die gebied moet miskien êrens anders gaan soek vir die skuldiges wat die paddas doodry. Ek wil ook net onder die lesers se aandag bring dat daar ’n verskil is tussen motorfietsryers en ‘quad’ of vierwielryers. Die spoor wat die vierwiel voertuie ry is omtrent nege keer breër as ’n motorfiets se voetspoor. Die kans om iets te tref is dus heelwat groter. Die ‘quads’ kan ook nie so maklik uitswaai nie, dus is die kans om iets raak te ry baie groter.

Die ‘quad’-ryers is ook meer genyg om op een plek soos die sandgate te vertoef en daar rond te ry. Moet asseblief nie ons motorfietsryers en die ‘quad’-ryers oor dieselfde kam skeer nie. Soos in elke groep of gemeenskap sal daar altyd ’n probleemgeval wees. Indien die lesers ’n problem het met sekere motorfietsryers, maak ’n nota van die ryer se klere en sy motorfiets of neem ’n foto en praat met iemand wat motorfiets ry.

By die Riverside Mixer is die kanse goed dat die ryer uitgeken sal word en die situasie aangespreek kan word. Ons is meestal ’n self-regulerende groep en probeer so ver as moontlik die inwoners nie ontstel nie, sodat ons nog lank van die ry-gebiede gebruik kan maak.

Indien daar iets is wat die inwoners wil voorstel of noem voel asseblief vry om my te kontak by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it en so kan ons saamwerk en almal gelukkig hou.

 

© 2019 Die/The Bronberger