Sonder ?n ?baaik? of leerklere Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 22 July 2010 11:09
Untitled Document

Sonder ’n ‘baaik’ of leerklere

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

Bikers Breakfast’ het in die laaste jare groot besigheid in Bronbergwêreld geword. Oral langs die gebied se beter (teer) paaie sal jy kuierplekke sien wat op kleurvolle borde adverteer dat hulle oop is vir ouens en vrouens op motorfietse om te kom ontbyt geniet.

En veral op Sondae is die parkeerplekke gepak van die ysterperde wat saam met hulle ruiters uit is op ’n ‘breakfast run’. Jy kan net wonder waar al die motorfietse vandaan kom.

Kuierplekke in en om Cullinan het duidelik die potensiaal van baaikersbrekvis aangegryp. Op sommige sonnige Sondae wemel die dorp letterlik van die brulfietse. Cullinan het die voordeel dat dit ’n gerieflike ‘run’ uit die groot stede is, en dat daar stilhou-en-kuier-plekke te kies en te keur is.


Die lekker kuierstoep by Cullinan Country Kitchen

Vir ’n lekker groot ontbyt wat iemand anders gemaak het, is ek nogal baie partydig. Daarom was dit vir my ’n deurbraak toe ek op ’n dag besef jy hoef nie ’n baaik te hê om ’n baaikersbrekvis te loop eet nie. En sedertdien het ek en Metgesel, sonder baaik of leerklere, by die kuierpunte van ’n hele paar ‘breakfast runs’ ingeval.

Deur die bank word buffet ontbyte voorgesit en bykans deur die bank is die prys vir ’n baie groot selfhelp-ontbyt baie billik. Só was dit dan ook onlangs by die Cullinan Country Kitchen.

Jy ry ’n entjie uit Cullinan uit met die Bronkhorstspruitpad langs. Op die padskouer sal jy ’n groot van-yster-gesweiste motorfiets sien en daar draai jy in en soek parkeerplek tussen die baaiks. Oorgenoeg parkeerplek, is daar terloops.

Op Cullinan Country Kitchen se ruim stoep kry jy vir jou koffie en soek ’n sitplek waar die wintersonnetjie jou kan raakskyn. Die meeste baaikers het al klaar geëet en sit gemoedelik in groepies en klets. Toe ek klein was, was ’n ou op ’n motorfiets ’n paar goed: Hy was rof en wild, hy was ’n breker met ’n fietsketting en hy was Ingels. Nie die soort ou wat iemand saam met sy dogter sal wil sien nie.


Die ingang langs die Bronkhorstspruitpad

Die mense wat saam met ons op Country Kitchen se stoep sit, is op die oog af beskaafd, vriendelik en die meeste is Afrikaans. Só was dit ook op al die ander plekke waar ons saam gebaaikerbrekvis het.

Ons geniet die eerste koppie koffie en gaan betaal dan by die netjiese, volledig toegeruste kroeg. Dis R50 elk en jy kry ’n waster (wat is ’n ‘washer’ in Afrikaans?) om by die opskepplek te wys voor jy jou bord kry. ’n Groot bord.

Country Kitchen se ontbyt bied op dié dag ’n keuse van roereiers, spek, pap, sheba, worsies, gebakte boontjies en gegeurde maalvleis. Ek kies ’n iets van alles met roosterbrood en konfyt vir nagereg. Een van die motorfietsers kla oor daar nie varsgebakte brood is soos gewoonlik nie. Ons hoor later by die bakster dat die brood vandag ‘geflop’ het. Die maalvleis is ’n groot sukses en die roereiers minder suksesvol. Die res is soos ’n ou sou verwag dit moet wees.

Metgesel het ’n beperkte keuse. Sy is mos nie partydig vir rooivleis nie. By ander plekke was die verskeidenheid al vir haar groter, met goed soos braaitamatie, sampioene, kaas, skelvis en eiervrug. Maar Metgesel laai haar bord met pap en sous en ’n bietjie eier en is gaande oor die tamatie-en-uie sousie.

 

© 2020 Die/The Bronberger