Saamstaan in Mooiplaats Print E-mail
News - Briewe
Wednesday, 18 August 2010 02:22
Untitled Document

Anita Boezaart van Mooiplaats skryf:
Dit is vir my ’n voorreg om te bly in ons omgewing. Die ondersteuning wat ek hier sien in die gemeenskap is prysenswaardig.

Op ’n vergadering so twee maande gelede het ek genoem dat ek onveilig voel om in ons “panhandle” af te ry met plotte aan die een kant en ’n oop stuk grond aan die ander kant. Ons plot is die laaste een onder aan die rivier en dit voel soos om in ’n drukgang te ry, met miskien ’n verrassing wat wag. Gelukkig het dit nog nooit gebeur nie, maar ek het altyd onveilig gevoel.

Daar is toe bespreek om ’n veiligheidsheining op te sit, maar min het ek geweet dat die heining verby ons plot tot onder aan die rivier aangebring sou word.

Die gemeenskap het gou saamgestaan en Henry Kirstein en sy helpers het ’n 2,2 meter hoë heining van bo by die veiligheidshek (hoek van Korhaan- en Hadedastraat) tot onder by die rivier opgesit met hekke sodat ’n mens kan toegang kry na die oop stuk grond. Die draad is gedeeltelik elektrifiseer deur Jan.

Eva, Henry se vrou, en haar pa het ’n pragtige tuin aangebring by die ingang en Anton Bester het van sy mooi palms geskenk. Die veiligheidshek en ligte is aangebring en nou het ons hier op die plotte ons eie veiligheidsoord. En lyk dit nie mooi nie.

Druk ’n mens op Mike Strange se knoppie as hier vuur uitbreek, is hy dadelik daar en so kan my bedankingslys aangaan. Ek voel veiliger hier op die plot as in die stad waar ek jare gebly het.

Baie dankie aan al my bure in die gemeenskap om my sulke gemoedsrus te gee.

 

© 2020 Die/The Bronberger