Het jy gehoor? / Have you heard? - Okt 2010 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Thursday, 21 October 2010 04:23
Untitled Document

’n Bekende veearts van ons gebied se naam is gevind op briewe wat saam met dieremedisyne en rommel langs die Boschkop-pad in Mooiplaats gestort is. ’n Besorgde Mooiplaats-inwoner het ’n klagte by die Boschkopse Polisiestasie gaan lê nadat sy gesien het hoe kinders met die medisyne op die rommelhoop sit en speel. Sy sê dat twee konstabels uitgegaan het om die saak te ondersoek en dat die hoop rommel die volgende dag verdwyn het.

xxx

Wippe word steeds oral in die Bronberg-gebied gestel en dit is ongelukkig waar baie geliefde troeteldiere aan hul einde kom. Die Breytenbach-gesin se miniatuur worshond reuntjie, Wintie, het op 30 September in die omgewing van die Meerkatpad in Mooiplaats verlore geraak. Met groot hartseer is Wintie later in ’n wip op die Breytenbachs se buurplot, wat meestal onbewoond is, gevind. Hy was reeds dood.

xxx

Landboukorrels Boeredag word op Vrydag 29 en Saterdag 30 Oktober deur Radio Pretoria en TLU SA op die Cullinan Boere-unieterrein aangebied. Dit is 3,5 km oos van die Cullinan-vierrigtingstop op die Bronkhorstspruitpad. Die Saterdag pretdag bied stalletjies, demonstrasies, vermaak, boeresport en ’n veeveiling.

xxx

Boewe wat die Bronberg-omgewing teiken, het ’n nuwe, baie betalende bedryf aan die gang gesit. Hulle steel vragmotorbande – van die vragmotors af. ’n Paar inwoners van die omgewing het in die afgelope maand deurgeloop. Een inwoner van Mooiplaats het R8 000 skade gely toe net een van sy vragmotor se bande gesteel is.

xxx

’n Welbekende in die Onbekend- gebied het haar ’n maand of wat her weer in die huwelik bevestig. Op ’n uithang-geleentheid het Arna Scheffer mev Arna Greyvenstein geword toe sy met Evert in die eg verbind is.

xxx

Ons hoor dinge het onlangs warm geraak by ’n plaaslike kuiergat in die noorde van Bronberg-wêreld. Blykbaar het ’n kêrel van Cullinan ’n ramkat van Rayton verkeerd opgevryf en toe spat die vonke behoorlik. Die twee sou mekaar glo later dié maand weer ontmoet – dié keer in die hof.

xxx

Die Bronberggebied sorg op 27 November weer vir ’n eerste in die groter Pretoria se geskiedenis, as die eerste volwaardige wynfees by Bronberg Wynlandgoed aangebied word. Nagenoeg twintig kelders uit die land se belangrikste wynstreke sal aan die fees deelneem. Benewens die vermaak van voor-die-hand- liggende aard (wyn en kos) sal allerlei vertonings en aanbiedings vir die ekstra sorg.

 

© 2019 Die/The Bronberger