Ek?s ?n menoster! Ek?s ?n menoster! PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 21 October 2010 04:48
Untitled Document

Gert Mossie sê sy nuwe, ou dorpshuis op Kallinin het hom ’n paar goed laat besef. Een daarvan is dat kinders, plattelandse kinders, nie veel verander het sedert hy skuins deuskant die runderpes self ’n kind was nie.

Iewers langs die lui langnaweekpad, vertel Gert, sit hy en sy voël, hy bedoel nou sy papegaaivoël, sê hy, op sy nuwe, ou stoep en koffiedrink en strooi praat. Gert drink die koffie en die papegaai praat die strooi.

Hy hoor hulle al van doer anderkant af straatlangs aankom. ’n Span laaities wat by die oom op die hoek gaan swem het. Al die kinders van die buurt swem by die oom-op-die-hoek, sê Gert Mossie.

Die klaargeswemde kinders loop speel-speel huiswaarts en hulle is luid. Dis ’n baie stil, nuwe, ou straat voor sy nuwe, ou huis, sê hy. In die middel van die straat, net mooi daar waar sy voorhekkie kykpad deur die heining maak, loop staan die spannetjie; drie laaities van so vier/vyf jaar oud.

Silwerskoon geswem, sê Gert. Hy sien toe sy nuwe, ou buurvrou wat oorkant die straat staan en blomme natgee, staan en bekyk ook dié spulletjie.

“Ek is Simson!” skree die een mannetjie en hy beweeg dreigend, met swaaiende arms (seker ’n donkiekakebeen in elke hand) nader aan die ander twee.

“Aag dis niks! Ek is die Unkrerribul Hulk!” troef ’n ander outjie terstond en storm met ’n onaardse roggel, dreigend op Simson af.

Die derde outjie verander toe terstond die speelveld met: “Ek is ’n leeu! Ek is ’n groooot leeu!” en hy los ’n vreesaanjaende brul.

Dis eers toe dat hy die kleiner kannetjie, seker hoogstens drie, agter ’n Jakarandaboom op die sypaadjie sien uitpeul, sê Gert.

“Ek’s ’n menoster, ek’s ’n menoster!” Die menoster storm kop omlaag op die Unkrerribul Hulk af.

“Ek’s ’n menoster!” hef hy weer luidkeels aan en stamp die stomme Hulk met die kop in die maag dat hy steier en stik. “Is jy mal, Djaakie man?!” skree die Unkrerribul Hulk verontwaardig.

En dis toe dat Gert se Grys Afrikaanse papegaai hier langs hom op sy beurt afhaak in ’n bulderstem wat jy tot op Rayton kan hoor: “Agge nee man, f..!!”

“Net só,” sê Gert. Daai bekendste van Afrikaanse vierletter-woorde wat eintlik net drie letters het. Hy wonder waar op aarde kom die voël daaraan?

Gert sê hy het stilletjies probeer om onsigbaar te raak. Die ergste van alles is dat die buurvrou, van waar sy gestaan het, glad nie die papegaai in sy hok sou kon sien nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger