Het jy gehoor? / Have you heard? - Nov 2010 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Tuesday, 16 November 2010 08:17
Untitled Document

Zwavelpoorters was weereens die slagoffers van kabeldiefstal. Kabels is op Sondagaand 24 Oktober op die hoek van Ajax- en Achillesweg gesteel. Vinnige optrede deur inwoners wat lede van Conserv is, het die diewe laat spaander met ’n kort stukkie kabel. Die res van die gesnyde kabels het agtergebly. ’n Paar weke voor dit was Zwavelpoort-wes sonder krag vir die grootste deel van die naweek omdat kragkabels gesteel is. Op Saterdagaand 30 Oktober is ’n poging tot huisbraak gekeer deur inwoners op plot 179.3 en die boewe het die berg ingevlug. ’n Inwonersvergadering oor sekuriteit is op 4 November gehou om veiligheid aan te spreek.

xxx

Leef vir Lewe hou ’n Kersoptrede-fondsinsameling in samewerking met die Gereformeerde Kerk Cullinan. Die Kersvertoning word aangebied saam met Chris Coetzer op Vrydag 26 November om 7 nm by die Gereformeerde Kerkgebou, Cullinan. Die koste is R50 per persoon, ete ingesluit. Vir meer inligting bel vir Cobi by 083-454-8319 of vir Gerty by 012-734-0102.

xxx

Cullinan-inwoners is nou keelvol vir die reuse vragmotors wat verkeersopeenhopings in die dorp veroorsaak. Hulle vertel dat ’n mens in ’n tou agter omtrent tien vragmotors moet sit wat almal wil draai by die Oaklaan stopstraat voor die Wimpy. Blykbaar is dié ’n provinsiale pad en kan inwoners die vragmotors nie weerhou daarvan om deur die dorp te ry nie.

xxx

Susan, weduwee van Hannes Goosen, het laat weet van ’n geskiedkundige gebeurtenis wat haar hart warm laat klop het. Haar dogter Hermien en seun Danie was onlangs vir die eerste keer in 18 jaar saam by haar aan huis op Kleinfontein. Hermien het vir jare oorsee gewoon, maar is nou weer terug in Suid-Afrika. Danie werk steeds oorsee.

xxx

Boewe het drie werkers aangeval by Merwander Bull Dogs in Lynnwoodweg-verlenging, Zwavelpoort. Blykbaar is ’n man wat gaan geld trek het geskiet by Newlands Staal in Garstfonteinweg-verlenging. Hy het oorleef.

xxx

Volgens die boere langs die Wilgespruit in die Bronkhorstspruit-omgewing is mynmaatskappye, wat veronderstel is om te prospekteer, besig met onwettige ontgunning van steenkool en besoedeling van water. Die TLU het bevestig dat prospektering nou teen ’n geweldige tempo kop uitsteek. Op ’n dag daag daar net iemand op wat monsters op die eiendom wil neem en dan vind die grondeienaar vir die eerste keer daarvan uit. TLU SA het ’n riglyn opgestel wat gevolg kan word en wat al die verskillende wette en stappe wat nodig is om te volg uiteensit. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Lynette du Plessis by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

xxx

’n Kunsuitstalling word op Saterdag 20 November van 12 nm tot 6 nm by Boskazi, plot 221, Bashewa gehou. Francois Breytenbach, Franci Roodt, Sarel Petrus en Tiaan Alberts is die kunstenaars wie se werk uitgestal word.

 

© 2019 Die/The Bronberger