Gemeenskap keer groot brandskade Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 16 November 2010 10:22
Untitled Document

Zwavelpoort was op Saterdag 9 Oktober in pikdonker rookwolke gehul toe ’n veldbrand ou motorbande by die ou Argylestalle aan die brand gesteek het.


Saintsstraat toe onder ?n donker wolk
Foto: Gretchen van der Merwe

Die rookwolke was so oorweldigend dat inwoners van Zwavel’s Nest op die hoek van Atterburyweg-verlenging en Saintsstraat, oorkant Argyle, hul wonings moes ontruim. Volgens Etienne Schoeman, een van die Conserv-lede wat gehelp het met die vuurvegtery, het die vlamme in ’n stadium oor die pad gespring en het dit binne Zwavel’s Nest ook begin brand. Die brand is egter gou geblus. Etienne vertel dat agt private waterkarre van die MZT (Mooiplaats, Zwavelpoort en Tiegerpoort) Conserv gemeenskap op die toneel was.


Voertuigbande rondom die ou perdry-oefenbaan
Foto: Gretchen van der Merwe

Hy sê dat Kungwini en Tshwane se brandweer eers twee ure later opgedaag het, rondgekyk het, en weer gery het.

Dit is danksy Conserv-gemeenskapspatrollielede dat die brand onder beheer gebring is en die enigste skade aan ’n struktuur ’n gras-afdak by die werkers se huis wat nie gered kon word nie.


Donker rookwolke hang oor Zwavelpoort
Foto: Gretchen van der Merwe

Die stalle is beskerm deur Nick Woodrow, George Galanakis en Douw Venter met hulle vuurkarre.

’n Grasdak-woonhuis op die aangrensende plot was ook in gevaar, maar Mike en Rob Strange het posisie ingeneem met die Mooiplaats-vuurwa, genaamd The Beast, en die huis beveilig.


?n Band in ligte laaie
Foto: Gretchen van der Merwe

Die voertuigbande wat aan die brand geslaan het, was om die ou perdry-oefenbaan van die Argyle stalle wat aan Albert (Mitch) Mitchley behoort het. Mitch is ’n paar jaar gelede oorlede en die grond, plot 90 op die hoek van Atterburyweg en Saintsstraat, en plot 89R langsaan, behoort nou aan ’n ontwikkelaar.


Die brand is gekeer voor dit skade aan strukture kon aanrig
Foto: Etienne Schoeman

Die Bronberger het ’n verteenwoordiger van die ontwikkelaar gebel om te hoor of hulle as blyk van waardering ’n bydrae sal maak vir bedryfskoste van ‘The Beast’ en die ander waterkarre. Voor ons die vraag kon vra, het hy die telefoon in ons oor neergesit.

Argyle was eens bekend vir die gereelde perdeveilings wat daar aangebied is.

 

© 2020 Die/The Bronberger