Kungwini-amptenaar takel ?wit vyand? met gholfstok Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 16 November 2010 11:00
Untitled Document

Gemoedere loop hoog met die hervestiging van plakkers in Donkerhoek. Karl Gerber van plot 32 Donkerhoek, die buurplot van die hervestigingsterrein, is glo deur Peter Nkosi, waarnemende bestuurder in die Kungwini munisipaliteit se burgemeesterskantoor met ’n gholfstok bygedam en as ‘wit vyand’ uitgekryt.

Karl het ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, beskadiging van eiendom, betreding, intimidasie en crimen injuria teen Peter Nkosi by die polisie ingedien.

Volgens Karl word die private pad op sy plot na hartelus gebruik ten spyte van waarskuwings en ’n kennisgewingbord, wat intussen afgeruk is. Karl het dié pad op Maandagmiddag 1 November met sy bakkie versper om Peter in te lig dat verskeie munisipale voertuie dié pad “onwettig” gebruik.


Karl Gerber van Donkerhoek
Foto: Theana Breugem

Hy sê dat Peter agter sy bakkie stilgehou het en met ’n dreigende houding uitgeklim het. Karl het ’n klankopname van die onderonsie met sy selfoon gemaak. Dié opname is in Die Bronberger se besit. Dit kan duidelik gehoor word hoe iemand sê: “Ons is moeg om julle wit mense te duld” en: “Julle wit mense is die vyand en hier op ons genade.”

Talle omstanders, ook twee van Karl se buurmanne, het die voorval sien gebeur. Volgens Karl het Peter sy gholfsak uit sy motor se kattebak getel en toe, saam met ’n ander man wat by hom in sy motor was, Karl se bakkie met gholfstokke geslaan voor hulle vir Karl getakel het en op die rug geslaan het.

Blykbaar ontken Peter dat hy in die voorval betrokke was en dat dit sy stem in die klankopname is en wil nie kommentaar lewer op ’n foto wat ’n omstander van die voorval geneem het nie.

* Lees die berig oor die hervestiging van die plakkers onder Aktueel: Kungwini oortree wette met plakker hervestiging

 

© 2020 Die/The Bronberger