Bronberg se ?laaste luiperd? loop hom lelik vas op Mooiplaats Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 16 November 2010 11:02
Untitled Document

Simon kyk spikkelkat uit bloekomboom

Simon se bloekomboom ‘tier’ het binne ’n paar uur die legende rondom die Bronberg se laaste luiperd laat lyf kry. Lees hier hoe Simon dié ‘tier’ vir vier ure lank stip dopgehou het tot natuurbewaring hom
kom pyl het, dieretuin toe geneem het, waarna hy eers ’n wortelkanaaloperasie by Onderstepoort gekry het voor hy geband is en in ’n Dinokeng-wildreservaat vrygelaat is.

Die Bronberg se wegkruiper luiperd is uiteindelik in Mooiplaats gevang. Dié luiperd het op Donderdag 14 Oktober vier ure lank bo in ’n bloekomboom op plot 56 gesit en staar na die groeiende groep mense onder die boom.

Anton Bester, eienaar van dié plot tussen Korhaanstraat en die Pienaarsrivier, vertel dat die storie begin het toe sy werker, Simon Mamogobo, hom so teen 1.30 nm gebel het om met groot opwinding te sê daar sit ’n uitgevrete ‘tier’ in die boom.

Natuurlik het Anton gedink dat dit onmoontlik moes wees. Sy plot is elektries omhein en selfs twee van die binne-kampe se drade is geëlektrifiseer. Anton was op daardie stadium in Faerie Glen en het vir Simon gevra om die gedierte, wat dit ookal mag wees, stip dop te hou tot Anton by die huis kom. Simon mag die ‘tier’ nie uit die oog verloor nie.


Die luiperd het vir vier ure lank 15 meter hoog in ?n bloekomboom gesit
Foto: Ada Raubenheimer

Dophou
Dié opdrag is so goed deur Simon uitgevoer dat hy bykans vier ure later, toe die verdoofde luiperd probeer ontsnap het, een van die eerste mense was om die luiperd agterna te sit.

Maar ons loop die storie, wat die hele Conserv-gemeenskap in rep en roer gehad het, vooruit. Voor Anton se radio-roep oor die luiperd uitgegaan het, moes hy eers bevestig dat Simon nie die spreekwoordelike (en tasbare) kat aan die stert beet het nie.

“Ek was natuurlik baie skepties oor wat Simon kwansuis sou sien, want wie verwag nou ’n luiperd in jou bloekomboom? By die huis aangekom, het ek na ou Simon gestap waar hy nog stip na ’n bloekomboom gestaar het,” sê Anton.

“In daardie stadium kon ek nog niks sien nie, hoewel Simon volgehou het dat hy die dier kan sien. Ek het huis toe geloop, ongeveer 100 meter daarvandaan, en my verkyker gaan haal. Terug by ou Simon kon ek, met verkyker en al, nog nie die ongedierte sien nie. Opvallend was dat twee kraaie al om die boom gesirkel het en aanhoudend ’n lawaai gemaak het.”

Dit was juis dié kraaie wat om die bokant van die bloekomboom gesirkel en aanhoudend geraas het, wat Simon aanvanklik genoop het om na die boom te stap om te kyk wat aangaan.

Die luiperd was ongeveer 15 meter bokant die grond, in die mik van die bloekomboom en heel rustig ten spyte van die kraaie wat hom probeer verjaag het. Dit is eers nadat Anton met sy verkyker van posisie verskuif het om ’n beter uitsig op die boom hê, dat hy kon sien dat Simon se ‘tier’ in werklikheid ’n luiperd is. En dit is toe dat sy ongewone radio-roep uitgegaan het.

“Soos dit maar altyd in hierdie gemeenskap gaan, as ’n insident op jou eiendom gebeur, is hulp binne minute daar. Dit was nie lank nie voordat vyf tot tien mense na die luiperd gestaar het, en hy rustig teruggestaar het,” sê Anton.


Simon, regs, staar steeds stip na die verdoofde luiperd. Hencke is links met sy Tshwane Natuurbewaring uniform, Joe van Heerden, van Joe van Heerden Safaris, praat oor sy selfoon, en dit is nie bekend wie die ander drie mense is nie. Anton dink hulle is van Farm Inn.
Foto: Ada Raubenheimer

Bewaring
Ongeveer 15 minute nadat Anton die insident gerapporteer het, het Hencke Marais van Tshwane Natuurbewaring hom gebel en laat weet dat hy op pad is. Hy was omtrent 30 minute later daar.

Teen kwart voor vyf was ’n veearts van die Pretoriase Dieretuin op die toneel en hy en Hencke het ’n gesamentlike strategie uitgewerk om die dier te verdoof. Die effek van die verdowing kon veroorsaak dat die luiperd uit die boom val en homself beseer, of selfs doodval.

Die wind het redelik sterk gewaai en dit het gelyk asof die eerste twee probeerslae om die luiperd te pyl, nie suksesvol was nie. Die plan was om die luiperd rustig te laat afklim terwyl die verdowingsmiddel begin werk. Luiperd se kind het egter ander planne gehad, sê Anton.


Die luiperd het sy slagtand in aanhouding by die dieretuin gebreek en moes ?n wortelkanaal- prosedure ondergaan
Foto: Lisa Hnatowicz

Blits
Toe die derde verdowingspyl hom tref het hy onrustig begin word en soos blits teen die boom afgehardloop en ooswaarts in die rigting van die Pienaarsrivier koers gekies. Verskeie nuuskierige omstanders het laat spaander, maar Simon en Hencke is dadelik agterna.

Simon het later laat blyk dat die rede waarom hy so vinnig agterna is, is dat hy bang was dat die luiperd iewers tussen die palms in die Besters se kwekery sou verdwyn. Simon wou seker maak hy sien waar die luiperd uiteindelik sou neerval. En sy opdrag was mos om nie die kat uit die oog te verloor nie.

Die luiperd is dwarsdeur die elektriese omheining wat die binnekampe van mekaar skei, en af tot by die rivier waar hy al langs die geëlektrifiseerde grensdraad beweeg het tot waar hy weer ongeveer halfpad terug na die bloekomboom, inmekaar gesak het.

Verdere verdowing, per hand, het verseker dat hy rustig was, en hy is op ’n oop bakkie nader na die Besters se huis vervoer. Daar is hy na ’n krat op Hencke se bakkie oorgeplaas en na die Nasionale Dieretuin in Pretoria vervoer.


Die luiperd word bakkie toe gedra terwyl Simon steeds stip staar.
Foto: Ada Raubenheimer

Byt
By die dieretuin is hy herdoop na Ingwe en is dit bevind dat hy ’n driejarige mannetjie van 57,8 kg is. Hy is in isolasie gesit omdat wilde luiperds baie omgekrap raak as hulle naby mense aangehou word. Tog het Ingwe seergekry toe hy probeer het om sy pad deur die hok se ystertralies oop te byt. Toe hy Maandag 25 Oktober verdoof is om die opsporingshalsband aan te sit, het die dieretuin se kliniese veearts, dr Adrian Tordiffe, gesien dat Ingwe se boonste slagtand afgebreek het.

Ingwe het daardie Vrydag ’n wortelkanaal- prosedure in die Onderstepoort-Veeartsenykundige Instituut ondergaan en is eers daarna by Mongena Game Lodge in die sowat 18 500 ha grootte Dinokeng Big Five-reservaat naby Hammanskraal vrygelaat.

Teen Die Bronberger se saktyd het ons verneem dat Ingwe goed daar aanpas, maar nog nie veel beweeg het in die reservaat nie. Sy bewegings, wat met ’n opsporingshalsband gemonitor word, het aangedui dat hy nog net tussen kos en water beweeg; tussen die rivier en ’n rooibok- karkas wat ongeveer 600 meter verder vir hom gegooi is.


?Durf dit net om nader te kom!?
Foto: Ada Raubenheimer

Zwavelpoort
“Ons is bly dat die dier sonder enige voorval gevang kon word en dat hy weer in die natuur vrygelaat gaan word,” sê Anton. “Of hy wel van die Bronberg afkomstig is, bly ’n ope vraag, maar dit is ’n wonderwerk dat hy binne ’n ontwikkelde gebied beweeg het, sonder om enige mens of dier aan te val.”

Volgens Denyse en Liana van Hoepen van plot 80, Zwavelpoort, is hierdie waarskynlik dieselfde luiperd wat vroeër vanjaar naby hulle doenig was. In Die Bronberger se Januarie 2010 uitgawe het ons berig dat ’n luiperd hom in die Bronberg, vlak by die woongebiede van Zwavelpoort, Olympus en Faerie Glen, tuisgemaak en reeds minstens een troetelhond verslind het.

Net ná Kersfees verlede jaar het die luiperd ’n Jack Russel van Danie van Hengel van Zwavelpoort gevang en verslind. Danie en sy gesin was met vakansie en buurvrou Denyse en haar dogter Liana het gaan ondersoek instel.

Hulle het groot voetspore oral in die omgewing gekry en het nog spore op verskillende plekke in die berg agter hul huis opgespoor. Denyse en Liana het ook op ’n boom afgekom wat duidelike krapmerke teen die stam en baie spore onder die boom getoon het.

Tierpoort
Dit is nie duidelik of dit dieselfde luiperd is wat in 2009 in Tierpoort gesien is nie. In Die Bronberger se September 2009 uitgawe, het ons berig dat Richard Wade, argeoloogsterrekundige van die Nkwe-rif Sterrewag een aand, toe hy om die draai by die Nkwe uitdraaipad kom, amper teen die luiperd gebots het.

Hy het gesê die luiperd woon in die uitgrawings op die Tierpoort-plot wat so ’n paar jaar gelede aan Elzilda Becker, wat voorheen die eienaar-uitgewer van ‘De Kat’ tydskrif was, behoort het.

Ouer inwoners van die Bronberggebied meen dat ’n luiperd jare reeds in die omgewing van Zwavelpoort en Shere bly. Spore wat in die berg gekry is dui daarop dat die luiperd tussen die poort van Zwavelpoort in die ooste en die berg agter Faerie Glen in die weste beweeg het.

 

 

 

© 2020 Die/The Bronberger