Dankbaar oor platteland PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 18 March 2008 00:00

Soms is ek nie dankbaar genoeg dat ek op die platteland bly nie; nie dankbaar genoeg dat ek in ’n wêreld soos die Bronberg tussen mense soos die Bronbergers kan lewe nie.

‘n Knaap van so 16, 17 jaar peil anderdag, toe ek onder hewige protes noodgedwonge die stad moes besoek, doelgerig op my af. Eers het my hart na die outjie toe uitgegaan, want duidelik het hy sy ouboet se klere aan. En duidelik speel sy ouboet minstens slot vir die Bulle. Alles hopeloos te groot. Alles hang uit en alles hang los. Siestog, dag ek eers, maar toe sien ek die groep jeugdiges wat eenkant staan en wag op die afpeiler en hulle het almal bykans identiese ‘uniforms’ aan; broeke se knieë op en oor die tekkies met die kruis van die broek min of meer waar die knieë moet wees; uithanghemde wat ook strek tot waar die knieknoppies behoort te wees.

Toe die knaap nader aan my beweeg sien ek dat hy ’n neusring deur sy oogbank dra en sy sussie se “stud” oorbel deur sy onderlip. Moes vrek seer gewees het. By elke oor groei daar ’n wit draad uit. Die drade kom soos ’n stetoskoop bymekaar iewers in die omgewing van waar sy belt moes gewees het en loop dan in ‘n langwerpige kassie in wat selfs ek weet’n iPod moet wees.

Ek mag dalk op die platteland bly, maar ek weet van iPods, al verfoei ek dit om enige woord met ’n hoofletter in die middel pleks van in die begin daarvan te spel. Nou het my aansienlike aantal jare my geleer dat jy nie iemand sommer op sy spreekwoordelike baadjie moet takseer nie. En al vind ek sy voorkoms hoe vreemd, besluit ek om die knaap die binnevet van die boud te gee.

Maar toe hy so ’n tree of wat van my af is, toe praat hy. Wat het hy gesê? Wel, laat ek eers aandag gee aan wat hy nie gesê het nie. Hy het nie gesê nie: “Ek is jammer om te pla, maar . . .” Hy het ook nie gesê nie: “Verskoon my . . .” Nog minder het hy gesê:“Verskoon my, oom . . .” of “ek is jammer om te pla, meneer . . .” En dít het my dwars in my Bronbergse bors gestuit.

Ek wil nie beweer dat ek, my aansienlike aantal somers ten spyt, noodwendig ’n “oom” of ’n “meneer” verdien nie, maar almal verdien tog sekerlik ’n “verskoon my”.

Uit die mond van die mannetjie, waarvan die onderlip oophang onder die gewig van sy lipbel, het net die volgende gekom:“Waar is Parkstraat?” het hy gesê. Eintlik het hy geskree: “Waar is Parkstraat?” want die iPod was nog stewig by die oorgate ingeprop. Dankie tog dat dit nie nodig was vir my om die rumoer te hoor wat dié stukkie tegnologie in sy vormende brein ingeblaas het nie.

Omdat ek daardie deel van die stad ken en omdat ek ’n plattelander is en graag help waar ek kan, het ek geantwoord: “Jy draai by die derde straat links en loop twee blokke teen die bult uit tot waar die straat doodloop in Parkstraat.” En net om ’n punt te bewys voeg ek by: “Meneer.”

Die stadsknaap het nie die boodskap gekry nie. Hy het ook nie dankie gesê nie. Hy het bloot sy gesiggie op ’n vraagteken getrek, effens nader geleun en geskree: “Wat!”

Die stomme outjie het nogal erg verward gelyk toe ek net daar onbedaarlik aan die lag gaan. Ek het omgedraai en weggestap met die dankbare wete dat ek netnou die pad terug platteland toe sou vat.

 

© 2019 Die/The Bronberger