Begraafplasie vertel die verhaal van Boschkop se baanbreker-Barnards PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 09 December 2010 21:26
Untitled Document

Die oorspronklike opstal van die plaas Boschkop staan vandag steeds in vervalle glorie teen die hang van Boschkop se rantjies. Die lief en leed van die Barnards wat dié Victoriaanse herehuis gebou het, is uitgegriffel in die plaasbegraafplasie se grafstene.

As dié herehuis kon praat, sou hy vertel van die Barnard-seuns wat in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel het, een van hulle in die slag van Donkerhoek, en die wat in die 1914 rebellie dood is. Hy sou vertel van die Groot Griep wat die familie so genadeloos getref het, van die Terblanche en Van der Merwes waarmee hulle getrou het, en van die Besters wat die plaas later vir dekades besit het.

Die Besters se plaasbestuurder werk vandag steeds daar en het vir ons die onlangse geskiedenis van die plaas vertel. Hank Schrader is al vir 30 jaar plaasbestuurder op die gedeelte van die Boschkop-plaas wat vandag Waterlake Farm genoem word. Waterlake is 300 ha groot met reekse dammetjies en ’n dam van 20 ha wat Theuns Bester van 1983 tot 1985 gebou het.

Hank het in 1976 vir Theuns Bester begin werk. Hy sê dat Theuns die plaas in die middel sestigerjare by ’n Dr Wynn gekoop het. Teen daardie tyd het die Victoriaanse plaasopstal reeds leeg gestaan en is dit die spookhuis genoem.

Toe die Bester-broers in 1993 bankrot gespeel het, is die plaas op ’n veiling aan Sinovich Investments verkoop. Dié groep het die plaas verskeie kere verkoop, maar die koop het telkens deur die mat geval tot ’n Amerikaner, Eugene Delaney Jackson, wat sy Afrika-wortels kom opdiep het, die plaas in 1997 gekoop het. Hy het die plaas tot 2005 besit toe die ontwikkelaars van Waterlake Farm die plaas bekom het.

Die erf waarop die herehuis vandag staan was een van die eerstes wat in die Waterlake-ontwikkeling verkoop is en behoort aan ’n argitek, Bruce Faulis.


Die Victoriaanse opstal waarin die Barnards van die plaas Boschkop gewoon het

Herehuis
Die huis spog met sy oorspronklike sinkplate en ‘Oregon pine’ vloere, plafonne en prentlysies. Die vloere is nog in ’n goeie toestand, maar weens lekkasies het die plafonne plek-plek begin meegee. Die oorspronklike vuurherd het ongelukkig verdwyn.

Dié gesin moes die gebied se blink Barnards gewees het, want hulle het selfs ’n buitekamer laat aanbou vir ’n reisende negosiehandelaar wat altyd met sy smousware by die plaas aangedoen het.

Hank vertel dat daar boorde met die heerlikste geelperskes in die berg was toe hy op die plaas aangekom het. Die leivore waarmee hul natgelei is was steeds daar, maar net die besproeiingsdam, wat van dieselfde leiklip as die huis se fondasiemure gebou is, kan vandag nog gesien word.

Hank kon aflei dat die Barnards met hoenders geboer het, want die plek waar die kuikens grootgemaak is, staan vandag nog. Later het Hank vir Theuns Bester gehelp om met varke en toe met melkkoeie te boer.

Dit is juis as deel van die boerdery, toe Hank een aand so om-en-by middernag brandstof by ’n pomp naby die familiebegraafplasie moes gaan aflaai, dat sy hare behoorlik gerys het. Hank het dié plek op pad na die begraafplasie vir ons gaan wys waar die hoendervleis hom onwillekeurig gepak het, maar het verder oor spoke soos die spreekwoordelike graf geswyg.


Plaasbestuurder Hank Schrader wys vir Waterlake se Gilda Lubbe die buitekamer waar ?n smous oorgebly het

Grafstene
Die grafte van die Barnard-moeder en vader, wat waarskynlik in die laat 1800’s die huis laat bou het, lê langs mekaar, naaste aan die ingang van die begraafplasie.

Die vader was Petrus Johannes Barnard, gebore 7 Mei 1843 en oorlede op 26 Februarie 1920. Die moeder se graf is so verweer dat die grafskrif bykans onleesbaar is. Dit wil amper lyk of daar Johanna Aletta staan en asof sy in 1845 gebore is. Op die kinders se grafte word haar naam as JJA Barnard, gebore van Dÿk, aangedui.

As ons na haar dogter se name kyk het die JJA waarskynlik vir Jacoba Johanna Aletta gestaan. Op Petrus se graf is sy kinders aangeteken en dit lyk asof die lys ook skoonseuns en ’n –dogter insluit.

Die kinders is waarskynlik volgens ouderdom gelys: Petrus J Barnard, Martha M Barnard, gebore Esterhuizen, Barend J Barnard, Susara J Barnard, Jacoba J van der Merwe, gebore Barnard, Daniël J Terblanche en Magdalena C Terblanche, gebore Barnard.


Die gang by die voordeur het nog sy oorspronklike ?Oregon pine? vloere

Oorlog
Die kinders wat reeds oorlede is toe Petrus tot sterwe gekom het, is nie op sy grafsteen aangedui nie, maar lê neffens hom begrawe. Die eerste twee seuns het in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel en elkeen se grafskrif lees: “Zyn zon is ondergegaan terwÿl het nog dag was.”

Willem Hendrik Stephanus is op 25 April 1873 gebore, en is te Bakenlaagte op 30 Oktober 1901 gewond. Hy is op 3 Desember 1901 oorlede. Willem moes 28 jaar oud gewees het, maar dit is nie bekend of hy afstammelinge gehad het nie.

Sy jonger broer, Frans Johannes, is in die slag van Donkerhoek dood. Hy is op 7 September 1880 gebore, is op 12 Junie 1900 gewond en het op 13 Junie 1900 aan sy wonde beswyk.

Dan is daar die twee broers, ’n ouboet en kleinboet, wat ’n dekade en ’n half daarna op dieselfde dag oorlede is – weer in ’n oorlog. Dié keer was dit die Eerste Wêreldoorlog en op eie bodem was dit die 1914 rebellie.

Hendrik Stephanus is op 8 Junie 1886 gebore en het op 5 November 1914 by De Albert Zilver Mijn gesneuwel. Petrus Stephanis is op 9 September 1895 gebore en het op dieselfde datum en plek as sy broer gesneuwel.


Frans Johannes Barnard is noodlottig gewond in die slag van Donkerhoek

Griep
Die volgende twee grafte is van der Merwe seuns wat in die Groot Griep dood is. As ’n mens kyk na die name van die ouers wat op die grafstene verskyn, GJ en JJA van der Merwe, gebore Barnard, kan jy aflei dat dit een van die Barnards se middelste dogters, Jacoba J van der Merwe, se seuns moes wees en dat haar man reeds oorlede was toe ou oom Petrus begrawe is; dié dat sy naam nie op die grafsteen gelys word nie.

Later het ons op sy graf afgekom en hy is ’n paar maande na ou oom Petrus in 1920 oorlede. Teen die tyd wat oom Petrus se grafsteen opgesit moes word, het die familie seker besluit om dié skoonseun nie meer as lewende te noem nie. Gert Johannes van der Merwe is op 29 November 1867 gebore en is op 10 September 1920 aan maagkanker oorlede.

Gert en Jacoba se twee seuns wat aan griep oorlede is, was Petrus Stefanus van der Merwe, gebore op 8 Februarie 1892 en oorlede op 4 Junie 1919. Sy broer, wat 10 dae ná hom aan griep dood is, lê langs hom. Petrus Johannes van der Merwe is op 5 Mei 1895 gebore en is op 14 Junie 1919 dood.

’n Derde kind wat in die tyd van die Groot Griep oorlede is, het ’n raaisel laat ontstaan: Susanna Katrina van der Merwe se ouers word ook op die grafsteen aangedui as GJ en JJA van der Merwe, maar daar word gesê dat Susanna ’n nooi Van Vuuren was. Volgens die datums op haar graf was sy maar 14 jaar oud toe sy dood is. Kon sy toe reeds met ’n van der Merwe-seun getrou het?

Susanna is op 26 Desember 1894 gebore en is op 22 Junie 1919 aan griep dood – ’n paar dae ná Petrus Stefanus en Petrus Johannes van der Merwe.


Deur ?n hortjiesvenster sien ?n mens die klipdam in die berg

Kindergraffie
Eenkant onder ’n boom lê ’n kindergraffie wat ons laat besef het dat Jacoba en Gert van der Merwe so 12 jaar voor die Groot Griep reeds ’n kind verloor het. Barend Jakobus van der Merwe was vier maande oud toe hy dood is. Hy is gebore op 14 Julie 1907 en oorlede op 27 November 1907. Die oorsaak van sy dood word nie op sy grafsteen genoem nie.

Dit lyk asof Jacoba ná Gert se dood weer getrou het, want sy lê in ’n Van Vuuren graf en is 22 jaar ná hom oorlede. Is dit dalk die 14-jarige Susanna se van Vuurens? Die grafsteen sê: In liefdevolle herinnering aan ouma Jacoba Johanna Aletta, gebore Barnard. Sy is op 6 Januarie 1870 gebore en is op 5 Mei 1942 oorlede. Die grafsteen is deur haar kleinkinders, GJ en HM van der Merwe – Pieter en Johannes – opgerig.

Geen een van die ander Barnardkinders is in dié begraafplasie begrawe nie. Tog het ons een van hulle in ’n ander begraafplasie in die Boschkop- gebied opgespoor. Op oom Petrus se grafsteen is sy aangedui as Magdalena C Terblanche, getroud met Daniël J Terblanche. Sy moes weer getrou het met ’n Wolmarans, want dit is die van op haar grafsteen, wat aandui dat sy op 11 Oktober 1877 gebore is en op 30 Desember 1969 oorlede is.

Magdalena lê by haar eerste man, Daniël Johannes Terblanche, wat op 26 Januarie 1875 gebore is en op 13 Desember 1922 oorlede is.

Dit lyk asof van hulle kinders en ’n kleinkind ook daar begrawe is: Jacoba JA Potgieter, ’n nooi Terblanche, Andrias Bernardus Terblanche, FGJ Terblanche en nog ’n Daniël Johannes Terblanche wat die kleinkind kon wees.

Volgens Hank bly daar nog ’n Barnard agterkleinkind in die Boschkopomgewing. Hy sê dat daar dekades gelede ook ’n Barnard-kleinseun, wat toe ’n polisieman in Silverton was, na die huis kom kyk het.

Enige iemand wat meer weet van Petrus en Jacoba Barnard of dalk foto’s van dié gesin het, is welkom om ons te kontak by 012-734-0522 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .


Die grafte van Jacoba Johanna Aletta en Petrus Johannes Barnard

Hank op pad na die begraafplasie se ingang
.

 

 

© 2019 Die/The Bronberger