Ek is ook deur Kungwini gedagvaar Print E-mail
News - Briewe
Monday, 24 January 2011 06:12
Untitled Document

Prof J Jamneck van Mooiplaats skryf:
Die brief van EJ Schonken in Die Bronberger se Desember-uitgawe verwys. Kungwini en sy prokureurs is duidelik daarop uit om met “scare tactics” belastingbetalers se geld te mors.

Ek het in Januarie 2010 ’n grondbelastingrekening ontvang met die vriendelike toegewing agterop van ’n 30% korting. My grondbelasting is vir ’n tydperk nie betaal nie, hangende die uitslag van verskeie hofsake rakende die belaglike verhogings deur Kungwini ingestel.

Aangesien die hof egter in Kungwini se guns beslis het en hul toe korting aangebied het vir onmiddellike betaling, het ek navraag gedoen oor wat presies van my verwag word.

Na ongeveer die sesde probeerslag is die telefoon beantwoord en ’n baie vriendelike (en vir ’n verandering, ingeligte) dame, het (na ’n lang gesprek) die bedrag verskuldig vir my uitgewerk, wat ek toe sonder versuim betaal het.

’n Wyle later ontvang ek egter ’n sogenaamde “Letter of Demand” van ’n invorderaar vir presies die bedrag van die korting. Ek skakel onmiddellik ontstoke en word ingelig dat dit net ’n fout van die “stelsel” is - snaaks dat niemand ooit so ’n stelsel se knoppies druk nie – en ontvang dieselfde dag nog, ’n sogenaamde “Letter of Apology”.

Maar, soos die Engelsman sal sê, “imagine my surprise”, toe ek op ’n mooi dag ’n dagvaarding ontvang vir die bedrag van die korting, rente en natuurlik regskoste, uitgereik deur die einste De Swardt, Vögel en Myambo Prokureurs.

Gelukkig vir my, is my man ook ’n prokureur en moes Combrink en Jamneck Prokureurs toe maar dadelik aan die werk spring om die eis te verdedig, nieteenstaande die feit dat ek reeds die bedrag soos deur Kungwini self uitgewerk, betaal het.

Nadat verdediging teen die dagvaarding aangeteken is, het Kungwini se prokureurs voortgegaan met ’n summiere vonnis aansoek – dus, nieteenstaande ’n volledige opponerende verklaring van myself met stawende dokumentasie aangeheg, is die saak steeds nie teruggetrek nie.

“Imagine” my nog groter “surprise” toe ek ’n paar maande later en terwyl die hele hofproses steeds aan die gang is, skielik ’n rekening van Kungwini ontvang waarop die bedrag waarvoor ek gedagvaar is, uiteindelik gekrediteer is.

Die proses waardeur ek gedagvaar is, is egter nie gestaak alvorens daar nie weereens ’n pleit en prokureursbrief op Kungwini se prokureurs beteken is waarin hul gewys is op hul kliënt se kreditering van die bedrag nie.

Nou wonder ek maar net – hoeveel ander arme belastingbetalers is deur “Letters of Demand” en dagvaardings geïntimideer om bedrae te betaal waarvoor hulle eintlik korting gekry het, bloot omdat hulle nie kans gesien het vir die stress en die regskostes nie?

Die kostes om die eis van ongeveer R3 500 teen my te verdedig, sou tot op datum van terugtrekking net aan my kant, tussen R5 000 en R7 000 beloop het. Terwyl ek dit gelukkig nie hoef te betaal nie, moet Kungwini natuurlik steeds hul kostes betaal vir sogenaamde “regswerk” wat onnodig gedoen is en dit uit belastingbetalers se sakke.

Sekerlik is dit tyd dat iemand êrens wakker word!

 

© 2020 Die/The Bronberger