Jong Michelle se gebak verkoop soos soetkoek Print
News - Ons Mense
Tuesday, 23 July 2019 09:19
Untitled Document

Die 14-jarige Michelle van der Vyver van Valtaki is besig om ‘n rekord los te bak as een van die jongste sakevroue in wording. Haar varsgebakte koekies en tradisionele snuisterye het gesorg dat sy al junior entrepreneur-afdelings gewen het, ‘n sake-opleiding- en mentorskapprogram losgeslaan het en self haar eie industriële oond gekoop het.


So het Michelle in haar ma se kombuis begin bak
Foto: Johan van der Vyver

Verlede jaar het ons berig dat Michelle die voete-natmaak afdeling van KragDag se junior entrepreneurskompetisie met haar ‘Valtaki Varsgebak’ gewen het. Vanjaar is sy met ‘Michelle’s Delights’ ingeskryf vir die 2019 KragDag junior entrepreneurskompetisie in die doelgerig-afdeling.

Michelle ontvang tuisonderrig by haar pa en ma, Johan en Elsabe van der Vyver, op hulle Valtaki-kleinhoewe. Johan vertel dat Michelle op die ouderdom van nege jaar saam met haar ma begin bak het.

Sy het haar varsgebak op die ouderdom van 11 jaar begin verkoop.


Michelle saam met aanbieder, Riaan Grobler, ná haar Pretoria FM-onderhoud op 21 Junie
Foto: Johan van der Vyver

“Wat begin het as ‘n leersessie saam met mamma, het in ‘n passie en later ‘n lonende onderneming ontaard,” sê Johan.

Michelle bak van soetkoekies, botterkoekies en gevulde vla-koekies tot melkkoekies, koffiekoekies, gemmerkoekies en klapperkoekies. En nee, dié resepte kom nie van haar ouma af nie, maar van haar oupagrootjie.


Michelle by die ‘Ek is lief vir Cullinan’ mark in Junie. Die mense in die agtergrond is, van links na regs: Haar boetie, David van der Vyver; haar ouma, Gerda Smit, sittend; aangetroude oupa, Frikkie Smit; en heel regs haar pa, Johan van der Vyver
Foto: Kat Behrens

Michelle word geleer om haar onderneming uit te brei in die sake-opleiding en mentorskapprogram deur Fergus Ferguson van Action Coach in Faerie Glen. Deesdae het sy klante so ver as Kemptonpark, Boksburg, Witbank en Middelburg, behalwe haar gereelde Bronkhorstspruit-, Rayton- en Cullinan-aflewerings en markdae.

Michelle vorder so fluks dat Riaan Grobler van Pretoria FM op 21 Junie ‘n radio-onderhoud, wat lewendig uitgesaai is, met haar gedoen het.


Deelnemers en beoordelaars by verlede jaar se KragDag junior entrepreneur kompetisie, van links na regs: Darian Grobler; Phillip de Beer; Jacques Basson; Michelle van der Vyver (Valtaki Varsgebak); Fergus Ferguson; en Cloete Oosthuizen
Foto: KragDag

Sy sukkel om voor te bly met bestellings en haar volgende stap is om ‘n industriële menger te koop, asook alles wat sy sal nodig hê om haar bakkery uit ma Elsabe se kombuis te skuif. So terloops, Michelle het die industriële oond gekoop ná sy so baie gebak het dat die deur van haar ma se gasoond van al die oop- en toemaak afgebreek het.


Michelle by ‘n sake-opleidingsessie by Fergus Ferguson in Faerie Glen
Foto: Johan van der Vyver

Haar pa, Johan, het Michelle as deel van die fondsinsamelingsproses by twee groepbefondsing-veldtogte geregistreer: www.backabuddy.co.za en www.candystick.co.za.