Spokejag eindig om middernag in begraafplaas Print
News - Ons Mense
Tuesday, 10 December 2019 08:14
Untitled Document

Inwoners van Cullinan het op 15 November die heel eerste donkernag-spokejag in dié dorp saam met Mark Rose-Christie van Mystery Ghost Bus-faam meegemaak.

Dié eerste aand was ‘n byeenkoms van diegene wat hulle spookstories met Mark gedeel het. Hy het maande lank navorsing oor die dorp se spoke gedoen en kon die stories wat mense vertel het aan geskiedkundige karakters en grafte op die dorp se begraafplaas koppel.

Die spokejag het om 6 nm met aandete by Cullinan Diamond Lodge afgeskop en daarná het die staptog met flitse in die pikdonker begin. Later die nag het mense in ‘n konvooi gery na die ou hospitaal, lykshuis en uiteindelik die historiese begraafplaas.

Ons gaan nie al die geheime van dié aand verklap nie, maar ‘n mens kan seker maar sê dat die eerste spook wat gereeld deur sekuriteitswagte gesien word, by die staptog se afskoppunt was. Daarná is die groepie mense deur Cullinan se strate na die Anglikaanse kerkie, waar Lady Anne Cullinan glo in die nagte dwaal na die hoeksteen wat sy meer as 100 jaar gelede daar gelê het.

Skuins oorkant die pad is die Vrymesselaarslosie en vir die meeste inwoners van die dorp was dit die eerste keer wat hulle dié terrein kon betree. Mark het die mense na ‘n ongemerkte graf geneem, wat dalk net die rede was hoekom die losie juis daar gebou is.

Verder op die staptog was die huis waar ‘n bejaarde man, wat net sekere mense kan sien, sy vrou in ‘n rolstoel in die gang afstoot; dringend die huis se klokkie lui en aan traliehekke ruk.


Die eerste spokejagnag se deelnemers om middernag by die begraafplaas

Net voor ‘n nagtoer deur die McHardy Huismuseum het Mark die stappers in die historiese roostuin geleer hoe om water te wys. Met gebuigde stukke draad het hy selfs vir die mees skeptiese spookjagters gewys dat hulle wel onsigbare kragvelde kan aandui.

Die volgende stop op die staptoer was by die Cullinan-stasie, waar die legende van die vrou met die lantern, wat op dié spoorlyne op en af loop, vertel is. ‘n Hele paar stappers het gewip van die skrik toe die stasie-restaurant se alarm skielik skreeuend begin afgaan het.

Die mens het ‘n inherente vrees vir die donker, wat nog te sê onverklaarbare ‘teenwoordighede’. Dit is dié twee vrese wat Mark op ‘n meesterlike wyse kombineer deur spookjagters op ‘n donker nag na ‘n verlate lykshuis te neem.

Daar het Mark mense ‘n ‘spook-toep’ op hulle selfone laat aflaai. Stemme wat nie met die blote oor gehoor kan word nie, antwoord vrae op selfoonskerms. Die lykshuis vorm deel van die dorpie se leë hospitaal met sy ‘teenwoordighede’ asook die raaiselagtige reuk van roosterbrood met Marmite.

Die toep is net betyds vir die middernag-besoek aan die begraafplaas afgelaai. Mark het die grafte van die McHardy-huis se inwoners, wat vandag glo nog daar rondhang, aan spookjagters gaan uitwys.

‘n Hele paar hartseer verhale van onverklaarbare toevallighede is by grafte vertel en dit is hier waar Mark, wat ook ‘n kulkunstenaar van formaat is, sy laaste toertjie uitgevoer het, ‘n sleutel gebuig het en die hoogtepunt van die aand laat afspeel het terwyl die spookjagters in ‘n sirkel staan en handevashou het.

‘n Handige wenk vir toekomstige spookjagters op dié toer – kyk dalk maar gereeld oor jou skouer terwyl jy om middernag in die pikdonker daar staan, want as ‘n akademiese sosioloog en sielkundige, weet Mark presies wat mense bang maak.

Hy was ‘n sosiologie-dosent by die destydse Universiteit van Port Elizabeth; ‘n filmmaker, teaterregisseur en -akteur, kulkunstenaar wat bekend geword het vir sy illusie-skouspele en sy werk in die paranormale velde.

Stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it , om jou naam op die databasis vir toekomstige Cullinan-spooktoere te sit.