Mrs Van en die Harrop-Allins verewig toentertyd se Wilgers-name Print
News - Toeka se dae
Monday, 20 May 2019 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Al ooit gewonder hoekom ‘n perdryskool op Zwavelpoort en ‘n melkplaas buite Rayton se name na die destydse Struben-plaas, The Willows, verwys?

Hendrik Wilhelm Struben, bekend as Harry, het The Willows, geleë langs ’n buurplaas genaamd Hazeldean, in 1862 gekoop. Harry en sy gesin het die plaas ná die Eerste Vryheidsoorlog verlaat en het van 1890 in die Kaap gebly. The Willows is mettertyd in kleiner plasies onderverdeel. Later is dié plasies in plotte verdeel, wat in die middel van die 20ste eeu as perdewêreld bekend geraak het.


Charl van der Merwe se ouers, Elizabeth (Mrs Van) en Barney van der Merwe

Pretoria se eerste perdryskole was juis hier gesetel.

In ons Januarie-uitgawe het Juanita Jamneck van Mooiplaats in ‘Nostalgiese terugblik op gebied se eerste ryskole’ vertel dat Willow Glen Stalle toentertyd aan oom Bert van Biljon en tannie Lucia behoort het. Dié stalle was in Libertaslaan, net om die hoek van Furrow Lane (nou Furrow Road).

Ander stalle was Willowdene in die voorstad wat ons vandag Die Wilgers noem, omtrent net agter die hedendaagse winkelsentrum. Daar was ook stalle in Furrow Lane, wat eers in die middel-tagtigerjare gebou is. Dit was net ‘n klein entjie vanaf Simon Vermootenweg en waar die Equestria Woolworths nou is.


In 1967 het die 15-jarige Charl van der Merwe die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe met twee perde, Khamsien en Chester Light, gewen. Hier is hy op Chester Light

Willows
Gretchen van der Merwe van Zwavelpoort vertel dat haar skoonma, Elizabeth van der Merwe, die Willows Riding School in 1952 begin het. Dié ryskool was op omtrent 10 hektaar, wat Zulu’s Pride genoem is, in Die Wilgers.


Mrs Van het dié advertensie in 1969 in ‘Pretoria News’ geplaas. Dit sê onder andere dat daar daagliks klasse en uitritte aangebied word en dat ‘n busdiens op weeksmiddae vanaf Hatfield na Zwavelpoort vertrek.

Elizabeth het as Mrs Van bekend gestaan en Gretchen vertel dat sy generasies perderuiters opgelei het en bekend was as ‘n baanbouer by baie perdeskoue. Haar ryskool was volgens oorlewering die heel eerste een in Pretoria.


Die Van der Merwe-kinders, van agter na voor op die perd: Tipi, Tess en Charl heel voor. Jonny hou die perd vas. Paul was nog nie gebore nie

Mrs Van was getroud met Barney van der Merwe, wat uit die weermag afgetree het en ‘n wiskunde-onderwyser geword het. Hulle het agt kinders gehad: Jonathan, Jennifer, Neville, Laurence, Tess, Tipi, Charl (Gretchen se man) en Paul.

Die N4, wat toe as die Witbank-snelweg bekend gestaan het, is in die laat 1960’s gebou en het deur die onderste helfte van Zulu’s Pride gesny. Die Van der Merwes het die plek verkoop en het ‘n 75 hektaar plaas in Zwavelpoort gekoop.


Vier van die agt Van der Merwe-kinders op die plot, Zulu’s Pride, in Die Wilgers. Van links na regs: Neville (‘n meisie), Jennifer (bekend as Georgie), Laurence en Jonny

Zwavelpoort
Dié plaas het gegrens aan dit wat vandag The Hills-landgoed is en het die Zwavelpoortspruit as westelike grens gehad. Die Van der Merwes het in 1969 met omtrent 80 perde soontoe getrek en het die plaas Bridle Estates gedoop, alhoewel hulle die naam ‘Willows Riding School’ vir die perdryskool behou het.


Charl op Khamsien. In 1967 het Charl ook Junior Springbokklere verwerf

Mrs Van het die perdryskool tot 1986 bedryf. Daarná het sy afgetree en Charl het vir haar en Barney ‘n huis in Faerie Glen gebou. Die ryskool is toegemaak en die huis is uitverhuur. Gretchen sê dat sy nog twee perde in die stalle gehad het, maar dat hulle braaikuikens in die res van die stalle grootgemaak het.


Paul, die jongste Van der Merwe-kind, op Zulu’s Pride, Die Wilgers

Die 70 hektaar plaas is in 1971 reeds opgedeel tussen Charl, sy broer Paul en twee ander gedeeltes, waarvan een aan ‘n familievriend behoort het. Tog het die ryskool volgens dié onderverdeling steeds die reg gehad om die ander eiendomme te gebruik.

In 1993 het Arline Mahon 30 hektaar van die plaas gekoop en het die stalle na Willows International Riding Centre herdoop.


Twee van Charl en Gretchen se kinders by Willows Riding School op Zwavelpoort in 1979. Luke, bekend as musikant op ‘Noot vir noot’ was ses jaar oud en Bronwyn was vier. Hulle is vandag
46 en 44 jaar oud

Willowdene
Die naam ‘Willows’ is nie net na Zwavelpoort uitgevoer nie, maar ook na die Rayton-distrik. Willowdene Riding School het destyds aan die Harrop-Allins behoort, ‘n familie wat ‘n groot rol in die omheiningsbedryf gespeel het.

In Oktober 2009 het ons vertel dat die historiese Willowdene melkplaas in die gebied was waar die N4-afritte Simon Vermootenweg en Rossouwstraat vandag is. Ian Harrop-Allin het toe vir ons vertel dat dié melkplaas sedert 1957 melk aan die ooste van Pretoria gelewer het.


Ian Harrop-Allin se ouers, George en Hazel

Soos die stad nader beweeg het, het Ian se pa, George, besluit om grond op Rietfontein naby Rayton te koop en die melkery soontoe te skuif.

Dié plaas is Willow Valley Farms gedoop en die familie het in 1972 daar begin boer. In 2009 het dié familie se 275,34 hektaar grond bestaan uit vyf plase, genaamd Willow Valley, David’s Place, Michael’s Gem, Dottie’s View en Ian se Branch-Out Tree Farms op Lulu’s Land.


Willowdeneweg in Die Wilgers

Harrop-Allinlaan in Die Wilgers

Ian Harrop-Allin, die jonger broer van George en Anton, is op 13 Maart 2012 oorlede.

Die enigste tekens wat vandag van die Harrop-Allins se tyd in Die Wilgers oor is, kan in straatname gevind word. Naby die Willows Crossing winkelsentrum sal jy straatname soos Willowdene en Harrop-Allin vind. Die Masonic Haven ouetehuis in dié gebied is deur die Harrop-Allin-familie geskenk.


Die Masonic Haven ouetehuis in Die Wilgers
.
.

Gretchen en Charl van der Merwe in 2009 by hulle foreldam in die Zwavelpoortspruit, waar hulle vir jare ‘n visvangplek en gastehuis bedryf het