Twee van ?De Volkstem? se redakteurs kom uit die dieretuin Print
News - Toeka se dae
Tuesday, 18 August 2009 04:47
Untitled Document

Twee redakteurs van ‘De Volkstem’ se wortels kan terug getrek word na Pretoria se dieretuin toe. Dis nou nie te sê hulle kom uit die aaphokke of iewers nie, hoewel die een op die terrein gebore is en die ander een daar gewoon het. Ons praat van Johannes Francois Celliers, stigter van die Pretoriase ‘De Volkstem’ en van Gustav Preller, ’n latere redakteur van dié koerant. Gustav Schoeman Preller is op 4 Oktober 1875 op die plaas Klein Schoemansdal, Klipdrif, Pretoria gebore. Die plaas was destyds die eiendom van sy grootvader aan moederskant, generaal Stefanus Schoeman en sou later die tuiste van Pretoria se Nasionale Dieretuin word.


Die Volkstem-gebou

In die 1880’s het JF Celliers in besit van Klein Schoemansdal gekom en dit herdoop na ‘Rus in Urbe’. Terwyl die Celliers-gesin daar gewoon het, is een van die dogters met Anton van Wouw getroud.

Dié plaas is in 1895 deur die Republikeinse Regering uit JF Celliers se boedel aangekoop om ’n dieretuin te begin. Die regering het dit vir £8,500 gekoop en die argiewe wys dat die grond toe deel was van die plaas Daspoort 192.


Jan FE Celliers, seun van ? De Volkstem? stigter, Johannes Francois Celliers

Dit sou egter ’n hele paar jaar wees voor die dieretuin uiteindelik tot stand kom. Die Jameson inval van 1895/96 was die eerste insident wat die planne in die wiele gery het. Die ou opstal het leeg gestaan en die Direkteur van Onderwys het die huis begin gebruik as De Tweede Staatstehuis, ’n koshuis vir ongeveer 20 leerlinge van die Staatsgimnasium. Die res van die plaas is verhuur aan ’n kwekery.

Taktiek
Dit was eers in 1899 wat daar diere na die dieretuin toe geskuif is en die manier hoe dit gebeur het, getuig van een man se effe onderduimse ondernemingsgees. Dr Jan Boudewyn Gunning was in daardie jare die direkteur van die Staatsmuseum. Hy het ’n versameling voëls en ’n paar soogdiere, wat uiteindelik opgestop sou word, in die museum se agterplaas aangehou.

Hy was goed bewus daarvan dat ‘Rus in Urbe’ aangekoop is as grond vir die dieretuin, maar dat dié planne in die wiele gery is. In 1899 moes die jong mans wat in die plaasopstal gebly het, Anglo-Boereoorlog toe gaan en die opstal het leeg gestaan. Dis toe dat Dr Gunning inwoners naby die Staatsmuseum gevra het om te begin kla oor die geraas en reuke van die diere in die museum se agterplaas. Hy het blykbaar baie gou toestemming gekry om sy groep diere te skuif na die grond wat ons vandag ken as die dieretuin.

Hulle het hul intrek by ‘Rus in Urbe’ op 21 Oktober 1899 geneem. Dr Gunning was direkteur van die dieretuin van 1899 tot 1914. In 1916 het die dieretuin nasionale status gekry en sy naam het verander na die Nasionale Dieretuin van Suid-Afrika, onder leierskap van die direkteur, Dr Alwin Karl Haagner. Blykbaar het die ‘Rus in Rube’ opstal gestaan waar die Akwarium en Reptielpark vandag is. Die opstal is egter platgeslaan toe dié park in 1974 oopgemaak het. ’n Nuwe direkteurswoning is reeds in 1968 gebou.


Só het ?De Volkstem? se mashoof gelyk

Taal
As die mure van dié opstal kon praat, sou hulle beslis Afrikaans gepraat het, siende dat twee groot kampvegters vir die taal hul tuiste daar gemaak het. Die drukker Johannes Francois Celliers het sy opleiding in die Paarl ontvang. Op 24-jarige ouderdom word hy ’n joernalis by ‘Het Volksblad’.

Hy is Pretoria toe gelok deur president Burgers wat hom gevra het om ’n pro-regeringskoerant, ‘De Volkstem’, in Pretoria uit te gee om as teenvoeter vir die Engelse koerante te dien. Die eerste koerant het op 8 Augustus 1873 die lig gesien. JF Celliers het in dié koerant openlike steun aan die Transvaalse burgers uitgespreek en daarom is hy in 1880 vir ’n maand lank deur die Britse regering gevange gehou. Genl. Joubert het egter gereël dat ’n bedrag geld ingesamel word sodat JF Celliers ná sy vrylating weer die koerant kan uitgee.

Dié het hy gedoen tot in 1881 toe hy sy drukkery aan die regering verkoop het om die grondslag te vorm vir die staatsdrukkery. Dieselfde jaar het hy Volksraadslid en sekretaris van die Afrikanerbond geword en hom toegewy aan die politiek tot sy dood op 4 Maart 1895.

JF Celliers was die vader van Jan FE Celliers, een van die bekende Afrikaanse digters. Selfs Jan het vir ’n jaar by sy pa se koerant gewerk voor hy skool toe is in Stellenbosch en Wellington. Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek, het Jan naby Colesberg geveg. Ná die oorlog verby is, het hy dit reggekry om deur die vyandlinies te glip, vermom in sy vrou se klere. Hy het sy gesin Europa toe geneem waar hy literatuur studeer het. In 1907 is hy terug in Suid-Afrika en het vir tien jaar vervelige vertalings gedoen vir die Departement van Binnelandse Sake. Jan het in 1919 professor geword by die Universiteit van Stellenbosch en het daar gebly tot sy aftrede in 1929. Hy is op 1 Junie 1940 in Johannesburg oorlede.


Gustav Preller

Baba
Dertig jaar nadat JF Celliers ‘De Volkstem’ in die lewe geroep het, het die koerant in 1903 verenig met ‘Land en Volk’. Een-en-twintig jaar daarna het die baba wat op die dieretuin se terrein gebore is, redakteur van ‘De Volkstem’ geword. Gustav Preller het Dr FV Engelenburg in 1924 opgevolg as redakteur, maar het in 1925 bedank om politieke redes en redakteur van ‘Ons Vaderland’, later ‘Die Vaderland’, geword. Hy het later ook redakteur van ‘Die Brandwag’ geword. Gustav het net omtrent drie jaar skoolopleiding gehad en het aanvanklik in Pretoria as winkelassistent, toe prokureursklerk en as klerk in die Departement van Mynwese gewerk. Hy is getroud met Johanna Pretorius, ’n afstammeling van beide generaal Andries Pretorius, held van Bloedrivier, en die Voortrekkerleier Piet Retief.

Gustav is op 7 Oktober 1943 oorlede en sy oorskot is op tradisionele wyse per waentjie na die familiebegraafplaas by Pelindaba vervoer waar hy begrawe is by die grafte van Marthinus Wessel Pretorius en die Voortrekkervrou, Deborah Retief.


Gustav en Hannie Preller

Gebou
Die twee ‘De Volkstem’ redakteurs wat uit die dieretuin uit gekom het, se opstal bestaan vandag nie meer nie, maar gelukkig het ‘De Volkstem’ se gebou nie dieselfde paadjie as die ou opstal geloop nie.

Die Volkstem-gebou is vandag ’n museum en is die oudste en enigste bestaande koerantgebou in Suid-Afrika wat uit die 19de eeu dateer. Die datum op die Volkstem-gebou is 1873, die stigtingsdatum van ‘De Volkstem’, maar die gebou is eers in 1898 gebou en die koerant was maar vir ’n paar maande in daardie gebou.

Dit is nie bekend wanneer die Suid- Afrikaanse Polisiedienste die gebou die eerste keer betrek het nie, maar in 1933 het die polisie reeds sekere van die kantore in die gebou gebruik. Ander kantore is afgestaan aan die distriksgeneesheer.

Die Sentrale Intelligensiedienste het ’n paar kantore beklee, maar is in 1951 uit die gebou uit. Toe het die polisie nog verskeie kantore gebruik, insluitende ’n stoorkamer vir argiewe, ’n sterkkamer vir alkohol wat as bewysstukke in sake gebruik is, ’n kantoor vir die registrasie van onwettige immigrante en twee lesingslokale. Die polisie se ‘rec’ klub biblioteek was ook in die gebou.

Op 6 Junie 1959 het die sekuriteitstak van die Transvaalse afdeling in die twee hoekkantore, op die hoek van Pretoriusstraat en Fonteinlaan, van die gebou ingetrek. Oor die volgende paar jaar het die polisie die Volkstem-gebou as stooren parkeerplek gebruik, maar op 17 November 1961 het die Departement van Openbare Werke aangekondig dat die gebou gesloop gaan word. Die polisie het die gebou in Desember 1961 ontruim, maar hy is toe nooit gesloop nie en die polisie het terug getrek.

Teen 1978 was die Volkstem-gebou reeds deel van die polisiemuseum. In 1990 is dié ou koerantgebou as nasionale monument verklaar.


Die dieretuin se gronde