Historiese skatte in gebied deur mynbou bedreig Print
News - Toeka se dae
Friday, 16 October 2020 12:57
Untitled Document

Angie Kleijn

Grondeienaars op die geskiedkundige Diamond Hill-slagveld het onlangs kennisgewings gekry dat daar op hulle grond vir silika gemyn gaan word. So ‘n mynproses sal die historiese verskansings, wat 120 jaar reeds bewaar word, vernietig.

Die Slag van Diamond Hill, in volksmond bekend as die Slag van Donkerhoek, het van 11 tot 12 Junie in die Engelse Oorlog, grootliks op Kleinfontein, die plaas van Pretoria-pionier, David Adolph Michael Botha, afgespeel en vandag is daar steeds verskeie begraafplasies van sy familie, asook ‘n provinsiale erfenisterrein, die Diamond Hill Militêre Begraafplaas.

Wie was dié Bothas wat vir geslagte op die plaas gewoon het en waar was hulle toe die plaas in ‘n slagveld omskep is?

David was die voorsitter van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) Volksraad in die worsteljare van broedertwis wat op die burgeroorlog van 1861–1864 uitgeloop het. Hy was een van die vroegste intrekkers in die Pretoria-gebied en sy eerste plaashuis, gebou in die laat 1840’s op die plaas Hartebeestpoort, staan vandag as die Pioniersopelugmuseum in Silverton bekend.

David is op 26 Mei 1806 in die Swellendam- distrik as die vyfde kind van Johannes Petrus Botha en sy eerste vrou, Maria Petronella, ‘n nooi Landman, gebore. Ná Maria se dood is Johannes met Helena Dorothea Scheepers getroud.

Dit is met Helena se dogter, David se stiefsussie Maria Elizabeth Carelse, wat David op 9 Oktober 1825 op Swellendam getroud is. Toe die Groot Trek begin het, was David ‘n getroude man van ongeveer 30 jaar oud.


Diamond Hill Militêre Begraafplaas
Foto: Peet Schabort op eggsa

Hartebeestpoort
David en Maria het vroeg in 1848 in die Pretoria-distrik aangekom en het langs die Moreletaspruit, wat destyds Rademeyersrivier genoem is, se breë oorstromingsvlakte gaan woon. Dié plaas, ideaal geleë vir akkerbou, was net noord van waar die Moreletaspruit deur ‘n poort in die Magaliesberg vloei en is Hartebeestpoort gedoop.

David se aansoek om die plaas is op 10 Desember 1850 toegestaan en aangeteken, maar die plaas is eers in 1853 deur veldkornet Andries Petrus van der Walt geïnspekteer, toe David reeds op Kleinfontein gewoon het. Guilliam Christoffel Vermeulen en sy skoonseun, Frederik Jacobus Matthys de Beer, het die plaas in 1853 by David gekoop.


Die Pioniersmuseum in Silverton, David Botha se eerste huis
Foto: Ditsong Museums

Silverton is later op ’n deel van die plaas aangelê en David se ou hartbeeshuisie het die eiendom van die Silvertonse stadsraad geword. Silverton is in 1964 by Pretoria ingesluit en die stadsraad het die huis in 1972 aan die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum geskenk.

David het Hartebeestpoort verkoop omdat hy ‘n plaas gesoek het met meer moontlikhede vir veeboerdery. Sy keuse was Kleinfontein, 25 km van Kerkplein en net meer as 1 658 morge groot. Dié plaas is op 14 April 1853 deur veldkornet Van der Walt geïnspekteer, maar het eers op 10 Maart 1859 met goewermentstransport op David Botha se naam gekom.

David het tot sy dood in 1879 op Kleinfontein gewoon, maar hy het die westelike gedeelte reeds in 1866 op sy seun, Johannes Jacobus, se naam geregistreer. ‘n Kaart van daardie jare wys ‘n fontein, ‘n dam, drie geboue, ‘n veekraal en landerye.


Burgermonument: Tweede Vryheidsoorlog 1899–1902, Kleinfontein Kultuurgemeenskap
Foto: eggsa

Politiek
In die 1850’s was David ‘n gesiene man in sy 40’s en hy het aktief aan politiek begin deelneem in ‘n tyd van groot politieke verdeeldheid en kerklike twiste. Hy is as Volksraadslid gekies by die Volksraadsvergadering op Scheerpoort, Magaliesberg, met die sitting van 14–24 Maart 1853.

David is verskeie kere daarná weer verkies en het die belangrike vergadering van ‘n ‘Committee Raad’, wat deur die Krygsraad benoem is om ‘n algemene Grondwet daar te stel, op 3 Februarie 1858 op Rustenburg bygewoon.

Hy is op die Volksraadsvergadering op 16–19 Februarie 1858 op Rustenburg tot voorsitter verkies. Dit is die vergadering waar die ZAR-vlag aanvaar is, MW Pretorius as president en Stephanus Schoeman as kommandant-generaal verkies is.


‘n Klipskans op Diamond Hill
Foto: Hannelie du Plooy

Geskiedskrywers vind dit duidelik dat David die Volksraad-besluit om president Pretorius verlof te gee om Oranje-Vrystaat toe te gaan, as onkonstitusioneel beskou het. President Pretorius is daarna ook as president van die Oranje-Vrystaat gekies en in ‘n staatsgreep in Potchefstroom in Desember 1860, het Stephanus Schoeman as waarnemende staatspresident oorgeneem. Hy het Willem Cornelis Janse van Rensburg as waarnemende kommandant-generaal aangestel.

Die Volksraad kon dié stap nie bekragtig nie en het vir alle praktiese doeleindes opgehou funksioneer. Waarnemende president Grobler en staatsekretaris Struben het bedank.


David Adolf Michael Botha se ‘Lijkstasie’
Bron: S.Afr.J.Cult.Art Hist. 1987,1(4)

Ontnugter
As Volksraad-voorsitter was David Botha nou betrokke in die gevolglike burgeroorlog van 1861 tot 1864 en het ook persoonlike verliese gely. Sy steunpilaar – sy skoonseun, Piet Botha, wat met sy jongste dogter, Maria Petronella, getroud was – is op 9 Oktober 1862 in ‘n skermutseling tussen regering-ondersteuners en navolgers van Stephanus Schoeman gewond. Hy is op 24 Oktober 1862 oorlede.

David was ontnugter en het hom uit die openbare lewe onttrek. Hy is op 26 Maart 1879 in die ouderdom van 72 jaar op Kleinfontein oorlede. Sy ‘Lijkstasie’ is op 27 Maart 1879 op die plaas Brakfontein opgestel – dit is ‘n lys name van mense wat ná sy afsterwe die laaste eer aan hom bewys het.

David se vrou is eers op 26 April 1890 op Kleinfontein oorlede en daar begrawe.


David Adolf Michael Botha en sy vrou, Maria Elizabeth Carelse, se handtekeninge op hulle testament
Bron: S.Afr.J.Cult.Art Hist. 1987,1(4)

Kootjie
David se jongste seun, Johannes Jacobus (Kootjie) Botha, gebore op 21 April 1839, het reeds die westelike gedeelte van die plaas besit en ná sy pa se dood het hy die res van die plaas geërf.

Kootjie was getroud met Martha Elizabeth Hendrina Badenhorst. Sy is op 23 Januarie 1890 oorlede en hulle het elf kinders gehad. Kootjie is op 17 Oktober 1890 ‘n tweede keer getroud met Elizabeth Johanna Pretorius en hulle het nog vier kinders gehad.


Infanterie (middel afstand) trek op teen versteekte Boereposisies op Diamond Hill
Foto: ‘Illustrated London News’

Nege jaar ná dié huwelik het die Engelse Oorlog, wat Kootjie-hulle die Drie-jarige Oorlog genoem het, uitgebreek. Min het Kootjie geweet dat die grootste militêre slag in die geskiedenis van Pretoria in sy 61ste jaar op sy plaas sou afspeel.

Dié slag was vreemd genoeg een van die veldslae waar beide Brit en Boer aanspraak op oorwinning gemaak het. Die Boere het hulle doel bereik om die Britse opmars ooswaarts te vertraag en die Britte sê hulle het daarin geslaag om die Boere, ná anneksasie op 5 Junie 1900, uit Pretoria te verdryf.


Die aanval van die City of London Imperial Volunteers (CIVs) en Coldstreams op Diamond Hill
Bron: Tekening deur William Barnes Wollen

Slag
Generaal Louis Botha se magte het op 9 en 10 Junie verdedigingsposisies op die Magaliesberg en Diamond Hill, ‘n vertakking van dié berg, ingeneem om die pad en die spoorlyn na die ooste te blokkeer.

Die Boeremagte het bestaan uit 19 burgerkommando’s, twee buitelandse vrywilligerskorpse en een Transvaalse Polisiekorps (ZARPS). Die Boere het omtrent 4 000 manskappe en offisiere gehad, 23 veldkanonne, een vestigingskanon (Long Tom) en drie outomatiese snelvuur-kanonne.

Die Britte het vier kavalleriebrigades gehad, twee berede infanteriebrigades, een berede infanteriekorps, drie infanteriebrigades en mediese korps. Daar was omtrent 20 000 Britse manskappe en offisiere, 49 veldkanonne, ses vlootkanonne en nege outomatiese snelvuur-kanonne.


Die Kleinfontein-graf van David Adolph Michael Botha (1869–1960): Kootjie se seun Dawie wat op kommando was
Foto: eggsa, Mieder Viviers

Die Kleinfontein-graf van Johannes Jacobus (Kootjie) Botha, gebore 21 April 1839, oorlede
10 Junie 1923
Foto: eggsa, Mieder Viviers

Veldmaarskalk Roberts het op 11 en 12 Junie aangeval en Diamond Hill ingeneem. Generaal Botha wou nie gehad het dat die Britte sy ander verdedigingsposisies moet aanval nie en in die nag van 12/13 Junie het hy besluit om terug te val na die ooste.

Die Britse ongevalle sluit 28 in wat in die veldslag gesneuwel het, 145 wat gewond is, waaronder sommige later oorlede is, en drie wat vermis is. Slegs drie Boere het in die stryd gesneuwel en 27 is gewond.


Die Kleinfontein-graf van Petronella Johanna (Pietjie) Botha (1869–1955): Dawie se vrou wat saam met die kinders konsentrasiekamp toe is
Foto: eggsa, Mieder Viviers

Winterplaas
Waar was die Bothas toe dié veldslag op hulle plaas afgespeel het? Die antwoord is in ‘n ongepubliseerde manuskrip, saamgestel deur kolonel Piet Botha, wat vertel dat Kootjie nie saam met sy seuns op kommando gegaan het nie omdat hy reeds in sy 60’s was.

Kootjie is in die begin van daardie winter van 1900 met sy gesin en beeste na die winterplaas in die omgewing van Rust-der-Winter, wat aan sy tweede vrou, Elizabeth Pretorius, behoort het.

Daar was geen gesinslede op die plaas ten tye van die veldslag nie. Die jong mans was almal op kommando en later in die oorlog, toe die Verskroeideaardebeleid afgekondig is en die Bothas terug was op die plaas, moes die vroue van Kleinfontein kilometers ver in die veld stap, “soos beeste” deur die Kakies aangejaag op pad konsentrasiekampe toe.

Ná die oorlog was alles op die eens florerende plaas vernietig. Die gesin moes na ‘n leë werf terugkeer.

Van die woonhuise was daar net kaal mure, gebars en verweer, oor. Van die trop beeste was daar geen spoor nie en daar was glo nie eers ‘n kuiken in sig nie. Plaasgereedskap, asook die ossewa en perdekar, was uitmekaar gebreek.


Dawie se seun, Andries Hendrik Botha van Kleinfontein, is op 3 April 1917 met Elsie Catharina Roos van Klipkoppies getroud
Foto: Manuskrip

Kolonel Piet Botha, wat die manuskrip saamgestel het
Foto: Manuskrip

Dawie
Een van Kootjie se seuns, David Adolph Michael (Dawie) Botha, was 31 jaar oud toe die Drie-jarige Oorlog uitgebreek het. Hy is op 8 Oktober 1869 op Kleinfontein gebore en is op 8 Februarie 1892 met Petronella Johanna (Pietjie), ook ‘n nooi Botha, getroud.

Dawie moes sy wapens en ammunisie afgee ná die vredesluiting by Vereeniging en hy het met net sy perd en saal na ‘n verwoeste plaas terug gekeer. Pietjie en die kinders is per trein vanaf die konsentrasiekamp terug gestuur en is by die Pienaarspoortstasie afgelaai. Nie Pietjie of haar twee seuntjies het eers ‘n paar skoene oor gehad nie. Die dogtertjie is in die konsentrasiekamp dood.

Een van dié kaalvoet-seuntjies was Piet, wat die manuskrip opgestel het, se pa, Andries Hendrik Botha, wat op 15 April 1894 op Kleinfontein gebore is.

Die gesin moes kleipotte by die swartmense, wat nog op die plaas gebly het, leen om water in te hou. Hulle moes ook by die plaasvolk melk kry en vet om kerse van te maak. Boere uit die omgewing het saad uitgeruil en Dawie het begin ploeg ná hy eers die balk van die ploeg, wat deur die Britte beskadig is, reguit gebuig het.


Klipmurasie teen die rotse op Diamond Hill
Foto: Hannelie du Plooy
.

Dit lyk amper soos twee ronde krale op
Diamond Hill
Foto: Hannelie du Plooy

Volksoog
Dié plaas, wat deur Volksraad-voorsitter David Adolph Michael Botha uitgelê is en wat omtrent 50 jaar later ‘n slagveld geword het, het weer in die 1914 Rebellie in die volksoog gekom toe generaal Chris Muller, veldkornette P Viljoen en M Bredenkamp en 42 ander mans op 26 Oktober 1914 by Kootjie se opstal ontmoet het. Hulle het beswaar gemaak teen die regering se besluit om Duits-Wes-Afrika in te val.

Kootjie is nege jaar daarná, op 10 Junie 1923, in die ouderdom van 84 jaar op Kleinfontein dood en hy lê in die familiekerkhoffie langs sy tweede vrou, Elizabeth Johanna.

In Desember 1938 het ‘n oorspronklike ossewa, wat uit 1853 dateer en die Bloedrivier-ossewa simboliseer, Kleinfontein verlaat op pad na die Voortrekkermonument vir die 100ste herdenking van die Groot Trek. In 1988 was die plaas die versamel- en eindpunt van die ‘Groot Trek 150’ herdenking.

Diamond Hill Militêre Begraafplaas is in Junie 1985 as ‘n nasionale monument verklaar. Kleinfontein Kultuurgemeenskap is in 1992 op ‘n gedeelte van die oorspronklike plaas aangelê.

Die ryke geskiedenis van dié gebied, veral gesien in die klipverskansings wat uit die veldslag dateer, sal vernietig word as mynmaatskappye die wêreld daar begin omdolwe.

Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za