Slawekind word land se eerste vroulike burgemeester Print
News - Toeka se dae
Wednesday, 18 August 2010 01:03
Untitled Document

Die eerste vroulike burgemeester in Suid-Afrika was ’n Pretorianer en ’n afstammeling van die legendariese George Rex, die stigter van Knysna wat volgens toeka se skindertonge Koning George III se buite-egtelike seun was. In die gees van vrouemaand fokus ons op Mabel Malherbe, Pretoria se burgemeester van 1931-32.

Dis nie aldag dat ’n verpleegster burgemeester word nie. Veral nie in die vroeë 1930’s nie. As dié verpleegster dan ook nog die land se eerste vrouetydskrif begin het en tot die Parlement verkies is, moet jy weet dat jy met iemand buitengewoon veelsydig te doen het.

Die Pretorianer Mabel Catherine Rex was 20 jaar oud toe die Anglo- Boere-oorlog uitgebreek het. Sy het dadelik by die Rooikruis aangesluit waar sy Kenne N de Kock Malherbe ontmoet het. Ná die oorlog het sy, met die hulp van ’n mev Koopmans- De Wet, na Nederland vertrek waar sy vir drie jaar as ’n verpleegster opgelei is by die Diakonessehuis in Haarlem.

Met haar terugkeer in 1904 het Mabel met Kenne getrou en haar aan liefdadigheid in Pretoria begin toewy. Sy het gou ’n prominente lid van verskeie vroueverenigings geword; en het op die uitvoerende raad van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie en die Nasionale Vroueparty gedien. As afgevaardigde van die Suid-Afrikaanse Raad vir Vroue, het sy die internasionale konferensie van vrouerade in Genève bygewoon.


Mabel Malherbe
Foto: Ancestry24.com

Boerevrou
Mabel het die Afrikaans-Hollandse Leesunie gestig en in 1919, met die aanmoediging van Eugène Marais, begin sy die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, ‘Die Boerevrou’. Die eerste uitgawe het in Maart 1919 in Pretoria uitgekom onder eienares, Mabel, se redakteurskap. In 1920 het Miemie Rothman, bekend as die skrywer M.E.R., vir ‘Die Boerevrou’ begin werk. Sy het assistant-redakteur van die tydskrif geword en het haar eerste kortverhale hier gepubliseer.

Ander prominente bydraers was Eugene Marais, FW Reitz, GR von Wielligh, Jan Celliers, AG Visser, F van den Heever (‘Toon’) en CM van den Heever. Kunstenaars soos Anton van Wouw, Pierneef en Erich Mayer het ook bydraes gemaak en daar was ’n argitektuur-afdeling, gelewer deur Gerhard Moerdyk. Die tydskrif het verskeie rubrieke gehad en selfs kinder- en babaafdelings, soos die een waar Sebastiaan Valentein Vom Hagen, die jongste seuntjie van mnr en mev S Vom Hagen van Gezina, se foto in 1919 verskyn het. As Sebastiaan nog lewe, behoort hy nou ongeveer 91 jaar oud te wees.


George Rex se graf
Foto: Knysna-holidays.com

Fokus
Tog was ‘Die Boerevrou’ nie die tipiese vrouetydskrif wat ons vandag ken nie. Mabel het baie klem geplaas op nasionale sake wat die Afrikaner-vrou geraak het. Daar was ook ’n sterk geskiedkundige fokus waar Mabel lig gewerp het op die ontwikkeling en karaktertrekke van die Afrikaner sedert die Groot Trek.

‘Die Boerevrou’ was ’n groot sukses onder lesers en het kritici se goedkeuring weggedra, maar die advertensies was maar skraps. Mabel wou net sekere soorte advertensies aanvaar en het ’n verbod geplaas op enige iets wat drank of gepatenteerde medisynes sou adverteer.

‘Die Boerevrou’ het finansieel al hoe meer in die moeilikheid geraak en is gedra deur Mabel se man, die regsgeleerde Kenne Malherbe. Op die ou einde het die skuld so groot geraak dat Mabel in 1931 besluit het om publikasie te staak.


?Die Boerevrou?, ?n maandelikse vrouetydskrif wat in 1919 deur Mabel gestig is

Burgemeester
Dit was die jaar toe sy Suid-Afrika se eerste vroulike burgemeester geword het. Mabel het voor dit reeds ’n aktiewe rol in Pretoria se openbare lewe gespeel en het vir altesaam ses jaar op die stadsraad gedien.

Sy het baie in politiek belanggestel en was een van die stigters van die vroue-afdeling van die Nasionale Party in Transvaal. Terwyl Mabel op die uitvoerende komitee was het sy vir vroueregte in Suid-Afrika baklei.

In Junie 1933 het sy ’n lid van die Transvaalse Provinsiale Raad geword en was LP vir Wonderboom van 1934-38. Dit het Mabel die tweede vrou en die eerste Afrikaanssprekende vrou wat tot die Parlement verkies is, gemaak.

Daar is mense wat sê dat die politieke uitblinkery iets is wat Mabel by haar voorsate geërf het. Sy is ’n afstammeling van George Rex, stigter van Knysna wat volgens toeka se skindertonge Koning George III se buite-egtelike seun by Hannah Lightfoot was. Volgens oorlewering is George na Suid-Afrika verban en is verbied om ooit te trou.


Wat het van Sebastiaan Valentein Vom Hagen geword? In 1919 se ?Die Boerevrou? is hy vir ?n kompetisie ingeskryf as die jongste seuntjie van mnr en mev S Vom Hagen van Gezina
Foto: Ancestry24.com

Knysna
George is in 1765 in Brittanje gebore. In 1804 het hy die plaas Melkhoutkraal gekoop en eienaarskap geneem van al die grond rondom die Knysna strandmeer. Die inheemse woude op dié grond het George geïnspireer om in houthandel betrokke te raak.

Dit was moeilik om die hout met ossewaens te vervoer, en George het voorgestel dat Knysna as hawe gebruik word. In 1817 het die skip Podargus daar aangekom om hout op te laai en die bemanning van die Koninklike Vlootvaartuig Emu het ’n veilige weg deur Knysna se gevaarlike seeingang (the heads) gevind vir dié skip.

In 1817 het Knysna ’n hawe geword vir vloot en kommersiële skepe. In 1830 is die eerste skip wat in Knysna met plaaslike stinkhout gebou is, te water gelaat. ‘Die Knysna’ het 140 ton geweeg en aan George Rex behoort.


George Rex se skip, die 127-ton ?Die Knysna?, was die eerste skip wat in Knysna gebou is.
Foto: Knysna-holidays.com

Slavin
Al het George nooit hier getrou nie, het hy 13 kinders gehad: vier kinders by ’n vrygestelde slavin, Johanna Rosina van der Caap, en nege kinders by een van haar dogters by ’n vorige meester, Carolina Margaretha Ungerer.

Die praatjies oor George se blou bloed en wat Brittanje se koningshuis oor sy Knysna-slavinne sou dink, het langer as ’n eeu geloop. Dit is eers in 2004 dat George se gebrek aan koninklike bloed bevestig is deur genetiese toetse op sy nasate.

Of Mabel geglo het aan haar moontlike koninklike herkoms, weet ons nie. Miskien was dit omdat sy bewus was van haar slawe-voorsate dat sy in die politiek opgestaan het vir vroueregte.

Mabel se rol in die Afrikaner-literatuur is erken toe sy in 1953 ’n eredoktersgraad in literatuur ontvang het van die Universiteit van Pretoria. Twee saamgestelde bundels van ‘Die Boerevrou’ kan vandag nog as Africana versamelstukke in die hande gekry word. ‘Die Boerevrou-boek’ is in 1950 vrygestel en ‘Juwele wat steeds bekoor’ in 1951. Mabel is op 1 Februarie 1964 in Nelspruit oorlede.


George Rex se agterkleinkind, Sanni Metelerkamp, het diť boek geskryf