Die president wat saam met diere moes damwater drink Print
News - Toeka se dae
Thursday, 21 October 2010 04:55
Untitled Document

Eendag was daar ’n president wat borg geteken het op baie noodsaaklikhede wat sy land nodig gehad het. Toe sy land geannekseer word, was hy pennieloos met baie skuld; hy het sy goeie reputasie verloor en is as verraaier uitgeskel; hy het sy gesondheid verloor en het saam met sy gesin in ’n skaapwagtershut in die Karoo opgeëindig waar hy half blind saam met diere moes damwater drink.

Afgetakel deur beskuldigings wat nie wou end kry nie, is hy op die jong ouderdom van 47 as ’n gebroke man oorlede. “Begrawe my in die hek van my skaapkraal, sodat elke spoor van my tot vergetelheid vertrap kan word,” was sy laaste wens.

Nee, dié is nie ’n roman nie, maar ’n ware verhaal. Die tyd is die 1870’s tot 1880’s. Die plek is Pretoria, Zuid Afrikaansche Republiek. Die man is president Thomas Francois Burgers. Hoekom hy die ‘s’ agter aan sy van gevoeg het, is nie bekend nie. Hy is op 15 April 1834 gebore as die jongste seun van Barend en Elizabeth Burger van die plaas Langfontein in die Kamdebo-distrik van Graaff- Reinet.

Thomas het aan die Universiteit van Utrecht in Holland teologie gaan studeer. Daar ontmoet hy Mary Bryson, ’n Skotse musiekstudent. Hulle is in 1858 getroud en kom saam terug na Suid-Afrika waar Thomas in 1859 Hanover se eerste dominee word.


Thomas Francois Burgers

Skors
Die klein Karoo-dorpie was glad nie voorbereid vir Thomas se onortodokse sienswyse nie. Hy het in ’n stormagtige geskil met die Kaapse Kerk-sinode betrokke geraak wat uiteindelik op ’n hofsaak uitgeloop het. Thomas is van kettery beskuldig en in 1864 is hy deur die sinode skuldig bevind en geskors. Die koloniale Hooggeregshof het die besluit ongeldig gevind en in 1865 is hy weer toegelaat in die kerk.

Toe MW Pretorius as president bedank het, het burgers van die Zuid Afrikaansche Republiek vir Thomas oortuig om homself as president verkiesbaar te maak. ’n Oorgrote meerderheid van 2 964 teenoor 388 stemme in die Transvaalse Volksraad was in sy guns. Hy is op 1 Julie 1872 op die ouderdom van 38 jaar ingesweer.

As Kaapse predikant moes Thomas vanuit die staanspoor ’n bittere stryd teen verdagmakery voer. Paul Kruger was aanvanklik teen Thomas gekant en was beïnvloed deur dominee JP Jooste. Dominees Jooste en Cachet, self Kaapse predikante, het nie van Thomas se mening dat predikante en onderwysers van Holland af ingebring moet word, gehou nie. Jooste en Cachet het ook gedurig vertel dat Thomas die land aan die Engelse wil uitverkoop.


Mary Burgers, ’n nooi Bryson

Borg
Thomas het in verskeie gevalle borg geteken vir noodsaaklikhede wat vir die land aangekoop moes word en, ten spyte van hewige teenkanting, het hy lang uitgerekte reise onder swak omstandighede aangepak. Hy het gepoog om Hollandse dominees en onderwysers Pretoria toe te bring.

In 1873 probeer hy vir die eerste keer die grense van die Barolongstam se gebied verander, maar faal. In 1875 is hy Europa toe om fondse in te samel om ’n spoorlyn van Pretoria na Delagoabaai te bou. Hy het £90 000 in Holland ingesamel en spoorlynmateriaal aangekoop. Toe dié materiaal in Delagoabaai land, moes dit dadelik verkoop word om die verskeping daarvan te betaal.

Ná nog so ’n reistog het Thomas teruggekeer na Pretoria om te vind dat hoofman Sekhukhune, koning van die Marota-stam van die Wes-Transvaal, die regering verontagsaam het en burgers koelbloedig vermoor het.

Sekhukhuni het militêre mag gebruik om heerskappy te verkry. As ’n resultaat is sy halfbroer en regmatige erfgenaam van die titel, Mampuru, gedwing om te vlug.


Die voorkant van die 1874 Thomas Francois Burgers Pond. Daar is slegs 837 van diť goue Ponde gemunt. Sewentig jaar later is daar gevind dat daar twee soorte gemunt is ? 695 van Thomas met ?n fyn baard en 142 met ?n dikker baard


Die agterkant van die Pond met die Zuid Afrikaansche Republiek se wapen
.
.

Oorlog
In Junie 1876 het Thomas die Volksraad oortuig om oorlog teen Sekhukhuni te verklaar. Thomas het self die opmars na Sekhukhune se tuiste gelei. Die burgers is egter so erg verslaan dat hulle moed opgegee het en besluit het om huis toe te gaan.

Hewige oorlogsbelasting is ingestel om geld in te samel om die rebellies te onderdruk. Min mense kon egter die belasting betaal. Die land was op die randjie van bankrotskap en die Volksraad was lamgelê deur ’n verdeeldheid oor hoe daar verder opgetree behoort te word. Dit het gelyk asof dit net ’n kwessie van tyd sou wees voor ’n burgeroorlog uitbreek.

Dit is toe dat die Britse regering vir Sir Theophilus Shepstone na Pretoria gestuur het. Thomas het vir Shepstone probeer oortuig dat ’n staande polisiemag van 200 mans ’n einde aan die republiek se probleme sou bring. Wat Thomas nie geweet het nie is dat Shepstone morele ondersteuning van ’n aantal Boere gehad het wat ongelukkig met Thomas se administrasie was. Dit is eers ná anneksasie wat Paul Kruger ’n groot skok gekry het toe hy die brief van sy “geliefde dominee Jooste” in ’n Engelse koerant gelees het wat dié ondersteuning duidelik gemaak het.


Sekhukhuni

Annekseer
Die Republiek is op 12 April 1877 deur die Engelse geannekseer en al die blaam daarvoor is op Thomas se skouers geplaas. Thomas het onder protes as president uitgetree.

Omdat hy, met al sy persoonlike besittings, pa gestaan het vir ’n hele aantal lenings vir die Republiek, was hy verarm toe hy in Mei 1877 Kaap toe is. Die Britse regering het ingestem om hom ’n jaarlikse pensioen van £500 te betaal op voorwaarde dat hy nooit weer in die Transvaal sou bly nie. Dié gebaar het gelei na beskuldigings van verraad teen Thomas.

In die Kaap kon Thomas nie werk kry nie; hy en sy gesin het in die uiterste armoede geleef en ernstige inwendige bloeding het hom so verswak dat hy dikwels bedlêend was.

Die Burgers-gesin het ’n ruk lank met ’n op-skuld-gekoopte ossewa rond geswerf, en Thomas het op ’n gehuurde plaas by De Dammen, net buite Hanover, met volstruise probeer boer. Later trek hulle na Schanskraal.

Dit is in dié tyd wat die gesin in ’n ellendige skaapwagtershut gewoon het en saam met diere damwater moes drink. Thomas was reeds bykans blind in die een oog en die ander een het vinnig verswak.

Eers aan die einde van Junie 1878 kry hy die beloofde pensioen, maar toe die rente op Thomas se skuld betaal is, bly daar feitlik niks van die geld oor nie.

Thomas is op 9 Desember 1881 in verarmde omstandighede dood. Hy is eers op Richmond begrawe en sy oorskot is later geskuif na Zoetvlei.


President Burgers is herbegrawe in die Helde Akker

Herbegrawe
Op 26 November 1885 het Paul Kruger met amptelike eerbewys vir Thomas laat herbegrawe in Pretoria se Helde Akker. Dit is eers toe Paul Kruger president van die ZAR word wat hy Thomas se ideale beter begin verstaan het en in baie opsigte sy beleid gevoer het: die bou van ’n spoorweg na Delagoabaai, en die invoer van Hollandse amptenare en onderwysers.

’n Jaar na Thomas se dood is ’n bundel kortverhale, ‘Tooneelen uit ons dorp’ wat Thomas aanvanklik vir die Kaapse Volksblad geskryf het, in Holland gepubliseer. Die opbrengs is gebruik om sy gesin se finansiële probleme te verlig. Thomas se weduwee Mary was verarm en kon haar man se vernedering in die Republiek nie vergeet nie.

Tog het sy, as gebore Skot, voortgegaan om hul kinders met ’n lojaliteit teenoor die Republiek groot te maak. Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek, het haar seuns as vrywilligers by die Boerekommando’s en haar dogters as verpleegsters by die Boere-ambulanse aangesluit.