Oom Langplaas se padkos Print
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 26 February 2019 06:23
Untitled Document

‘n Storie is ‘n ding wat soms vreemde en verre draaie kan loop. En so in sy wye omswerwinge tel ‘n storie mos maklik ‘n magdom verstommende stertjies en kinkels op, sê Gert Mossie.

Só het die ‘stoepstorie’ wat die ou anderdag op daai TV-program – wat hulle iewers in ‘n Kaaplandse kroeg ‘skiet’– vir hom half bekend geklink. Hy wil nou nie beweer die betrokke storie van die oom en die Pofadderse ‘spietkop’ is nie ook die ware reinheid nie, sê Gert, maar die soortgelyke storie van oom Langplaas Klaassen, kom reguit uit die perd se bek uit – kinkels en stertjies en al, dan.

Stories oor oom Langplaas en sy lewe in die ruwe bosveldwêreld aan die Soutpansberg se agterkant, is daar baie. Só het almal in die distrik geweet van die oom se neiging om die Lee Metford in te span as hy dalk ‘n verdwaalde wildsbokkie in die padreserwe (Langplaas) of naby die stofpaaie van daardie wêreld sou raakloop. ‘Padkos’, het oom Langplaas dit glo genoem.

Nou vertel hulle dat die oom weer op ‘n dag op pad van die dorp af plaas toe ‘n nuwe ‘ompad’ getoets het, toe so ‘n gelukkie in die vorm van ‘n stomme rooibok weer oor sy weg kom. Met die gelukkie veilig agter op sy gehawende ou bakkie word koers huis toe gekies.

Wat oom Langplaas Klaassen en min ander mense van die omgewing geweet het, is dat ‘n nuwe, jong amptenaartjie van Fauna en Flora knap in dié deel van die Soutpansberg begin werk het.

Doer voor in die stofpad, vertel hulle, sien die oom ‘n vreemde man langs sy bakkie staan en, soos gebruiklik in dié wêreld, hou oom Langplaas by die outjie stil om te hoor of dié dalk hulp nodig het, of sommer net wil gesels of só. Die amptenaar, met sy kakieuniform – wat tradisioneel ook al die boere van die gebied se uniform is – staan nader. Oom Langplaas skud sommer deur die bakkievenster blad en stel homself voor – soos dit hoort.

Hoe sake verder verloop het, is later deur die nuwe amptenaar self in die dorpie se kuiergat oorvertel: Hy verduidelik toe, sê die amptenaar, dat hy van Fauna en Flora is en dat hy ‘n paar vrae het wat oom Langplaas asseblief moet antwoord. Nee, maar dis reg Boetie, vra maar voort – ek luister, sê die oom.

Op die outjie se versoek wys oom Langplaas toe die Lee Metford en dié se ‘papiere’, die oom se persoonlike papiere en die ou bakkie se papiere en hy antwoord al die nodige vrae oor wie, wat, waar en hoekom.

Oor die rooibok agter op die bakkie verduidelik oom Langplaas dat hy toe mos mooi netjies die ding langs die pad sien lê het en toe laai hy dit maar op want dit sou sonde wees om dit daar te laat lê en tot morse gaan. Iemand het die bok seker gekwes en toe hol dit tot hier langs die pad.

Die outjie sê hy wou net in sy boeteboekie begin skryf, toe oom Langplaas hom keer. Hy moet nou net eers wag, want die oom het ook ‘n paar vrae. Hy wil ook eers die outjie se ‘papiere’ sien, want hoe moet oom Langplaas nou weet hy is regtig van Fauna en Flora?

Die amptenaar vertel dat die oom al die dokumentasie noukeurig bekyk het. Hy lees ‘n bietjie en dan loer hy eers ‘n slag na die outjie, kyk langsaam na die kiekie op die outjie se ID en dan weer na die outjie.

En so het dit aangehou totdat die oom die pakkies dokumente en goed deur die bakkievenster aan Fauna en Flora se man terug gee en met gesag sê: “ Nee, dit lyk vir my alles goed en reg, Boetman. Jy kan nou maar ry . . .”