Visplek-plesier op Christo se Skuldbult Print
News - Vreethans
Tuesday, 24 May 2016 10:49
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Gewoonlik sal ek wegbly van konsessie-kuierplekke af en die malhuise wat mense ‘malls’ noem, sal ek verkieslik soos ‘n sokkerwedstryd en die pes vermy. Maar op ‘n mooi Saterdag in Mei bevind ek en Metgesel ons by John Dory’s in die nuwe Olympus Village Mall.

Ter versagting kan ek meld dat ons lankal lus het vir ‘n proesel goeie seekos en dis presies waarin die John Dory-franchise spesialiseer en dat Olympus se nuwe koopsentrum nie werklik ‘n ‘mall’ in die nagmerrie sin van die woord is nie: Alles is in die oopte en van buite bereikbaar en nie ‘n babelse monster wat jou insluk, toevou en saam met ‘n menigte koopkoorsiges tot verdwalens toe meevoer in mammon se maag nie.


Lywige tongvis en garnaaltjies

Dit het baie lank gevat vir Olympus Village om sy staan te kry op die hoewe teen die helling, wat destyds deur sy eienaar, Christo Vlok, ‘Skuldbult’ gedoop is. Toe ontwikkeling die mooi hoewegebied begin insluk, het Christo hardnekkig vasgeskop en teenstand gebied, voor hy ook maar eindelik geswig en verkoop het. Borde is opgerig wat belowe het dat die koopsentrum in 2008 (dink ek) sou oopmaak en net anderdag eers, is die oopmaakbelofte gestand gedoen.

‘n Paar restaurante het staanplek in die een hoek van die nuwe sentrum gekry. Jy loop verby ‘n indrukwekkende Neptunis-beeld en kan by ‘n buitetafel neffens spuitfonteine of op die sypaadjiestoep of in die binnewerke van John Dory’s plaasneem.


Stoepfonteine met die speelpark in die agtergrond

Ons loop sit aan neffens die spuitfontein by ‘n laning van agt olyfbome. Te oordeel aan die ouderdom van die bome is dit sekerlik ‘n oorblyfsel van die oorspronklike plot, dink ek. Die water wat hier uit die plaveisel uit die lug binne spuit kan nogal erg suggestief werk op ‘n ou met ‘n vol blaas, dink ek ook.

‘n Vriendelike kelner pak die tafeltjie toe onder vyf groot spyskaarte: Twee vir soesji, twee hoofspyskaarte en ‘n staankaart met spesiale disse van die dag. Ons stuur die soesjikaarte terug om plek te maak vir die te-drinke wat sy aanbring. Nie dat ek veel teen soesji het nie, maar ek is redelik honger vandag.

Dit woel nogal by en om John Dory’s op dié mooi Saterdag. Heelwat mense wat gesellig kuier by die buitetafeltjies, gesinne wat verbystap en ouers saam met die kroos by die reuse aangrensende speelpark van plastiek. Een ouerpaar se kindertjies het hulle neuse vir die plastiese speelpark opgetrek en ons vermaak deur klere en al in die spuitfontein te baljaar.


Metgesel se stokvis thermidor met groente

Behalwe vir die spyskaart en die kelner het almal wat ek dié dag aldaar gehoor het, Afrikaans gepraat.
Met die lees van die voorgeregte reeds, sal jy kan dink dat John Dory eintlik ‘n Portugese naam moet wees. Jy kan ‘n kasige ‘Maputo’ broodrolletjie met knoffel teen R19, of ‘n geperi-peride calamari en chorizo-potjie teen R67 bestel. ‘n Mosselpot kos R53. Ek kom tot die besef dat ek heeltemal te lanklaas vars oesters geniet het, toe ek sien een kos deesdae al R18.

Benewens die agt voorgeregkeuses kan jy sewe soorte deelborde bestel. Die meeste hiervan is gelaai met seekos van uiteenlopende aard en omvang, by twee is ribbes en/of hoender bygevoeg en een is ‘n vegetariese bord. Die pryse wissel tussen R95 ens R285. Skyfies, rys, groentes of slaai kan saam met die meeste geregte bestel word.

Stokvis, koningklip, tongvis, calamari, garnale, mossels en oesters is die seekoskeuses by John Dory’s. Jy kan ook vleis in die vorm van Portugese en ander biefstuk, Prego rolle, ribbes en hoender bestel, sou jy nie na viskos voel nie. Die Prego kos R69 en 300 g se biefstuk, wat hulle ‘tender cut’ noem, weeg in teen R115, twee vlamgebraaide hoenderborsies teen R79 en 600 g varkribbes teen R149.


Waterpret

Maar, soos ek gemeld het, het ons ‘n vislus. Metgesel bestel van die spesiale disse van die dag se spyskaart af ‘n stokvis thermidor. Dit kos R89 en word versmoor onder ‘n kaassous met garnaaltjies en sampioene, gekroon met mossels en met uieringe daarneffens. Sy verkies groente daarmee saam en kry ruim porsies van soutpampoen en roomspinasie. Lanklaas of nooit, het ek Metgesel so uitgesproke gelukkig oor seekos sien reageer.

Ek besluit op die kombinasie van tongvis en ses garnale (prawns, Steve) met rys. Net eers enkele ietsies oor John Dory’s se garnale. Die sous (hulle noem dit hulle ‘famous shellfish basting’) is hemels en dalk net die beste wat ek in my lang garnaalloopbaan raakgeloop het. Jy kan tien garnale by JD bestel teen R99 of 15 teen R129. Ek sou voorstel jy doen afstand van die ekstra R30 en kry vir jou eerder 15. Nie baie groot, die garnale nie, maar baie smaaklik en darem ook nie krewel-klein nie.

Die tongvis was ‘n stewige kalant – lekker dik en bykans perfek na my smaak, soos die rys ook was.


Kuiertafels op die plaveisel voor John Dory’s

Die garnaaltjies en tongvis kos R135. Jy kan ook twee tongvisse, sonder garnale, teen dieselfde prys bestel. Twee stokvis filette kos R63, koningklip kos R165 en calamari met tjokkabuise en koppies kos R99.

Ons wou nog malvapoeding as nagereg aandurf, maar genoeg, dankie. Dit sou ons, soos die meeste ander nageregte by JD, R40 uit die sak gejaag het. Ontbyt word ook bedien.

Jy kan hulle bel by 012-991-2983.