Dit kuier vreet-vreet-so Kaapland toe en terug Print
News - Vreethans
Monday, 28 January 2019 10:11
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons druk die Moembai-taxi se neus suidwaarts vir ons gebruiklike skuursessie in Desember.  Die versoek is om van ons oorstaninge en aansitte langs die pad met die Bronnie se lesers te deel. Die eindbestemming is Hermanus. Ons het die trek af Kaapland toe beplan om vier oorslape in te sluit.

Op Klerksdorp ry motorprobleme ons vordering letterlik in die wiele. Nie ‘n plek waar ons sommer aspris sal oornag nie, maar ons eerste vakansienag is noodgedwonge in die Travel Inn neffens die grootpad na Kimberly. As jy ook dalk op ‘n dag gedwing word om in Klerksdorp te oornag – die Travel Inn is skoon, billik en die ontbyt is gangbaar.


Die prentjie van Waschbank se kuierdek af met sonsondergang

Die volgende dag knyp ons oë toe en sit ons die reis teen voormiddag in ‘n huurkar voort. Ons gekose roete vat ons verby Bothaville, Wesselsbron, Bultfontein en verby Soutpan tot op die N1. Ons sou die eerste aand by Truksvy op Soutpan oornag, maar gelukkig kon ons dit met die terugrit doen.

De Aar was die mikpunt vir die tweede oorstaning, maar dit lê weens die omstandighede te wyd en sal vir eers een van die plekke in die land bly waar ek en Metgesel nog nie was nie. Ons is gelukkig (baie) om weens ‘n kansellasie lêplek by Waschbank, Norvalspont per telefoon vas te maak. En watter aangename onverwagsheid was dit nie.


‘n Dubbel quiche en vrag slaai by Kelkiewyn op Villiersdorp

Jy draai af by die bordjie wat ‘Gariep’ sê. Waschbank lê op die Vrystaatkantse oewer van die Oranjerivier en is ‘n ware oase vir ‘n padmat reisiger en sy metgesel. Dis mooi langs die groot rivier wat lekker fluks en skoon voor die afsaalplek verbyvloei – anders as sy vaal en vuil genoot ten noorde.

‘n Knapsekêrel met die naam van Friday is by om te help om die tasse en goed in die gerieflike oornagkothuis te kry. Later bedien hy ‘n koue lafenis in die kroeg en bring die nodige uit na ons platsitplek op die groot dek wat oor die waters heen tot by die verre blou rante kyk. Toe Friday heelwat later die spyskaarte in die restaurant aanbring en die bestellings aandra, raak die oorsprong van dié man Friday se naam duidelik.


Hier werk ‘n kranige slagter en haar blokvroue

Die spyskaart is redelik uitgebreid met ‘n aantal tradisionele geregte op sy lys. Friday beveel die plek se sjefgemaakte pasteie aan en wie is ons nou . . . Nee, Friday is nie die sjef ook nie. Dié titel behoort aan die vrouedeel van die egpaar wat die plek bedryf. ‘n Wildpastei (R90) vir my en vir Metgesel een van hoender teen R80. Dit kom saam met groente en slaai en skyfies as jy wil. Dalk was dit die honger en die fraaie omgewing, maar ek glo nie ‘n wildpastei was vir my al lekkerder nie. Metgesel beaam my vermoede dat Waschbank se sjef uitsonderlik pasteivernuftig is.

Van Waschbank vat ons die ghriespad na Merweville, wat nie ‘n restourant het nie. Toe ‘n vriend, voor ons vertrek, hoor ons gaan twee nagte op Merweville oorstaan, was sy reaksie: “Hoekom? Daar is dan niks?” Ons hou nogal van niks.


Die Karoohuisie op Merweville waar ons twee nagte spandeer het

Ons bly in ‘n baie ou en baie mooi Karoohuisie (selfsorg) vol boeke en ons geniet die ‘niks’ wat eintlik baie is as jy mooi kyk. Die Tankwa Karoo, die ou dorpie en sy mense en die stilte is vir ons sielskos. Vir koukos moet ons ‘n ander plan maak.

Die verhuurder van ons Karoohuisie laat weet dat die dorp ‘n uiters kranige slagter het. Daar is ook ‘n bottelstoor en ‘n winkel, maar ons moet gou speel, want alles maak vyfuur toe. Tussen 12.15 nm en twee-uur is hulle ook toe vir middagete.


Truksvy se kerrieafval waaroor huis toe geskryf kan word

Die kranige slagter van die Douvoordag Slagtery is ‘n vrou. Sy word bygestaan deur ‘n span netjiese blokvroue. Natuurlik is die spesialiteit hier Koup-lam. Want Merweville lê in die Koup waar skaap se kind floreer en op sy beste smaak. Ons koop ‘n lamsribbetjie en gemarineerde braaihoender aan. Ook by Douvoordag kry ons die gebottelde bykosse van kerriekool en beetslaai. Ons braai onder ‘n baie ou en groot bloekomboom op ons baie groot oorbly-erf en ons geniet.

Met Merweville op die kerfstok ry ons teen middagete by Villiersdorp in. Opvallend skoner is dié dorpie as dié in die binneland waaraan ons gewoond is. Ons het met ‘n vorige skuurslag by Kelkiewyn aangedoen en was tevrede genoeg om weer aldaar aan te klop.


Soutpan se Truksvy

Kelkiewyn is ‘n mooi kuierplek op die oewer van ‘n helder waterlopie. Jy kan buite of op die kuierstoep aansit en jou te-ete van ‘n lywige spyskaart af kies. Ons kies quiche. Twee van byna pieringgrootte word vir elk aangebring saam met ‘n oordadige slaai en skyfies. Die dubbel-quiche kos R74 en sonder skroom kan ons dit aanbeveel. By Kelkiewyn kan jy ook kelderwyn per bottel of per kas aankoop.

Vandaar na Hermanus en omgewing, wat amper meer kuierplekke as permanente inwoners het. Een wat vermelding verdien is Harbour Rock – al is dit dan net vir die uitsonderlike uitsig wat die groot rondom-vensters oor die nuwe hawe, oop see en berge bied.


‘n Heerlike (klein) bakkie sop by Hermanus se Harbour Rock

Die ‘Rock’ is ‘n groot en netjiese restourant met ‘n lywige spyskaart en ewe lywige pryse. Ek en Metgesel bestel die aartappel-en-preie-sop as hoofgereg. Heerlik was die soppie, maar effe aan die skrapskant teen R105 per porsie, meen ek. Ander in die geselskap bestel swartmossels (R135), ‘n varktjop (R160) en ‘n lekseltjie calamari teen R145. Die lynvis van die dag kos R250 per porsie. Verder was die kuier by die plek met die uitsig heel aangenaam.

Met die terugtog slaap ons op Richmond in die Victoria Gastehuis oor. Dis ‘n pragtige, groot ou huis en teen R500 per nag vir twee kan ‘n mens dit aanbeveel. Die ontbyt is ‘n belewenis.


Provence Padstal buite Potch se imposante ingang

Volgende is Trompsburg, wat ontplof het sedert ons laas daar aangedoen het. Merkbaar is die yslike nuwe hospitaal en ‘n aantal nuwe eetplekkies. Só is Affie Plaas, vlak by die dorp se ingang, nuut vir ons. Op die ruim kuierstoep bestel ek ‘n Corniese vleispasteitjie met sous. ‘n Rasegte ‘paai-en-gravy’ soos van ouds. Lekker saam met slaai teen R45. Metgesel se lenterolletjies (Spring rolls) kos R42.

Ons geniet die plattelandse gemoedelikheid by Affie Plaas en vat die pad na ons laaste oorslaapplek op Soutpan – so 70 kilometer noord van Bloemfontein langs die ou (stil) pad na Bultfontein.


Kerkplein op Merweville

Soutpan is soos Merweville – net kleiner en hier is daar ook nie niks nie. Die nedersetting het ontstaan weens die destydse grootskaalse ontginning van sout uit die panne aldaar. Met die jare saam het die soutsaak getaan en daarmee saam ook die dorpie. En dis net hier waar twee ondernemende dames besluit het om Truksvy in die lewe te roep. ‘n Winkel (van die goeie ou plattelandse soort), oornaggeriewe en ‘n restourant is ingerig.

Deel van die slaapgeriewe is in die dorpie se uitgediende Standard Bank ingerig en word die ‘Standard Bunk’ genoem. Ons bly oor in ‘n ander ou huisie wat as ‘n netjiese selfsorgplek ingerig is en wat met lugversorging spog.


Swartmossels teen R135

Die restourant spits hom op tradisionele geregte toe en vir aandete bestel ek kerrieafval op stampkoring met groente en Metgesel kies ‘n romerige hoendergereg. Die vriendelike vroue van Truksvy bied aan om ons kos teen seweuur vir ons na die blyplek toe te bring. Later besluit ek, dis nou amptelik: Ek maak die tweede lekkerste skaapafval in die land. Nader aan ‘n perfekte afvalletjie, kan jy nie kry nie.

Metgesel deel ook komplimente oor haar dis uit en as bonus sluit ons die smaaklikheid af met lekker koekstruif.


Affi Plaas aan die buitewyke van Trompsburg

Vir ontbyt bestel ek van daai einste afval op pap en Metgesel ‘n billike braaibroodjie. Die ontbyt se prys was by die verblyf ingesluit en ek weet nie meer wat die aandete gekos het nie, maar ek weet dit was ‘n winskoop.

Op ons laaste skof huis toe hou ons anderkant Potchefstroom op die pad na Carletonville by die Provence Padstal stil vir ‘n ruskansie en botterbroodjies met room, kaas, konfyte en biltong. Die kuierplek is mooi ingerig en die stoepsit-kuiertjie was erg aangenaam.