Diep vark en bredie by nuwe Vlakvark Print
News - Vreethans
Tuesday, 25 June 2019 09:33
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons hoor Boschkop se Vlakvark het ‘n hele transformasie ondergaan. Die kuierplek en kroeg is vergroot en met ‘n reuse-grasdak bedek, ‘n funksieplek (ja, ek weet ‘venue’ is glo nou aanvaarde Afrikaans) is ingerig, braaiplekke, buitetafels en toegeruste tente is selfs as oornaggeriewe ingerig: ‘n Grootskaalse opknapping en as dit van die vroulike sogsoort was, sou jy seker van ‘n ‘make over’ kon praat.

Een mooi Sondag sit ons af soontoe om te loop kyk en te beproef. Die Vlakvark se ingang sit oorkant die polisiestasie s’n – minder as ‘n klipgooi van die Boschkopteerpad af.  Met die inryslag is dit duidelik dat hier moeite ingesit is. Netjies en skoon lyk alles. ‘n Klompie skrophoenders en ‘n werfkalkoen onderstreep die landelikheid van die plek.


Deel van die ‘oorgemaakte’ Vlakvark se binnewerke

‘n Opgestopte vlakvarkkop verwelkom jou by die ingang van die baie ruim kuierplek en kroeg. Ons loop sit aan by een van die groot houttafels en ‘n vriendelike jonkvrou is dadelik by om te hoor hoe sy kan help. Buite in die sonnetjie sit ‘n paar klante en kuier. Net een van die ander binnetafels is beman en bevrou.

Vlakvark het geen gedrukte spyskaart nie, omdat hulle disse so gereeld verander, sê vriendelike kelnermens. Op swartborde teen die muur is verskillende spyskaarte netjies met bordkryt opgeteken: Meestal in Engels, behalwe dat vlakvark nie ‘warthog’ geword het nie en onder ‘light meals’ kan jy roosterkoek teen R28 kry. Ander ligte etes sluit ‘n Vlakvark-burger teen R35 in, Pregorolletjie (R45) en verskillende geroosterde broodjies ook teen baie billike pryse.


Diep bosvarkvleis op die swaargelaaide bord

Metgesel se hoenderbredie

Kantdisse (‘sides’) sluit ook in Afrikaans, ‘n braaibroodjie, aartappelslaai, ‘chips’, slaai en pap en sous in. Kantdisse kos R18. Op die swartbord met die hofie ‘Mains’ lees ek van ‘n T-been wat R95 vir 500 g kos, ‘bunny-chow’ teen R55, deelborde en mandjies, en bredies (stew), ribbes en nog wat. Een swartbord vertel jou van ‘specials’ vir elke dag van die week en ook van ‘specials’ wat blykbaar oor ‘n langer termyn strek.

Sondae se disse is beperk tot keuses van kookkosse en bredies en dis vandag Sondag. Metgesel besluit op ‘n hoenderbredie en ek bestel iets wat ek nog net een keer in my prille beproef het en glad nie meer kan onthou hoe dit toe gesmaak het nie: Bosvark.


Die kroeg in die groot afsaalplek

Dit vat die kombuis net ‘n halwe bier lank om twee allemintige groot borde stomende kos aan te bring. Nie een van ons was die omvang van die oorlaaide borde kookkos te wagte nie. Sousige rys, bone, aartappel, soetwortel en dies meer is langs die hoop bosvarkvleis en in die hoenderbredie op ons borde maak pas – net-net.

Met mak vark en vlakvark is ek goed vertroud, maar die donker, swaar en geurige vleis van die bosvark vind ek vreemd, dog lekker. Jy kan maar sê dis ‘n diepvark dié. In die sousrakkie ontdek Metgesel ‘n granaatstroopbotteltjie en ek vind dat die stropie die diep wildsvleis goed komplimenteer. Ons geregte weeg in teen R90 elk.


Die verwelkomende vlakvark by die ingang

Metgesel en ek eet goed en aangenaam en te veel. Sy vind alles smaaklik, maar meen die wit hoendervleisie self is effe droog. Ons is tevrede – elk met ‘n volgelaaide brakbakkie – vort by die Vlakvark. Jy kan hulle bel by: 076-048-8896.