Hoe lank nog wag vir water? Print
News - Briewe
Thursday, 22 September 2011 10:43
Untitled Document

Waterloos van Zwavelpoort (Droogtepoort) skryf:
Is dit nie een van die heel basiese menseregte om toegang tot water te hê nie? Blykbaar nie as jy in Zwavelpoort bly nie.

Gaan ons dan nou vir ewig sonder water sit? Kan die groter metroraad wat ons gebied oorgeneem het nie iets daaraan doen nie? Ek hoor dat die stadsraad sê ons moet onsself voorberei om ‘n verdere twee maande sonder water te sit tot hulle ‘n oplossing vir die probleem gekry het wat aanvaarbaar sal wees vir alle partye.

Ek neem aan hulle praat nog steeds oor die pomp wat net sekere tye van die dag mag loop omdat dit die mense voor wie se huis die ding staan, uit die slaap uit hou. Sou Kungwini, voor hulle deur Tshwane ingesluk is, nie die ding geskuif het of ‘n gat of iets dergeliks gegrou het sodat die kontrepsie klankdig ondergronds kan raas nie? Wat het van daardie planne geword?

Ek hoor ook dat die Zwavelpoortse huiseienaarsvereniging die saak nou wil hof toe vat as hulle genoeg ondersteuning van waterlose hoewebewoners kan kry. My vraag is nou net: Hoekom is die waterloses so apaties? Hoekom woon julle nie die vergaderings by wat oor die waterkwessie gereël word nie?

Vertrou julle nou maar net dat die water soos ‘n wonderwerk uit die pype uit sal begin loop as julle lank genoeg wag? Dit kan mos nie so aangaan nie.