Bronnie is besonders Print
News - Briewe
Wednesday, 21 November 2012 07:27
Untitled Document

Mev L Brand van Garsfontein skryf:
Ek was glad nie bewus van die bestaan van u glanstydskrif, Die Bronberger, nie totdat ek heel toevallig in die Garsfontein Poskantoor was om ‘n heel onbenullige en onbelangrike transaksie te doen.
Terwyl ek my beurt in die tou afwag het ek die stapel tydskrifte in ‘n hoek raakgesien en gewonder wat dit is. Toe die persoon wat voor in die tou was een neem en uitstap, het ek dieselfde gedoen.

Dit was natuurlik Die Bronberger se September-uitgawe. Tuis gekom het ek dit deurgeblaai, weer deurgeblaai en weer, en gelees en weer gelees.

Ek is so dankbaar oor dié gelukkie wat sommer so uit die bloute in my hande beland het. Die advertensies; sommer hier naby my is die ‘Oregon Showroom’, al die kwekerye en restaurante (wat ek so graag besoek)! Hoop ek loop toekomstige uitgawes ook raak.

Vergewe my asseblief omdat ek so met die intrapslag op ‘n spelfoutjie wil wys (self-benoemde taalfoendie wat ek is).

Bl. 23, ‘Vreemde miswolke’, tweede kolom, sesde sin, moet wees ‘aantygings’ en nie ‘aantuigings’ nie.
Ook op bl. 25 – laaste kolom, bo, tweede sin – ‘aantygings’ en nie ‘aantuigings’ nie.
Moet asseblief nie hierdie as kritiek beskou nie. Ek dink u tydskrif is iets besonders en wil u gelukwens daarmee.

Baie dankie vir die gelukwensing, jou mooi woorde en vir die uitwysing van die spelfoute. Ons is eintlik dankbaar dat net twee spelfoute gevind is. Natuurlik is die mikpunt ‘n foutvrye tydskrif, maar as jy in ag neem teen watter spoed, soms in middernagtelike ure, so ‘n uitgawe deur net twee mense geskryf en geproef moet word, kan enkele foute ongelukkig verwag word. Dankie weer vir jou positiewe terugvoer. Ons sal voortaan eksemplare vir besoekers aan die poskantoor op die toonbank neersit. Dié wat in die hoek gestapel word, is bestem vir ons Mooiklooflesers se posbusse.- Red