Kersfees-waansin Print
News - Briewe
Tuesday, 10 December 2019 07:30
Untitled Document

Eus de Clerk van Cullinan skryf:
Kersfees! Net die wóórd bring wonderlike herinneringe en opgewondenheid. Families en geliefdes bymekaar; geskenke; flikkerende liggies (as Eskom dit toelaat); tafels wat kreun onder die kos en daardie vet ou man met sy rooi klere, rooi wange, wit baard en vlieënde takbokke.

By die groot inkopiesentrums is daar altyd ‘n plekkie waar jong moedertjies in toue staan om hulle stout kinders op Kersvader se skoot te laat sit. As die kleintjies eers sit, gaan die meeste van hulle erg aan die huil uit vrees vir dié onbekende oom met sy kranksinnige “Hô! Hô! Hô!” laggie.

Al die ander mammies wat nog in die rye wag, lag dan ewe gemoedelik saam, terwyl die arme skootsittertjie sy longe uithuil en belowe om volgende jaar (en die res van sy lewe) soet te wees.

Gewoonlik word daar ook nog foto’s van dié vernederende skouspel geneem – miskien net om die huilende kleuter vir die res van sy lewe in die verleentheid te stel.


Kersvader op Eus de Clerk se skoot

Hier is die ding wat pla: Het ons nie miskien die hele gedagte rondom Kersfees verloor nie? Gaan dit nou net oor Kersadvertensies, inkopies, eet, drink, ‘Boney M’, baljaar, en rinkink? Wat het geword van die oorspronklike rede, die tradisionele Christelike viering van die geboorte van Jesus?

Verbeel jou twee mannetjies van Venus land in een van ons stede in die middel van Desember, vermom hulself as Aardbewoners en loop in ’n inkopiesentrum rond.

Mxyz: “Bzzzt, eienaardige wesens, hierdie Aardbewoners.”

Ptlk: “Bzzzt, ja. Vernaam hul aanbidding van die Pinaceae plante. Kyk, die dennebome word opgemaak met liggies en gekleurde balletjies, en dan plaas hulle pakkies en offerandes rondom die plante se stamme.”

Mxyz: “Kyk! Daar gaan nog een met ‘n Pinaceae-afgod op sy kar se dak!”

Ptlk: “Kom ons gaan liewer huis toe; dié Aardse wesens is die kluts heeltemal kwyt.”

Brief verkort. – Red