Was dit die Bronnie se voorloper? Print
News - Briewe
Thursday, 10 December 2009 17:40
Untitled Document

Elize Olivier van Mooiplaats skryf:
Net vir die lekker, stuur ek vir julle ’n afskrif, gedateer 25 Junie 1987. Kon dit dalk die voorloper van Die Bronberger gewees het?

Ek het probeer om plotbewoners meer betrokke te kry, maar een van ons destydse Ingelse ploteienaars het my dadelik aangeval in die ‘Pretoria News’; gesê dit wil voorkom asof ek ’n tipe Boere/Burgermag hier wil begin.

Toe laat vaar ek die hele storie dadelik.

Ek het nog die afskrif van die skrywe omdat ek ’n reseppie met ons eerste en laaste byeenkoms agterop geskryf het. Dit lyk so:

‘Bostelefoon’
’n Gedagte het in ons midde ontstaan om ’n kommunikasieblad uit ons kleinhoewebewoners die lig te laat sien.

Die doel van hierdie blad sal wees om goedere, produkte, ens. uit te ruil en ook ons verskillende bekwaamhede bekend te stel.

Dit gebeur byvoorbeeld dat ons stoffeerwerk in Pretoria laat doen omdat ons nie weet dat die persoon ’n klipgooi van ons af dit ook kan doen nie, of vars produkte bederf in ons tuine omdat ons nie ’n afsetgebied het nie.

Op 4 Julie 1987 om 10 vm hou ons ’n stigtingsvergadering by mev Kruger se plot (voorheen Rinie Botha se plot), Boschkoppad, om die belangstelling in so ’n blad te bepaal.

Kom woon by en voltooi asseblief u besonderhede. Bring asseblief u teekoppie saam.

Baie dankie vir die stukkie geskiedenis, Elize. Dit is juis om die mense van dié gebied en die produkte wat hulle bied, aan mekaar voor te stel, dat ons Die Bronberger in September 2002 begin het.-Red