Boschkop Polisie antwoord aantuigings Print
News - Briewe
Wednesday, 24 February 2010 08:15
Untitled Document

Insp M Stolz van SAPD Boschkop skryf:
Die brief van E Heyns (Die Bronberger: Januarie 2010) verwys: Dit is vir SAPD Boschkop verblydend dat iemand uiteindelik die wortel van die kwaad raaksien en aanspreek.

Dankie aan mnr Heyns wat grondoorsaak aanspreek: naamlik werkverskaffing aan die onwettige immigrante, asook aan ongedokumenteerde persone, in baie gevalle deur partye wat die felste kritiek teen SAPD Boschkop het.

SAPD Boschkop verklaar hulleself ten volle bereid om die publiek by te staan deur profiele op voornemende werknemers te doen.

Sodoende kan daar vasgestel word of die persoon so eerbaar is as wat hy/sy graag wil voorgee.

Die kantoor kan ook nie anders as om kommentaar te lewer op mnr Heyns se opmerking dat sekere beamptes omkoopgeld aanvaar nie. SAPD Boschkop versoek dat mnr Heyns in kontak tree met die stasiebevelvoerder, supt The-Kisho, of insp M Stolz, die lid wat klagtes teen lede ondersoek.

Enige lid van die publiek kan gerus met SAPD Boschkop kontak maak waar gevalle van korrupsie moontlik mag voorkom.

Die aanname dat die sluikhandel in drank toegelaat word, is van alle waarheid ontbloot. Slegs gedurende die tweede helfte van Januarie is daar beslag gelê op die drankvoorraad van drie smokkelkroeë, asook verkoelings- en klanktoerusting. Die publiek word versoek om insp M Stolz, insp F Nolte of r/sers Fourie te kontak oor sulke persele.

SAPD Boschkop gee die versekering dat alle inligting ten opsigte van korrupsie en smokkelkroeë met die hoogste vertroulikheid hanteer sal word.

Brief verkort.-Red