Rowers skiet mekaar toe papegaai in Bull & Bush praat Print
News - Aktueel
Monday, 24 January 2011 06:29
Untitled Document

Rowers by Bull & Bush in Tierpoort het mekaar raakgeskiet toe Quintus Koster, ’n gereelde klant by dié kuierplek die ligte tydens die rooftog afgesit het. Twee van die vier rowers is raakgeskiet en een van hulle is later dood. Quintus se vinnige optrede het die lewe van sy vriendin, Wendy White, en Rowen van der Walt, wat besig was om die kroeg te sluit, gered.


Quintus Koster wys waar ’n rower se koeëls Bull & Bush se muur getref het
Foto: Cornél van Heerden

Die vier rowers het ongeveer 1 vm op 27 Desember by Bull & Bush ingestorm nadat hulle die kombuisdeur en ’n veiligheidshek oopgedwing het. Toe die skote begin klap het Quintus die hoofkragskakelaar, wat so vier meter van hom af was, afgeskakel en sy meisie agter ’n sigaretmasjien ingedruk om haar weg te steek.

Die rowers het in die donker nog 12 skote geskiet, maar net die mure en mekaar getref. Een van die rowers is twee keer in die kop getref en is twee ure later daar dood. Nog ’n rower is in die bolyf geskiet en is deur sy twee makkers weggedra. Die polisie het hom kort daarna op nabygeleë hoewe aangekeer en het op ’n 9 mm-pistool beslag gelê.


Karin van der Walt

Bull & Bush eienares, Karin van der Walt, sê hulle kan nie verstaan hoekom die rowers skielik op mekaar begin skiet het nie. Daar is omtrent sewe skote in die onbemande kantoor afgeskiet. Al teorie wat hulle het, is dat hulle papegaai, wat in die kantoor slaap, die rowers moes gegroet het toe hulle daar inkom.

Die gewonde rower is onder polisiebewaking in die Tembisa-hospitaal behandel. Die polisie soek nog na die ander twee rowers en ondersoek ’n saak van moord en poging tot roof.