Donker Desember vir Rayton en Cullinan Print
News - Aktueel
Monday, 24 January 2011 06:31
Untitled Document

Nokeng Tsa Taemane munisipaliteit het in middel-Desember na beraming ongeveer die helfte van Rayton en Cullinan se krag afgesny oor beweerde agterstallige rekeninge.

Krag wat afgesny is het selfs huiseienaars wat voorafbetaalde krag gekoop het, ingesluit. Dit het ook gevalle ingesluit waar die munisipaliteit se administrasie nog nie opgevang het met die oordrag van rekenings op nuwe huiseienaars se name nie.

Die krag is blykbaar afgesny om te probeer opmaak vir agterstallige munisipale diensterekenings. Phalane Motale, kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, beweer dat dit ’n krisis-beheer beleid is. Almal wie se rekeninge vir 30 dae of meer agterstallig was se krag is afgesny, sodat hulle gedwing word om hulle rekeninge te betaal.

Phalane het erken dat daar mense se krag afgeskakel is wat nie agterstallig was nie. Hy het gesê dat die krag per abuis afgesny is, en dat dié mense se krag weer aangeskakel is nadat hulle met bewyse by die stadsraad opgedaag het.

Ongelukkig was baie inwoners juis in die feestydperk met vakansie en kon nie self na die stadsraadkantore gaan om iets aan die saak te verander nie.