Bronberg het nuwe ?gatpad? Print
News - Aktueel
Monday, 28 February 2011 07:48
Untitled Document

Net ’n aantal maande ná Achillesweg in Zwavelpoort teen groot koste deur Kungwini geteer is, het ’n paar goeie reënbuie dit omskep in ’n nagmerrie gatpad.


Só het Zwavelpoort se nuwe teerpad ná die reën gelyk
Foto’s: Tania Potgieter

Kungwini se kontrakteurs het verlede jaar voortgegaan met die teer van die pad, ondanks herhaalde waarskuwings deur ’n padkenner van die omgewing, Chris Kunneke, dat afskeepwerk met die kompaktering gedoen is en dat die pad binne ’n paar maande ’n gatpad sal wees. Volgens Chris was nie naastenby genoeg gruisklip gebruik nie.


Die onvoltooide, oop stormwatersloot voldoen aan geen veiligheidsregulasies nie

’n Uitvoerende amptenaar by Kungwini het Die Bronberger destyds die versekering gegee dat die kontrakteur sy aanvanklike brouwerk reggemaak het, en dat die kompaktering met genoeg gruis ‘oorgedoen’ is.


Onderhoudwerkers is bykans permanent besig om die gatpad te lap

Die pad was skaars geteer toe die eerste slaggate begin verskyn en ’n span onderhoudwerkers het ywerig met lapwerk begin. Met die onlangse swaar reën was bykans die hele pad een groot slaggat en die onderhoudwerkers het in erns met hulle lapwerk begin.


Hier kan gesien word hoe die pad verbrokkel

Volgens Chris kan ’n mens bespiegel dat Achillesweg nie vir die gerief van die inwoners geteer is nie, maar as ’n permanente werkskeppingsprojek. Alle denkbare regulasies en riglyne is oortree met die bou van die pad en die oop stormwatersloot langs die pad, wat nog nie voltooi is nie, voldoen nie aan ’n enkele veiligheidsregulasies nie, sê Chris.