Rou riool beland glo in Zwavelpoortspruit Print
News - Aktueel
Monday, 28 February 2011 08:08
Untitled Document

Bewerings dat rou riool in ‘groot volumes’ in die Zwavelpoortspruit en in sy damme beland weens ’n foutiewe rioolstelsel by die Bluewater Creek ontwikkeling in Zwavelpoort is deur ’n buurman van die ontwikkeling in ’n brief aan Kungwini se gesondheidsdepartement gemaak.

Die buurman, Douw Venter, sê in die brief sy klagte is teen die ontwikkelaar, Lebra Developments, die huiseienaarsvereniging van Bluewater Creek en ook “sommer teen diegene wat verantwoordelik is by Kungwini vir die afteken van sulke ontwikkelings en hulle voorwaardes”. Douw sê sy “grootste probleem” is dat sy boorgat laer as sy damme sit en dat hy in hierdie stadium “rioolwater” in sy damme het. Dit is volgens die brief, ná ’n doktersbesoek, vasgestel dat ’n vrou van ’n naburige hoewe E. coli parasiete in haar gestel het weens die verswakte gehalte van die drinkwater.

Volgens Douw het die huiseienaarsvereniging van Bluewater Creek en mnr W Cawood wat vir die onderhoud van die rioolstelsel se pompe verantwoordelik is, hom verseker dat foutiewe pompe vervang is. Hulle het hom ook meegedeel dat “swaar weer” deels verantwoordelik is daarvoor dat riool in sy damme beland het.

Hy het talle gesprekke gehad met Henk Botha en sy pa, Phillip Botha, van Lebra Developments in verband met skade, maar hulle voel volgens Douw “blykbaar nie verantwoordelik nie”.


Een van die foto’s wat Douw Venter aan Kungwini se gesondheidsdepartement gestuur het om die besoedeling van die Zwavelpoortspruit te wys

Douw noem ook in die brief dat beloftes wat deur die ontwikkelaar gemaak is oor maatreëls soos ’n opgaartenk wat sou keer dat rioolwater “ontsnap” as die pompe onklaar raak, nie nagekom is nie. Ander beloftes oor die opgradering van toegangspaaie is volgens hom ook nie gehou nie.

Henk Botha van Lebra sê dat alles wat hulle voor die ontwikkeling onderneem het om te doen, gedoen is en alles is volgens voorgeskrewe riglyne gedoen. Henk sê hy raak moeg daarvoor dat sy naam telkens met probleme in die gebied “beswadder” word.

Die dag toe hy as ontwikkelaar die projek aan die huiseienaarsvereniging oorgegee het, moes sy verantwoordelikheid daarvoor vir alle praktiese doeleindes geëindig het, sê Henk. Hy voel hom egter as grondeienaar in die projek nog genope om te help met enige probleme wat opduik.

Die rioolstelsel is soortgelyk aan die Lilliputstelsel waar rou riool afgebreek word tot aanvaarbare vlakke voor dit vrygelaat word.

Dit is juis destyds besluit om so ’n stelsel te gebruik, omdat Henk gemeen het dat Franse putstelsels vir elke woning, soos in Mooikloof, besoedelingsprobleme sal veroorsaak. Al die nodige riglyne is gevolg voor ’n buitemaatskappy die stelsel ingesit het.

Volgens Henk het die stelsel vir vyf jaar sonder probleme gewerk. Die uitermatige baie kragonderbrekings in die afgelope tyd, iets wat niemand kon voorsien nie, het egter veroorsaak dat probleme wel ontstaan het. Om dié probleem uit te skakel is nou besluit om ’n noodkragopwekker aan te skaf, sê Henk.

Douw maak verder volgens Henk aantuigings sonder dat hy dit met feite kan grond. Henk gaan die water in die spruit bokant die ontwikkeling laat ontleed en ook die spruitwater stroomaf van Bluewater Creek, sodat met sekerheid gesê kan word waar die besoedeling vandaan kom en of dit op onaanvaarbare vlakke is.