Rietfontein plotbewoner doodgeslaan in padwoede Print
News - Aktueel
Thursday, 21 April 2011 17:41
Untitled Document

Koos (Smiley) Vermeulen van die Rietfontein-plotte is dood nadat hy op Vrydag 1 April met die vuis geslaan is in ’n padwoede-voorval by die kruising van Delmasweg en De Villebois Mareuilrylaan. Die man wat Koos bygedam het, het van die toneel weggejaag maar is agterna gesit deur ’n ooggetuie. Die ooggetuie het ’n papiertjie met ’n registrasienommer op in Koos se vrou, Marguerite, se hand gedruk op die ongelukstoneel.

Marguerite het oomblikke ná die voorval met haar motorfiets op haar man afgekom waar hy op die teerpad langs sy bakkie gelê het. Hulle het dié oggend minute na mekaar van die huis af vertrek.

Volgens ooggetuies het die aanvaller Koos glo twee keer met die vuis geslaan nadat albei uit hul voertuie geklim het. Koos het daarna inmekaargesak. Toe Marguerite daar aankom het Koos nog geleef, maar was bewusteloos en bloed het by sy mond uitgeloop.


Koos Vermeulen

Hy het ernstige kopbeserings opgedoen en is daardie aand geopereer om druk op die brein weens swelling te verlig. Hy is die Dinsdag weer geopereer om bloeding op die brein te dreineer nadat ’n aar in sy kop gebars het. Sy breinstam is beskadig en hy het nooit ná die aanval sy bewussyn herwin nie. Koos is Woensdag 6 April in die Kloof-hospitaal dood.

Die 45-jarige Jaco du Toit is in verband met die voorval in hegtenis geneem en het op Vrydag 8 April in die Pretoriase landdroshof verskyn. Hy het onskuldig gepleit op die aanklag van moord op die 62-jarige Koos en is op R20 000 borgtog vrygelaat met die voorwaarde dat hy nie die staatsgetuies mag beïnvloed nie.

Volgens Jaco het hy vir Koos geslaan uit selfverdediging. Hy het gesê dat hy weggejaag het omdat Koos se werknemers agter van die bakkie afgespring het om Koos by te staan. Hy het glo direk na die Silvertonse Polisiestasie gery om ’n klag van aanranding te open.

Koos was ’n sakeman en besturende direkteur van sy eie onderneming, Vermillian-verf, in Capital Park. Koos en Marguerite was 35 jaar getroud. Hy word ook oorleef deur twee dogters, Johaliza Potgieter en Sulenza Vermeulen, ’n seun, Johan, vier kleinkinders, twee broers en twee susters.