Waterprobleem kom van ver af Print
News - Aktueel
Thursday, 21 April 2011 17:42
Untitled Document

Zwavelpoort-wes was die afgelope maand weer waterloos. Inwoners wat van pypwater gebruik maak het deur die dag nie ’n druppel water gehad nie en snags min of geen water nie.

Volgens Zwavelpoorter Andre Erasmus, is die probleem te wyte daaraan dat die waterpypstelsel verkeerd ontwerp is. Hy sê dat die pompstasie se water ontvang word van water wat die Faerie Glen reservoir voed. As daardie reservoir vol is, sluit die kleppe en geen water word na die pompstasie in Achillesweg deurgelaat nie.

André sê dat die water deur ’n 250 mm pyp van die Achillesweg pompstasie tot by Ajaxweg gevoer word. Daar vernou dit tot ’n 75 mm pyp wat in Achillesweg afloop tot by Saalstraat, van waar ’n 250 mm pyp weer oorneem. Dié dikker pyp loop langs Saalstraat af en ook van die hoek van Saalstraat en Achillesweg tot by Sainststraat.


Dié sloot in Saalstraat het in Januarie 2005 gereed gelê vir die waterpype
Foto's: Uit Die Bronberger, Februarie 2005

Daar is ’n ongeveer 75 meter styging van die pompstasie tot die hoogste punt en die bestaande pomp lewer nie genoeg druk om die water teen die bult uit te kry nie. Wanneer die water in Sainststraat begin afloop, tel dit weer druk op en mense in laer liggende gebiede het weer water.

Volgens André kan die bestaande pomp nie die volume water by al die gebruikers kry nie. Hy sê dat die pompstasie onlangs opgegradeer is met twee groter pompe en nuwe toerusting, maar blykbaar werk die pompe nie omdat hulle vir ’n onbekende rede nie aan die Tshwane Metroraad se kragnetwerk gekoppel kan word nie.

Private instansies wat bykans sewe jaar gelede begin het om die pypwater netwerk daar te stel, sê die probleem is dat Kungwini se grondgebruikstrukture op daardie stadium aangedui het dat Zwavelpoort landbouhoewes net op ’n sekere manier opgedeel kon word. Die pype is dus vir ’n beperkte hoeveelheid gebruikers daargestel.


Kruipers en slootgrouers in Januarie 2005 besig met die slote vir die waterpype

Met Die Bronberger se heel eerste uitgawe in September 2002 het ’n woordvoerder van Kungwini berig dat Zwavelpoort landbougrond is en dat onderverdeling nie na kleiner eenhede as 4,2 ha mag wees nie. "In sekere gevalle waar gepypte water aangelê kan word, kan hoewes in eenhede van 1 ha onderverdeel word," het hy gesê.

In Desember 2003 het Die Bronberger berig dat die plan was om ’n Artikel 21 maatskappy in Zwavelpoort op die been te bring om self gepypte water aan te lê en self water in grootmaat by Randwater aan te koop.

In September 2004 was so ’n maatskappy nog nie op die been nie, maar ons het berig dat die interim reëlings getref is deur Lebra Developments, ’n ontwikkelaar in die gebied. Die raadgewende ingenieur wat die langtermyn waterpyp beplanning vir die Kungwini gebied gedoen het was Gerrie van Heerden.

Volgens ontwikkelaars in dié gebied was 1 ha onderverdelings die beleid tot 2004. Mense kon dan aansoek doen vir ’n tweede, derde en vierde woning op die 1 ha onderverdeling.


Die sloot vir waterpype in Achillesweg in Januarie 2005

Van Desember 2005 kon ontwikkelaars aansoek doen vir halwe hektaar onderverdelings en hulle het dan aansoek gedoen vir ’n tweede woning op die halfhektaar op ’n deeltitel basis.

Omdat dit onderverdelings van gedeeltes van plase was, is ontwikkelaars nie gedwing om formele dienste te lewer soos die geval sou wees in residensiële dorpstigting nie. Die enigste voorwaarde was dat hulle munisipale water aan die onderverdelings moes verskaf.

Sedertdien het Kungwini begin om ontwikkelings van tot 44 eenhede per hektaar in sekere dele van Zwavelpoort goed te keur, ten spyte van die gebrek aan infrastruktuur.

Blykbaar is Kungwini nou besig met ’n elektrisiteit, riool en paaie 'meesterplan' vir die volgende vyf tot tien jaar.