Ergste perdesiekte in tien jaar Print
News - Aktueel
Thursday, 19 May 2011 15:17
Untitled Document

Die meeste gevalle van perdesiekte in tien jaar is vanjaar opgeteken.

Volgens Douglas Welsh, voorsitter van die Afrika Perdesiekte Trust, is 888 gevalle van Afrika-perdesiekte in die afgelope ses maande landwyd opgeteken, waarvan 594 perde gevrek het.

Dié gevalle word nog deur staatsveeartse en laboratorium-resultate nagegaan. Douglas sê dit blyk uit die opgetekende getalle dat 85% van perde wat nie teen perdesiekte ingeënt is nie, sterf, terwyl minder as 30% van die perde wat wel ingeënt is, sterf.

Dié siekte is vanjaar ook in gebiede aangemeld waar in meer as 40 jaar geen gevalle opgeteken is nie. Perde onder vier jaar en perde wat nie op stal staan nie, is erg geraak. Besmette perde moet van ander perde afgesonder word omdat perdesiekte ’n hoogs aansteeklike seisoenale virus is wat alle perdespesies raak.


Dié vroeë waarskuwingskaart word daagliks opgedateer by www.africanhorsesickness.co.za. Die rooi kruise is die mees onlangse gevalle, gevolg deur geel kruise. Die swart kruise dui ouer uitbrake dié jaar aan.

Die virus word deur muggies, wat besmet word deur op besmette perde te voed, oorgedra. Daar is twee vorme van dié siekte, dikkop en dunkop, en in albei vorme het die perd ’n baie hoë koors. Die neusgange, oë, kop en nek swel op; vog bou in hulle longe op en die perd versmoor op die ou einde.

Volgens prof Montague Saulez van die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenykunde by Onderstepoort, is ongeveer 40 perde die afgelope maand daar behandel.

Hy sê dat jy jou veearts dadelik moet bel as jy vermoed dat jou perd siek is. Hoe vroeër die perd ondersoek kan word, hoe beter.