Aggresiewe plakkers betrek Kleinzonderhout Print
News - Aktueel
Thursday, 19 May 2011 15:19
Untitled Document

Inwoners van gronde in die omgewing van ’n munisipale plaas van 10 000 ha op Kleinzonderhout, vrees vir hulle eiendom en lewens ná ’n groep ‘baie aggresiewe’ plakkers die munisipale plaas beset het.

Die meeste plakkers wat hulle op die plaas wil tuismaak, is afkomstig van Kanana, ’n nabygeleë plakkerskamp. Die besetters bestaan uit sowat 200 gesinne.

Die plaas behoort aan die Metsweding-distriksmunisipaliteit waaronder Nokeng Tsa Taemane (Cullinan en Rayton) en Kungwini ingedeel is. Die hele gebied gaan ná die verkiesing by Pretoria ingelyf word, wat die probleem dan Pretoria s’n sal maak.

In die tweede week van Mei het Metsweding ’n hooggeregshofbevel bekom wat die plakkers verbied om die plaas te betree sonder die skriftelike toestemming van die munisipaliteit.

Die plakkers het hulle blykbaar afgevee aan die hof se bevel. Beeste van plaaswerkers en boere van die omgewing het tot dusver met die toestemming van Metsweding op die munisipale plaas geloop. Dit word gevrees dat die beeste sal deurloop onder die plakkers se slagtersmesse. Foto’s wat by die hof ingedien is, wys duidelik hoe onwettige strukture op die munisipale plaas opgerig word.


Vroeër het inwoners van Kanana só gereageer toe daar sprake van hulle verskuiwing was. Nou blyk dit dat hulle vrywillig en onwettig na ’n munisipale plaas by Kleinzonderhout wil skuif
Foto: Graeme Campbell

Volgens Ernest Chipu, Metsweding se regsadviseur, het hy in Maart gaan kyk wat op die plaas aangaan toe hulle berig gekry het dat die plakkers besig is om hulle daar te vestig.

Ernest het ao James Fraser van die Welbekendse polisiestasie daar aangetref waar hy besig was om sowat 150 gewapende plakkers toe te spreek. Ao Fraser het die mense gemaan om nie op die plaas in te trek nie, omdat dit onwettig is.

Ernest Chipu het ook met die mense gepraat en volgens hom was hulle leiers baie aggresief en het hy vir sy lewe gevrees. Terwyl hulle besig was om met die besetters te praat, het mense met grawe rondgeloop en was hulle besig om vir hulle ‘erwe uit te meet’.

Die leiers het daarop aangedring dat die burgemeester self na hulle toe moet kom sodat hy die plakkers se ‘memorandum’ in ontvangs kan neem.

Volgens ao Fraser sal dit baie moeilik wees om die plakkers te verwyder as hulle eers op die plaas gevestig is. Hulle is volgens hom ‘militant’ en die moontlikheid van verlies aan eiendom en lewens kan nie buite rekening gelaat word nie.