Twis neem wending Print
News - Aktueel
Wednesday, 26 September 2012 00:38
Untitled Document

Professor Daan Prinsloo van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) Bronkhorstspruit Boere-unie tak het die munisipaliteit oor grondbelasting gedagvaar. Sy saak het die Openbare Beskermer genoop om navorsing te doen oor die twis tussen Tshwane munisipaliteit en eienaars van landbougrond.

Prof Daan het na verskeie onsuksesvolle pogings om met amptenare van die voormalige Kungwini Munisipaliteit te skakel om sy grondbelastingrekening reggestel te kry, besluit om die saak by die Openbare Beskermer aanhangig te maak.

‘n Dagvaardiging is op 7 Augustus aan die munisipaliteit uitgereik. ‘n Vergadering is daarna gehou met ‘n opvolg vergadering op 23 Augustus.

Rabatte
Volgens wetgewing moes die vorige Kungwini Munisipaliteit sekere rabatte aan grondeienaars op plase toestaan omdat dienste, soos kragvoorsiening, riooldiens, waterverskaffing en afvalverwydering, nie deur die munisipaliteit op landbougrond verskaf is nie.

Die munisipaliteit moes persentasies aan elke diens toeken en die totale bedrag vir rabatte dan van die grondbelasting wat op die eiendom gehef was, aftrek. Kungwini-amptenare was van mening dat die tydperk vir toekenning van rabatte net vir Julie 2008 tot Junie 2009 gegeld het.

Die Openbare Beskermer kon egter geen gronde vir dié beskouing vind nie en het versoek dat die amptenare op 23 Augustus vir haar die bewyse gee waarop hulle die veronderstelling gegrond het. Indien dit nie gedoen kon word nie, sou die wetgewing van toepassing wees van Julie 2008 tot Junie 2011.

Formule
Julie 2008 tot Junie 2009: Heffing van R0,0050 R/vir Rand op die waardasie van die eiendom (nadat R15 000 van waardasie afgetrek is).

Julie 2009 to Junie 2010: Heffing van R0,00135 R/vir Rand op die waardasie van die eiendom (nadat R15 000 van waardasie afgetrek is).

Julie 2010 to Junie 2011: Heffing van R0,0015 R/vir Rand op die waardasie van die eiendom (nadat R15 000 van waardasie afgetrek is).

Daar is by die vergadering ooreengekom dat dié formules aanvaar word en dat regstellings gedoen sal word vir alle eienaars van landbougrond waar die toepassing nie korrek gedoen was nie.

Die senior ondersoekbeampte van die Openbare Beskermer se kantoor het versoek dat alle benadeelde grondeienaars kompensasie moet ontvang en dat rentes afgeskryf moet word. Daar word geraam dat nagenoeg 4 000 grondeienaars hierdeur geraak word.

Betwis
Op die 23 Augustus vergadering het Tshwane sekere aspekte oor die interpretasie van aanbevelings wat deur Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake gemaak is, betwis.

Die Openbare Beskermer is nou besig om navorsing te doen oor die punte wat betwis word. 

TLU Sentraal stel ‘n lys saam van persone wat reeds dispute met die munisipaliteit oor eiendomsbelasting verklaar het of wil verklaar en dié lys gaan aan die Openbare Beskermer deurgegee word.  

Tshwane Munisipaliteit mag dan geen aksie - soos aanmanings stuur, opdragte vir afsnyding en oorhandiging aan prokureurs - op dié rekeninge neem nie. 

Eise
Volgens Mike Strange van die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging (MBGV) het die MBGV op verskeie geleenthede met Kungwini Munisipaliteit onderhandel en is rabatte aan hoewe-eienaars toegeken, maar slegs vir diegene wat dit in die spesifieke belastingjaar geëis het. Dit kon nie terug gedateer word nie.

Vir meer inligting oor die MBGV se veldtog, besoek www.mbpanet.com. Kontak TLU Sentraal se Lynette du Plessis by 012-804-8031 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of bel Prof Daan Prinsloo by 082-899-1519.