Luiperd verslind troetelhond Print
News - Aktueel
Thursday, 21 January 2010 16:45
Untitled Document

’n Uitgevrete luiperd het hom in die Bronberg, vlak by die woongebiede van Zwavelpoort, Olympus en Faerie Glen, tuisgemaak en reeds minstens een troetelhond verslind.

Dit is nie duidelik of dit dieselfde dier is wat onlangs in Tierpoort gesien is nie. Ouer inwoners van die gebied meen dat ’n luiperd jare reeds in die omgewing van Zwavelpoort en Shere bly.

Spore wat in die berg gekry is dui daarop dat die luiperd tussen die poort van Zwavelpoort in die ooste en die berg agter Faerie Glen in die weste beweeg.

In die vakansietyd ná Kersfees het die groot kat ’n Jack Russel van Danie van Hengel van Zwavelpoort gevang en verslind. Danie en sy gesin, wat teen die suidelike hang van die berg woon, was toe met vakansie. Danie se buurvrou, Denyse van Hoepen, sê dat Danie se honde een laatnag vreeslik geblaf het. Sy was bekommerd omdat drade in dié tyd ’n paar keer geknip is en kwaaddoeners in die berg opgemerk is.

Die volgende oggend het sy die werker wat Danie se plek opgepas het, Joshua, gebel om te hoor of alles pluis is. Joshua het gaan ondersoek instel en later laat weet dat een van die honde, die Jack Russel, weg is. ’n Soektog is na die hondjie op tou gesit. Later is net die hondjie se kop teen die noordelike grens van Danie se plot in die berg gekry.

Denyse en haar dogter, Liana, het groot voetspore oral in die omgewing gekry. Die voetspore was baie groter as dié van Denyse se Rottweilers en het volgens haar ’n “blompatroon” gehad. Liana het foto’s van die spore geneem en dit is deur kenners en voorbeelde op die Internet bevestig dat die spore aan ’n luiperd behoort.


Die luiperd val maklik aan as hy bedreig voel

Liana en Denyse het die berg agter die hoewe gefynkam en nog spore op verskillende plekke opgespoor. Hulle het op ’n boom afgekom wat volgens Liana vir haar na ’n “luiperdboom” gelyk het. Toe hulle nadere ondersoek instel het hulle duidelike krapmerke teen die stam en spore onder die boom gekry.

Luiperds is die aanpasbaarste van al die groot katte.Dit is algemeen bekend dat hulle ’n voorliefde vir die smaak van mak honde ontwikkel as hulle natuurlike prooi skaars word.

Vroeër is baie bobbejane, nog ’n gunsteling prooi van die luiperd, in die Bronberg aangetref, maar hulle het verdwyn. Die groot dassietroppe wat enkele jare gelede nog volop in die berg was, berghase, ystervarke en kleiner boksoorte is so te sê uitgeroei, grootliks weens die stel van wippe en strikke in die berg. Redelike groot troppies blouape word nog in en om die berg aangetref.

Mense is nie normaalweg op die luiperd se spyskaart nie, maar luiperdaanvalle op mense is redelik algemeen. Dit gebeur gewoonlik as die luiperd gejag word of bedreig voel.

Mensvreters onder luiperds is skaars. Dit gebeur wel in gevalle waar die luiperd oud of verswak word en nie sy natuurlike prooi meer kan baasraak nie. Dit kan ook gebeur waar die natuurlike prooi uitgeroei is.