Het jy gehoor? / Have you heard? - Jan 2012 Print
News - Het Jy Gehoor
Wednesday, 25 January 2012 07:44
Untitled Document

Bekende broers van die Bronberg-gebied, Leo en Lex Middelberg, is die agterkleinkinders van die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoor Maatschappijen (NZASM) se hoofingenieur. In Desember se artikel ‘Stoomtrein van toeka hervat sy historiese roete’ het ons genoem dat Gerrit Adriaan Arnold Middelberg die bekendste inwoner van die NZASM-huis was. Gerrit het in 1890 mededirekteur van die NZASM geword. Hy het tot in 1899 saam met sy vrou, Leopoldina, en gesin in Pretoria gewoon.

Nadat die gesin na Nederland terug is, het Leo en Lex se oupa ook ingenieurswese gaan studeer. Hy het by die spoorweë in Suriname en Indonesië gewerk, waar Leo en Lex se pa gebore is. Ná die Tweede Wêreldoorlog het hulle pa, ‘n mediese dokter, na Suid-Afrika geïmmigreer om hier te kom sendingwerk doen. Vandag is Lex die raadslid vir wyk 91, wat strek van die Rietvlei Natuurreservaat, Rietvlei View, Grootfontein, Mooikloof, gedeeltes van Zwavelpoort en Olympus tot by Woodhill Gholf Landgoed.

xxx

Nié sommer ‘n gewone martelpyp dié nie. Duidelik (for sho) is baie ure se puntenerige werk ingesit om van dié trapfiets ‘n meesterstuk die maak – met sy eie klankstelsel, nogals. Die ewe blink eienaar sê hy sal dit verkoop teen R3 500, en niks minder nie. Die fiets en sy eienaar is van Rayton se wêreld.

xxx

Al ooit gehoor van ‘n 41-jarige perd wat steeds elke dag diens doen by ‘n ryskool? Deon van Rensburg van Mooiplaats het laat weet dat Toby so ‘n perd is. Toby is by die ryskool op die plot waar Deon bly. Hy sê dat Christene van die Western Shoppe in Wapadrand dié perd al van kleins af ken. Ons gaan meer probeer uitvind oor Toby se jong dae en sal lesers op hoogte hou.

xxx

Tannie Patsy Greybe van ‘n ouetehuis in Die Wilgers het in Desember ‘n opgedateerde weergawe van haar kookboek uitgebring. In ‘Resepte van gister’ het sy al die reseppies van haar oorlede moeder, oumas en tantes verewig. Die boekie begin met al die ou tafelgebede wat van geslag na geslag oorgedra is. Behalwe vir die kosresepte is daar ook ‘n afdeling oor Boererate, inmaak en preservering, en resepte vir vloeibare seep, skoonmaakmiddels vir koperware, politoer en handeroom. Vir meer inligting skakel 012-991-8080 of stuur ‘n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

xxx

Safari Blommeklub, ‘n nie winsgewende klub wat een maal per maand bymekaar kom, se amptelike opening vir die nuwe jaar en Valentynsdagviering is op Woensdag 1 Februarie om 9 vm vir 9.30 vm by die Safari Tuinsentrum op die hoek van Lynnwoodweg en Rubidastraat. Janine Grobler van Laugh SA gaan die gaste vermaak met lagterapie. Enige iemand is welkom. Jy hoef nie blomme te kan rangskik nie; die enigste vereiste is dat jy van blomme hou en die samesyn geniet. Die koste is R50. Vir meer inligting, bel vir Ethel van der Merwe by 082-659-8548.