Volksmuseum vir kultuurskatte in aanbou Print
News - Artikels
Tuesday, 26 February 2019 06:14
Untitled Document

‘n Volksmuseum, -biblioteek en -argief is op Kleinfontein Kultuurdorp in aanbou.

Andries Breytenbach, voorsitter van die Kleinfontein-museumkomitee, sê dat dié kultuur- en erfenissentrum opgerig word om erfenisgoedere te bewaar, inligting vir navorsing beskikbaar te stel en besoekers voor te lig.

By ‘n onlangse werkswinkel van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het ‘n deskundige oor museums in Suid-Afrika gerapporteer dat ongeveer 50 kultuur­historiese museums in ons land oor die afgelope 20 jaar tot niet gegaan het.


Bouwerk tot dusver. Die voltooide gebou sal ‘n tweede vlak hê
Foto’s: Verskaf

Voorts word voorsien dat binne 10 jaar nog 50 kultuurhistoriese museums nie meer sal bestaan nie; en binne 20 jaar ‘n verdere 48 kultuurhistoriese museums hoog waarskynlik nie meer sal bestaan nie.

Andries sê dat die paar oorlewende plekke oorvol is en nie die items wat elders uit museums verwyder word, kan huisves nie. Kosbare kultuurhistoriese artefakte, wat in private besit is, gaan verlore omdat die eienaars daarvan sterf of hulle kinders geëmigreer het.

‘n Soortgelyke toestand ontwikkel in Suid-Afrikaanse biblioteke. Andries sê dat baie mense wat oor kosbare private boekerye beskik, dit graag wil nalaat wanneer hulle na kleiner wo­nings verhuis of te sterwe kom. Die beoogde biblioteek sal sulke boeke en nuwes van gehalte huisves en vir navorsers, skoliere en universiteitstudente beskikbaar stel.


Voorstelling van die voltooide sentrum

Kos­bare private bronnemateriaal lê onder stof in motorhuise en pakkamers en vele daarvan het al op vullis­hope beland. Argivalia van dié aard is dikwels oorspronklik en onvervangbaar.

Wanneer argiewe tot niet gaan of funksionarisse en ampsdraers wat vanaf hulle private wonings werk, te sterwe kom, word dit deur onkundige persone as “oud” en “waardeloos” beskou, opgeruim en weggegooi.


Die gedenknaald vir die Boere met die begraafplaas vir Britse soldate laer af teen die helling op Kleinfontein

Andries sê dit is belangrik dat daar ‘n behoorlike bewaringsplek geskep word. Die geraamde koste vir die aanvanklike oprigting en inrigting van die kultuur- en erfenissentrum op Kleinfontein is nagenoeg R4 miljoen.

Die bouwerk word in fases uitgevoer namate fondse beskikbaar word omdat die museumkomitee geen rentedraende lenings wil aangaan om die sentrum op te rig nie.

Almal word uitgenooi om daaraan deel te neem.


Toegang tot Kleinfontein Kultuurdorp

Die museumkomitee is kragtens die Wet op Nie-winsbejagte Organisasies geregistreer. Dié komitee is op 27 Julie 2015 gestig. Sy konstitusie is op 20 Oktober 2016 onderteken en aanvaar en daar is met bedrywighede begin.

‘n Bestuur word jaarliks verkies. Vanjaar se bestuur is: Voorsitter, Andries Breytenbach; ondervoorsitter, ds Lood van der Merwe; sekretaresse, Marie le Roux; en finansiële beampte, Louisa Jooste.

Die museumkomitee het Johan Swart van Mooiplaats aangestel om die sentrum te ontwerp. Johan het 41 jaar professionele er­varing as argitek. Hy was die ontwerper en projekbestuurder van die Klapperkop Fort-monu­ment en verskeie ander museum­projekte.


Andries Breytenbach, voorsitter van die Kleinfontein-museumkomitee

Die sentrum word binne-in Kleinfontein kultuurdorp, ’n beskermde omgewing met toegangsbeheer, opgerig. Dit is op die historiese terrein waar die Slag van Donkerhoek in Junie 1900 plaasgevind het.

Dit is maklik bereikbaar vir toeriste en is langs die N4-snelweg en die Cullinan-Kempton Park-pad (R515).

Vir meer inligting, bel voorsitter Andries Breytenbach by 012-802-4285 of 082-322-6590 of stuur ‘n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .