Sy werk haarself dood om kos op ons tafels te sit Print
News - Artikels
Tuesday, 25 June 2019 09:31
Untitled Document

Wêreld Byedag is op 20 Mei gevier om erkenning te gee aan die rol wat bye as bestuiwers in die ekostelsel speel en om hulle bedreiging onder mense se aandag te bring. Daar is diegene wat sê dat hierdie eintlik ‘n andersoortige vrouedag is, omdat alle werkerbye vroulike bye is.

Steriele heuningbywyfies sorg dat plante kruisbestuif word met plante van dieselfde spesie. Met die heen-en-weer vlieg van blom tot blom versamel baie plante se stuifmeel in die stuifmeelmandjies aan die wyfie se agterpote.

Die wyfies verorber nektar, wat in hulle heuningsak, wat ook hulle tweede maag genoem word, in heuning verander word. Nektar, wat uit sukrose bestaan, word na glukose en fruktose omgeskakel deur die ensiem invertase.

Dié werkerwyfies het ‘n tromp (Proboscus) waarmee hulle die vloeistof in ‘n sel in die korf plaas. Deur verdamping word dié vloeistof gekonsentreer tot minder as 18% water en meer as 82% suiker. Ná dié verdamping word die sel met was verseël. Werkerwyfies  skei die was op ’n sekere leeftyd uit deur ’n reeks kliere aan die agterlyf.

Mense gebruik byewas vir die maak van produkte soos salwe en kerse. Nog ’n produk van die heuningby is bywerk (propolis), ’n harsagtige stof wat bye van die blomknoppe en groeipunte van plante versamel om hulle korf steriel, infeksievry en waterdig te hou. Dit bestaan uit 60 persent hars, 30 persent was en 10 persent stuifmeel en ander stowwe.

Navorsers het bevind dat ’n kolonie heuningbye met hulle antimikrobiese propolis ’n soort sosiale immuniteit skep, wat beteken dat individue nie ’n sterk immuunstelsel hoef te hê nie. Propolis hou glo vir mense ook gesondheidsvoordele in.


Die heuningby, Apis mellifera
Foto: Wikipedia

Kolonie
‘n Byekolonie is in wese ‘n super-organisme en soos met ander samelinsekte bestaan hulle samelewings uit kastes of groepe, wat elkeen hulle eie take het. Daar is drie soorte individue: die mannetjies of hommels; die werkerbye wat almal steriele wyfies is; en die vrugbare koningin. Die wyfie-werkers het uit bevrugte eiers ontwikkel en die mannetjies uit onbevrugte eiers.

Werkers: Dié is ‘n groep van tot 60 000 steriele wyfies wat nie ‘n lêboor het om eiers mee te lê nie. In plek daarvan het sy ‘n gifangel sodat sy die nes kan verdedig. Haar doel is om die koningin en dié se eiers en larwes te versorg.

Hommels: Dié is ‘n groep van omtrent 1 000 mannetjies wat nooit enige werk verrig nie en ook nie angels het nie. Hulle kan glad nie vir hulle self sorg nie en word deur die werkers onderhou. ‘n Hommel se enigste taak is om met die koningin te paar. Vir dié doel ding hy met ander mannetjies mee en as hy suksesvol is, kos dit hom sy lewe omdat sy endofallus (penetrerende deel) uit sy lyf geruk word en deur die volgende mannetjie voor paring uit die koningin se liggaam verwyder word. Terloops, alle hommels word in die winter uit die nes geskop om buite te vrek.

Koningin: Sy is ‘n bevrugte wyfie wat elke dag van haar een- tot sewe-jaar-lange lewe meer as 1 000 eiers kan lê. Reeds op larwe-stadium word ‘n paar prinsesse uitgesoek en spesiaal met koninginjellie gevoer. Wanneer die eerste kroonprinses uitbroei, maak sy die ander prinsesse dood en word die korf se nuwe koningin. Sy het nie ’n stuifmeelmandjie aan die agterpote soos die werkerwyfies nie.

Bruidsvlug
Wanneer die kroonprinses die ander prinsesse doodgemaak het, vlieg sy as koningin na ‘n versamelplek waar duisende hoopvolle mannetjies wag. Die eiers wat sy vir die res van haar lewe lê, word bevrug deur die sowat 90 miljoen sperma, wat sy ná haar bruidsvlug in haar liggaam bewaar.

Die koningin lê haar eiers in die heksagonale of seskantige selle in die  korf. Die werkerby-larwe verskyn drie dae later en word vir die eerste drie dae met koninginjellie gevoer. Van dag vier af kry hulle net stuifmeel en heuning, anders word hulle prinsesse.

Ná agt dae is die larwe volgroeid. Sy vervel ‘n paar keer tot sy haar in ’n sykokon toespin en ’n papie word, waarvan die sel geseël word. So rus sy ‘n paar dae voor die volwasse wyfie die wasseël oopbyt en binne ‘n paar ure daarna as verpleegsterby begin werk.

Vir die volgende 20 tot 40 dae gaan sy haarself letterlik doodwerk. Dis nou as sy in die somer gebore word. In die winter, wanneer die hommels uitgeskop word, is daar nie soveel werk nie en kan sy tot 140 dae lank lewe.


’n Heuningby vol statiese elektrisiteit vlieg met stuifmeel in haar stuifmeelmandjie
Foto: redfeatherfarm

Take
Haar eerste take as werker binne in die korf bestaan uit skoonmaak en die voer van larwes. Sy skei later was af vir die bou van selle en die seël van larwesselle. Ander take sluit in die regulering van die korftemperatuur tussen 33⁰ en 36⁰ Celsius, die beskerming van die kolonie en die verwerking van die nektar en stuifmeel wat ander werkers terug bring korf toe.

Sy is net die laaste agt tot tien dae van haar lewe ‘n veldbytjie wat self stuifmeel, nektar en water korf toe aandra. In dié tyd kan sy met ’n snelheid van 25 km/h vlieg. Sy ruik met die haartjies op haar voelers en haar reuksintuig is 100 keer meer sensitief as dié van ‘n hond.

Sy het twee groot saamgestelde oë, elk met 3 000 lense. Daar is ook drie klein ogies wat ‘n driehoek vorm om haar te help met akkurate navigasie.

Die werkerwyfie se agterpote het haartjies wat twee stuifmeelmandjies vorm, waarin sy die stuifmeel korf toe vat. Daar is fyn haartjies op haar lyf wat vibreer wanneer sy vlieg en ‘n statiese lading opbou. As sy op ‘n blom land, “spring” die stuifmeel op haar. Sy vee dit met haar voorpote af en pak dit in die stuifmeelmandjies.

Slim
Die heuningby se brein is glo digter as die van enige ander insek. Dit is ongeveer 1 kubieke mm groot, met bykans ‘n miljoen neurons, waar ‘n vrugtevlieg net omtrent 250 000 neurons het. Dié breinkrag is nodig vir kommunikasie in die hoogs sosiale ontwikkeling van ‘n swerm. Die kommunikasie is deur kontak-feromone wanneer nektar van die veldby na ‘n korfwerker oorgedra word. Terugkerende werkers doen ook ‘n wiggeldans, wat die afstand en rigting van die voedselbron aandui.

Intussen regeer die koningin die byekorf . Sy doen dit deur ’n spesiale geurstof, of feromoon, te produseer wat sy deur die hele korf versprei om die werksters se geslagsontwikkeling te onderdruk.

Wanneer sy te oud word om dié feromoon uit te strooi, neem die werkers glad nie die korf oor nie. Inteendeel, hulle begin dadelik ’n klompie nuwe prinsesse kweek. ’n Heersende koningin verkies soms om die nes met ’n deel van haar onderdane te verlaat om ’n nuwe korf elders te vestig. Haar plek in die ou nes word deur die eerste nuwe prinses ingeneem.

Spesies
Wêreldwyd is meer as 16 000 byespesies opgeteken, terwyl daar dalk nog soveel wag om beskryf te word. Die familie Apidae, orde Hymenoptera, sluit alle bye in wat heuning vervaardig maar gewoonlik word die term tot die gewone heuningby, Apis mellifera, beperk.

In Suid-Afrika is daar twee soorte heuningbye: die Kaapse heuningby, Apis Mellifera Capensis, en die Afrika-heuningby, Apis Mellifera Scutellata. Die Kaapse heuningby kom in die winterreënvalgebied voor en die Afrika-heuningby in die somerreënvalgebied.

Volgens die Verenigde Volke, wat Wêreld Byedag ingestel het, is drie uit elke vier soorte landbougewasse wat wêreldwyd vrugte of sade vir menslike gebruik verskaf, van bestuiwers afhanklik.

Bestuiwers beïnvloed 35% van alle landbougrond en ondersteun die produksie van 87 van die wêreld se voorste voedselgewasse.

Indringer-insekte, plaagdoders en moderne verbouingspraktyke hou so ‘n groot gevaar vir bestuiwers, en spesifiek vir bye in, dat daar in Desember 2017 besluit is om Wêreld Byedag jaarliks te vier. Die vieringsdatum is die geboortedag van Anton Janša, die byeboer-pionier wat op 20 Mei 1734 gebore is.

Die Verenigde Volke sê dat ‘n beleid ingestel moet word om bestuiwers te beskerm en dat so ‘n beleid biologiese plaagbeheer moet bevorder en die gebruik van plaagdoders moet beperk. Hulle sê dat samewerking tussen internasionale organisasies moet toeneem en dat akademiese en navorsingsinstansies en netwerke moet saamwerk om bestuiwers te monitor, na te vors en te evalueer.