Bestaan daar iets soos ‘n ‘beetboom’? Die Greylings van Mooikloofrif het vroeg in Desember iets geplant wat hulle gedink het beet is, maar die plantjie het aanhou groei en het binne ‘n kort ruk 2,5 meter hoog gestaan.
Elize Greyling vertel dat sy buite met beet gewerk het. “Ek het seker van die beet op die grond laat val, want ’n rukkie later het daar ’n klein beetplantjie opgekom.”
Graft Greyling aan die einde van Januarie by die ‘beetboom’
Foto’s: Elize Greyling
Elize se man, Graft, het die plantjie na die voortuin verskuif. Skielik het die plant teen ’n baie vinnige tempo begin groei. Teen die einde van Januarie het Elize ’n foto van Graft by die plant geneem en ingestuur, maar sy sê die plant groei steeds.
Teen die Bronnie se saktyd op 12 Februarie het die ‘beetboom’ 2,5 meter hoog gestaan en bo-aan meer rooierige blare uitgestoot
Die blare lyk soos beetblare
“Kan dit waar wees? Party mense vertel ons dis onkruid,” sê Elize “maar die blare en stingel is tog duidelik beet. Is daar dalk iemand wat dit kan verklaar?”
Die kenners sê dat beetplante nie baie groot word nie omdat die wortels so 3–7,5 cm breed word, afhangende hoe naby jy die plante aan mekaar plant. Beetplante word gewoonlik slegs so 70 cm hoog.
|