‘Stem van Afrika’ luider in wyfie Print
News - Ons Omgewing
Monday, 25 March 2019 05:21
Untitled Document

Die roep van ’n visarend is so kenmerkend dat dit as die ‘stem van Afrika’ bekend staan. Tog weet min mense dat die wyfie se roep harder en skriller is as dié van die mannetjie. Die wyfie is ook effens groter as die mannetjie.

Visarende word binne en buite die broeiseisoen as pare gesien. Hulle vat net een lewenslange maat en deel selfs mekaar se prooi. Dié roofvoëls vreet hoofsaaklik vis, meestal lewendig, maar soms dood, en hulle kragtige kloue is aangepas om glibberige prooi vas te vat. Daar is spesiale strukture aan die tone wat dié vasvat makliker maak.

Visarende vreet egter nie naastenby net vis nie. Hulle vang gereeld watervoëls, selfs voëls so groot soos flaminke, en sal nie huiwer om hoenders op ‘n plaaswerf te vang nie. Dan sal hulle ook paddas, akkedisse, waterskilpaaie en selfs baba-krokodilletjies vang. Elke nou en dan vang dié voëls ook soogdiere soos dassies en ape.


In vlug
.

’n Visarend vang ‘n vis
Foto’s: Wikipedia

Gaps
Visarende pas kleptoparasitisme toe en steel gereeld ander voëls se prooi. Die reusereiers staan ’n redelike persentasie van hulle vangs aan visarende af.

‘n Visarend word meestal gesien waar hy hoog in ’n boom sit met ’n goeie uitsig oor ’n stuk water. Die voël duik dan in die water om ‘n vis met sy kragtige kloue op te raap en daarmee weg te vlieg. Tog is dit nie al manier waarop dié arende jag nie.

As die visarend prooi vang wat meer as tien keer sy eie liggaamsgewig is, kan hy dit nie uit die water lig nie. Hy sleep dié prooi dan oor die water se oppervlak tot hy die wal bereik. As die prooi te swaar is om so te sleep, sal dié arend nie huiwer om op die water te gaan sit en met sy vlerke tot by die naaste wal te ‘roei’ nie.

Wanneer daar genoeg prooi is, kan ’n broeipaar se gebied 2,5 vierkante km water groot wees. Met min prooi kan die paar 24 vierkante km of meer benodig. Baie broeipare bly die hele jaar in een gebied, terwyl ander rondtrek om die nat weer te vermy.


Die visarend het ‘n kaal, geel gesig

Wit
Die visarend, Haliaeetus vocifer, het ’n wit kop met die uitsondering van sy veerlose gesig, wat geel is. Die oë is donkerbruin. Dié voël se bors is wit en hy het ’n bruin pens en hoofvlerke. Hy het swart en bruin ondervlerke en ’n wit stert.

Die geslagte lyk eners, behalwe dat die wyfie groter is. Volwasse voëls word 63–75 cm hoog. Wyfies weeg 3,2–3,6 kg met ‘n vlerkspan van 2,4 meter en mannetjies weeg 2.0–2.5 kg met ‘n vlerkspan van 2 meter.

Onvolwassenes is uitkenbaar aan hulle algemene donkerbruin kleure met wit strepe op die kop en keel, wit vlekke op die slagvere en die diagnostiese wit stert met donker band aan die punt.


Die nes kan tot twee meter wyd en 1,2 meter diep wees

Broei
Visarende broei in die droë seisoen wanneer watervlakke laag is. Paartjies hou dikwels twee of meer neste in stand, wat hulle dikwels hergebruik. Omdat daar oor die jare aan die neste aangebou word, kan hulle baie groot word – tot twee meter wyd en 1,2 meter diep. Die nes word in ‘n groot boom geplaas en word meestal uit stokkies en ander stukke hout gebou.

Die wyfie lê een tot drie eiers, wat grootliks wit is met ‘n paar rooierige spikkels. Die wyfie doen die meeste van die broeiwerk, maar die mannetjie neem sy plek op die nes in as die wyfie gaan jag.

Die eiers broei binne 42 tot 45 dae uit en, anders as baie ander spesies, moor die kuikens mekaar nie uit nie. Die ouers maak dikwels twee tot drie kuikens saam groot. Hulle kan begin vlieg as hulle 70 tot 75 dae oud is en is vir nog drie maande daarna van hulle ouers afhanklik.

Onvolwasse voëls is nomadies en hou in swerms weg van territoriale volwassenes. Dié wat hulle eerste lewensjaar oorleef, kan 12 tot 24 jaar oud word.