Wilde dagga teen slangbyt en mak dagga vir beroerte PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 22 July 2011 23:13
Untitled Document

In toeka se dae is alle kranklikhede en kwale dikwels sommer direk uit die kombuistuin behandel. Die logiese neerskryfplek vir boererate en resepte vir vreemdsoortige konkoksies om mens en dier te behandel was in jou kookboek. Dit is daar waar jy sou lees dat wilde dagga help as jy deur iets giftig gebyt word en dat ‘mak dagga’ help vir beroerte.

Die eerste vrou wat seker gemaak het dat dié rate en resepte in Afrikaans neergepen word was Elizabeth Jane Dijkman. Haar kookboek, ‘Di Suid Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepteboek’ wat in 1890 deur die drukkers van ‘Die Afrikaanse Patriot’ gepubliseer is, was die eerste Afrikaanse kookboek.


Die omslag van die faksimilee-uitgawe van die eerste druk van ‘Di Suid Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepteboek’ wat in 1979 deur Human & Rousseau uitgegee is. Die eerste uitgawe was in 1890

Blitsverkoper
Die boek het in 'n groot behoefte voorsien en het ‘n blitsverkoper geword: binne twee jaar het drie uitgawes die lig gesien en uiteindelik is altesame 18 uitgawes beleef. Die tweede druk van die boek was in Julie 1891, die derde uitgawe van 6 000 eksemplare was in Februarie 1892 en met die vyfde druk sien 12 000 eksemplare die lig. In 1908 verskyn die agtste druk wat Elizabeth in Engels vertaal het as ‘Mrs Dijkman's Cookery and Recipe Book’.

Dié resepteboek was tot die verskyning van mevrou DJH se ‘Oranje kook-, koek- en recepten-boek’ in 1906, die enigste gedrukte Afrikaanse resepteboek wat die herinnering aan tradisionele boerekos lewend gehou het in ‘n samelewing wat oorheersend Engels was.

Afrikaans
Elizabeth het besluit om die resepte en rate wat sy oor ‘n tydperk van 25 jaar in die Afrikaner-gemeenskap opgeteken het, in Afrikaans uit te gee omdat die behoefte aan so ‘n boek, met die beproefde rate vir verskeie kwale daarin, volgens haar groter was onder boere op afgeleë plase waar dokters nie gekom het nie.

‘Di Suid Afrikaanse Kook-, Koek- en Resepteboek’ was geskryf in die taalformaat en spelling van die eerste Afrikaanse koerant - ‘Die Patriot’ - in die tyd toe Elizabeth se man, die sendeling, Jan Hendrik Dijkman, op die personeel van die Paarlse drukpers maatskappy gedien het. Met die handhawing van die spelling van daardie tyd is die boek van groot kultuurhistoriese betekenis. ‘n Mens kan die ontwikkeling in Afrikaanse spelling, wat van 1890 tot 1922 plaasgevind het, sien met die verskillende herdrukke van die boek.


Hoofstuk een van die kookboek begin met afdelings oor ‘Cocoa’, ‘Chocolaat’, ‘Om koffi te maak’ en ‘Om goeie tee te maak’

Boererate
Tog is dit nie die vreemdsoortige spelling of die kosresepte wat dié boek so gewild maak onder versamelaars nie. Dit is die boererate wat mense se monde vandag in stille verstomming laat oophang.
Kyk net ‘n bietjie na die kuur vir beroerte. “Di sike mak dagga laat rook; en as hy ni self kan rook ni, dan kan ‘n ander di rook in zijn mond in blaas tot syn tong los gaan, dan kan hy self rook.”

Die beroerte-pasiënt kan ook ‘n mespunt sout op die nugter maag met ‘n “wynig water” kry. Daar word aanbeveel om “Di lyer nie op te lig nie, hou die kop koel met kompresse, mosterd plysters op di kuite en terpentyn onder di voete te smeer, ‘n mespunt epsensout, 3 maal op ‘n dag met water te drink.”

Tandpyn
Die volgende word aanbeveel vir tandpyn: “Drink 'n bietji kamfer, sit 'n pluisi met parafine oli in die tand en oor, sit 'n mosterdpleister aangemaak met wit van eier, agter di nek, en een op di ellenboog op dieselfde kant waar die tand seer is.”

Stinkkruid, sê sy, help vir stuipe en as die kinders “wirms” het, sal 'n koppie stinkkruidsaad, eiers en meel help. Die raad om van “litwurms” ontslae te raak is as volg: Die pasiënt moet die vorige aand vas en die volgende oggend ‘n stukkie brood in die mond neem om die wurms na bo te lok. Dan moes ‘n “sopii” brandewyn geneem word om hulle dronk te maak en dit moet opgevolg word met “jalap pergasi”.


Die 14de verbeterde ‘edisi’ van die kookboek is in 1910 deur Paarl Drukpers uitgegee. Die stofomslag dra ook ‘n advertensie vir CA Harris & Co – ‘Kleermarkers en Buitenlandse Fancy Winkel’

‘Ferstopping’
Diegene wat aan “ferstopping” ly kan genees word deur “pille fan kasterolie en heuning” soos ‘n rooi boontjie te maak. Dié pille moet “in fondament” gesit word.

Suurlemoene was een van Elizabeth se wondermiddels. Suurlemoene help vir slapeloosheid en hardlywigheid en geklits met die wit van 'n “yer” help dit om “de stem te versterken”. Saam met borsdruppels, roulynolie, gliserien, 'n eier en heuning is suurlemoen goed vir hoes. Meng suurlemoen met donkerbruin suiker tot 'n stroop en sit dit met 'n “katfel op di bors” vir kroep.

Om “bloed te stop fan ‘n sny of wond”, gebruik “fars” perdemis of terpentyn en sout. Fyngestampte neutmuskaat en wyn moet daarna opgesit word. “Neem aluin en di wit fan ‘n yer, geklits tot dit geheel dikword en met ‘n fiirdubbel doek op di bloedwond geleg.”

Vir “buitengewone dikte” beveel sy die volgende aan: “As jy wens dunner te wees, kan jy wilde (of berg) seldery op brandewyn laat trek, en saans ‘n sopi daarfan drink, mens kan dit ook met water of wijn gebruik. Dit is ‘n sterk middel, jy kon dit ferflou tot dit goed is.  Dis fer mans.”

Diere
Daar is ook baie boererate vir diere. Vir “hondesiekte” beveel sy lou melk waarin terpentyn gemeng is, aan. Om hom te ent teen die siekte sit jy gereeld so 'n bietjie skoon teer agter op sy tong.

Perde wat papies kry moet vir 'n paar dae 'n bottel “menswater” saam met ‘n paar knoffelhuisies inkry.

Vir brandsiekte is daar ‘n paar oplossings. Neem 25 pond goeie tabak en trek dit in 100 gallon water. Alternatiewelik meng jy swawel en ongebluste kalk en dip die dier daarmee. Brandsiek bokke en skape kan met walvistraan of vet, waarby paraffien en swawel gevoeg word, gesmeer word.

‘n Bees met longsiekte moet ‘n half koppie teer, ‘n half koppie lampolie en ‘n half koppie balsemkopiva inkry. ‘n Os wat pisgoed onder lede het kry ’n handvol wit wortelsaad, met ‘n bietjie roosmaryn en pimpernel, met ‘n fles wyn, sterk gekook.


Kookboekskrywer Elizabeth Jane Dijkman en haar sendeling-man, Jan Hendrik
Foto: Afrikanerkultuurdagboek

Oog
Blindheid by skape word toegeskryf aan 'n klein wurmpie in die oog. Hiervoor is daar ‘n hele klomp rate soos om glas of volstruisdoppe fyn te maal en in die skaap se oog te gooi. Andersins moet jy die aar onder die skaap se oog oopsny en dit laat bloei waarna die as en twak van ‘n ou pypstopsel daaraan gesmeer word. Jy kan die blinde oog ook met ‘n mengsel van sout, tabak en stinkblaarolie, wat as treksel deur ‘n doek gedruk is, was.

Beksiekte kan by skape behandel word deur suurlemoen, terpentyn of paraffien aan te smeer. Vir dronksiekte word skape behandel met twee onse kamfer in twee wynglase brandewyn.

Selfs die welsyn van volstruise het in dié afdeling aandag gekry. Elizabeth sê dat klein rooi wurmpies die oorsaak kan wees as die voëls sieklik en maer word en “harde klonte afgaan”. Behandel die volstruis met “Carbolsuur - een en ‘n half ons, terpentyn 1 do, ongekookte Lynoli 8 do, die mengsel goed geskud voor ingé”.

Elizabeth
Elizabeth Jane Eckley is in 1840 in London gebore as dogter van ‘n Engelse seekaptein. Sy is in 1841 in London gedoop. Haar vader het hom eers aan die Kaap en later op Worcester gevestig.

Daar het Elizabeth met ‘n Hollandse sendeling, Jan Hendrik Dijkman wat in die 1840’s na Suid-Afrika gekom het, getrou. Die jong egpaar het vir 12 jaar op Hermon sendingwerk gedoen, waar hulle met ses kinders deur swaar jare geleef het. Hulle het later na Tulbagh verhuis en het hulle in 1880 in die Paarl gevestig.

Elizabeth is op 5 Mei 1908 op Wepener in die suid-oos Vrystaat oorlede. Dit is op dié dorp waar haar seun, Jan Hendrik Dijkman, op die ouderdom van 19 jaar skoolhoof geword het. Met die onderbreking van slegs 15 maande in die Anglo-Boere-oorlog was hy vir 44 jaar skoolhoof op Wepener.