Dr Nico het my lewe gered Print E-mail
News - Briewe
Sunday, 17 November 2013 20:41
Untitled Document

Cobus du Plooy van Rietfontein 76, distrik Rayton skryf:
Ek het dr Nico Kriek net een keer gesien so agt jaar gelede, maar dit was genoeg vir hom om my lewe te red. Ek het longontsteking opgedoen toe my gereelde huisdokter op verlof was en het sodoende by hom uitgekom.

Ek het ook ’n geswelde klier in my nek gehad wat deur verskeie spesialiste ondersoek en biopsies laat doen is oor ’n periode van ’n jaar. Daar is ek voorgeskryf om gereeld met soutwater te gorrel.

Dr Nico het my longe gou gesond gedokter, maar het my ook met fermte by nog ’n spesialis uitgekry vir my nekkliere. Ek is met klierkanker gediagnoseer en met die hulp van nog ’n pragtige mens en wonderlike dokter, Jackie Thomson, het die Here my volkome genees.

In die ses jaar wat ek nou al skoon toets, sê ek gereeld dankie vir die twee besondere mense in my gebede omdat ek deur hulle die kosbare tyd gegun is om ’n positiewe uitwerking op my 15-jarige seun se mensvorming te kan hê. My eie pa is oorlede toe ek nege jaar oud was en ek sal alles wat ek besit met plesier gee om net ’n paar dae met hom as volwassene te kon deurbring.

Baie dankie, dr Nico. Rus in vrede.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger